top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 30 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se (tweede) toespraak in die Pilaargang van Salomo (8)


Wie Jesus Christus se stem ignoreer, stuur op ‘n ramp af


Hand. 3:21b-23 – “Petrus het die mense toegespreek en gesê: ‘Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ‘n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sê. Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.”


Tussen die eerste en tweede koms van Jesus sal Hy in die hemel wees, waar Hy aan die regtehand van die Vader sit van waar Hy die wêreld regeer, tot die wederoprigting van alle dinge, soos dit letterlik in die Grieks staan, of, totdat God alles nuut gemaak het. Die uiteindelike doel van Sy heerskappy is die onderwerping van alle magte wat God vyandiggesind is: “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood” (Op. 21:8).


Vervolgens moet met hierdie herstel van alle dinge, gedink word aan die vervulling van al die profesieë. God het van die vroegste tye af deur die profete gespreek, wat daarin bestaan dat die koninkryk van God in sy volle gestalte opgerig word, ook op aarde. Aan die hand van Deuteronomium 18:15-20, haal Petrus aan wat Moses, in teenstelling met die heidense waarsêers en valse profete van daardie tyd, aan die volk beloof het dat “God uit hulle geledere ’n Profeet sal laat voortkom soos wat hy was,” d.w.s. ’n Profeet wat werklik in die Naam van God sal spreek en na wie hulle moes luister. Petrus sien hierdie profesie in Jesus vervul as dié Profeet by uitnemendheid.


Moses leer ons baie van geloof en die skrywer van Hebreërs staan ’n paar keer oor hierdie onderwerp, by Moses stil. Moses het geweet as hy bly waar hy is, sal dit lekker gaan. Om in die huis van die farao groot te word, bring baie voordele. Hy sal vir die res van sy lewe soos ’n prins lewe en alles geniet wat daarmee saamgaan. Hy sal nooit ’n steek werk hoef te doen nie en al die wêreld se lekker sal op skinkborde aangedra word vir hom, te kies en te keur.

As Moses egter sou kies om gehoorsaam te wees aan God se opdrag vir sy lewe, gaan dit nie so rooskleurig wees nie. Maar, sonder om twee keer te dink, het Moses geweet “dit sal vir hom baie beter wees dat daar op hom getrap word ter wille van die Redder wat sou kom, as om al die skatte van Egipte te hê. Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het” (Heb. 11:26). Hy het uitgesien na ‘n beter toekoms, want hy het geglo in ‘n lewende God!


Ou Moses het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk, as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Hiervoor haal ek my hoed vir Moses af en ek wonder skaam of ek dit sou gedoen het. As ek na my eie omstandighede kyk, wonder ek of ek nie al te diep vasgesuig het in die lekker van die wêreld nie? Sal ek hierdie lewe vaarwel roep, die lekker opgee, en toelaat dat ek op getrap word? Sal ek uit die gemakstoel opstaan en op die harde vloer gaan sit? Sjoe! Iets om oor te dink né! En jy?

Pastoor Wayne Cordeiro vertel hoe hy na China toe is om vir 22 leiers opleiding te gaan gee. Die leiers het 17 ure gereis om almal saam in ’n baie klein kamertjie vir drie dae, nege ure per dag, op die grond te sit om opleiding te ontvang. Hy vra hulle wat sou gebeur as hulle daar gevang word en hulle antwoord: “Jy sal dadelik gedeporteer word en ons sal drie jaar tronk toe gaan.” Hy vra toe vir hulle wie van hulle was al in die tronk? Agtien van hulle steek hulle hande op! Wayne deel die 17 Bybels uit wat hy saamgebring het. Vyf kry nie. Die een tannie gee haar Bybel vir die een langs haar. Wayne vra haar hoekom sy dit dan weggee? “Want,” sê sy, “ek het dit nie nodig nie. Ek het omtrent die hele Bybel gememoriseer.”


Aan die einde van die opleiding vra die leiers dat Wayne asseblief vir hulle moet bid, sodat hulle ook kan word soos die kerke in Amerika waar hulle openlik kerk toe kan gaan en so die Woord kan verkondig. Hierop antwoord Wayne: “Ek sal dit nooit doen nie. Want julle ry ’n trein vir 17 ure om hier uit te kom, maar in my land kom die mense nie as hulle meer as ’n uur moet ry nie. Julle het vir 9 ure per dag op ’n koue houtvloer gesit vir drie dae. As die mense in my land meer as 40 minute op sagte kussings moet sit, staan hulle op en loop. As die stoele nie gemaklik is en daar nie lugversorging is nie, kom hulle glad nie. In my land is daar gemiddeld twee Bybels per gesin, wat nie een gelees word nie. Maar julle memoriseer die Bybel!”

Wayne sluit af en sê: “Ek sal nie bid dat julle soos ons kerk word nie, maar eerder dat ons soos julle word!” Omdat Moses geglo het, het hy gekies om op getrap te word. Hoe sterk is ons geloof? Sterk genoeg om ons kruis op te neem? Hoe lekker leef ons eintlik, só lekker dat ons vasgeval het in ons eie lewe? Tot hoe ver sal ons opoffer?


“Daar lê ‘n groot gevaar in gemaklike godsdienstige gerustheid wat God eerbiedloos benader. Saam met hierdie eerbied verdwyn ons verwondering oor Hom, en saam met die verwondering, ons gehoorsaamheid” (HJ Kraus).


Gebed: Jesus, ek sê ek sal alles vir U doen, maar sal ek regtig? Hierdie storie het my aan my hart gegryp. Ek sal nog hieroor moet dink. Gee my krag om nie moed op te gee nie. Gee my krag om U te gehoorsaam. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page