top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 1 Junie 2022

Koos Espach


Petrus en Johannes voor die Joodse Raad (1)


Wêreldsbelange vs Godsdiens


Hand. 4:1-3 – “Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm. Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ‘n werklikheid geword het. Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre.”


Vergelyk ook Matt. 13:11 – “Jesus het Sy dissipels geantwoord: ‘Aan julle is die gelykenisse gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.”


Petrus en Johannes was steeds besig by die Pilaargang van Salomo met lering en verkondiging van die evangelie. Hulle het veral gefokus op dít wat Jesus gedoen het tydens Sy aardse lewe en veral Sy opstanding uit die dood proklameer. Die godsdienstige leiers van die Jode was egter glad nie beïndruk met Pertrus en Johannes se “vreemde” leerstellings wat hulle verkondig nie, en gevolglik storm die “priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle af en neem hulle gevangene, gooi hulle in die tronk sodat hulle die volgende môre” verhoor kan word.


Veral die Sadduseërs, was erg ontsteld deur die verkondiging van die opstanding uit die dode, waaraan hulle nie geglo het nie. Hulle was die aristokratiese en welgestelde klas van die volk. Hulle moes hulle welgesteldheid beskerm en het daarom met die Romeine saamgewerk sodat hulle belange en aansien nie dalk deur ‘n paar apostels se leringe, in gedrang kom nie. Reeds uit die Evangelies is dit duidelik dat die Joodse leiers ook vir Jesus kwalik geneem het dat Hy as Leermeester opgetree het en só, hulle plek ingeneem het, waardeur hulle invloed by die volk ondermyn is (Matt. 7:29; Joh. 7:15, 46). Dieselfde gesindheid kom ook hier tot openbaring. Dit sou verregaande van veral twee Galileërs, Petrus en Johannes, wees om hulle die funksie van leermeesters van die volk aan te matig.


Die wêreldsbelange van die godsdiensleiers van die volk was vir hulle meer werd as om die waarheid van die evangelie te hoor, of selfs iemand anders toe te laat om daarna te luister. Die Sadduseërs kon dit nie duld dat hierdie twee eenvoudige apostels sulke uitsprake in, veral die tempel, die domein waar hulle die septer swaai, maak nie. Maar, dit is nie elkeen wat sal verstaan dat die apostels se leer van God af kom nie. Jesus se gelykenisse wat Hy vertel het, is aan die twaalf dissipels “gegee om die geheimenisse van die koninkryk te ken.” Dit is God wat die hart gereed maak om dit te verstaan – die gesindheid van die mens, die gesteldheid van elke individu se innerlike ontvanklikheid van die hart, hang daarvan af.


Jesus se volgelinge het Hom op ‘n keer gevra: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?” Jesus het ge-antwoord: “Julle moet glo in Hom wat My gestuur het” (Joh. 6:28-29). Kort daarna sê Jesus: “Iemand moet gewillig wees om die wil van God te doen en dan sal hy weet dat (Jesus) se leer van God af kom." (Joh. 7:17). Om “gewillig te wees om die wil van God te doen” gaan om die innerlike gesteldheid van ons hart teenoor God en sy Gestuurde. Die implikasie hiervan is dat Jesus, God se Gestuurde, ons Vryspraak is, die Heiliging en die Verlossing, ons Wysheid – “Jesus het vir ons geword die wysheid wat van God kom” (1 Kor. 1:30).


Ware wysheid is nie in die mens self geleë nie, dit is ‘n Persoon: Jesus Christus! Hy ís die Wysheid “wat van God af kom” en slegs diegene wat met Jesus verenig is, het die Wysheid gevind. Hierdie wysheid word nie op een of ander manier verwerf nie, dit kan nie êrens gekoop word nie, dit is aan God te danke – deur God se genade is dit verkrygbaar by Hom: “Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid” (Job. 28:12).


Die Wysheid se woonplek het oopgegaan en uit die geopende hemel het die Wysheid neergedaal na die aarde toe om mens te kom word (Joh. 1:14), en sodoende die mens te kom vind, wysheid aan hom of haar te gee “om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken.” God kom bied Sy wysheid vandag en elke dag vir my en jou aan. Al wat ons moet doen is om Hom daarvoor te vra, en te glo dat Hy dit vir ons sál gee. Ek en jy, het egter die keuse of ons hierdie wyshede wil ontvang, al dan nie. Hou vas aan die Wysheid wat van God af kom.


“Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig” (Spr. 9:10).


Gebed: Here, U weet presies hoeveel foute ek daagliks maak en onoordeelkundige dinge ek kwytraak. Vergewe my asseblief. Help my om by U te leer deur U Woord te bestudeer om insig te verkry want ek glo dat “wanneer U woord vir my oopgaan, bring dit lig en dit gee insig aan my wat nog onervare is” (Ps. 119:130). Here, ek wil naby U lewe sodat U Gees van wysheid my sal leer en onderrig. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page