Gedagte vir Vandag
Maandag, 23 Mei 2022
Koos Espach
Petrus se (tweede) toespraak in die Pilaargang van Salomo (3)
Glo in die lewende Jesus Christus
Hand. 3:16 – “Petrus het die mense toegespreek en gesê: ‘Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.
Christelike geloof kom op verskillende maniere tot verskillende mense. Die manier waarop dit kom, is nie altyd belangrik nie, maar dat dit wel moet gebeur, is baie belangrik. En dit is die gesindheid wat ons hier by Petrus kry. Dit is nie hy wat die verlamde man gesond gemaak het nie, ook nie sy eie krag of vroomheid wat die wonderwerk laat gebeur het nie. Dit was geloof wat die lewende Here Jesus alleen kan gee, “wat die man volkome herstel, hier voor hulle almal.”
Partymaal wonder ek hoekom die geloofspaadjie so steil is, want daar word beslis nie ’n maklike pad gewaarborg vir dié wat vir Jesus volg nie. Inteendeel, dit gaan baie maal so erg dat ek bang is die bootjie val om. Nee, nog erger! Dit voel vir my soms of die bootjie reeds omgeslaan het en ek enige oomblik deur die waters ingesuig gaan word. Miskien het die samelewing waarin alles in ’n kits opgelos kan word, ons verleer om swaarkry te hanteer. As jy siek is, pop jy ’n pil. As die geld skraps is, vul jy ’n vorm in by die bank – of bankbestuurders verhoog sommer jou kaartlimiet sonder dat jy aansoek doen – en dan koop jy maar weer verder.
Vir enige probleem is daar ’n kitsoplossing. Maar wanneer ons op God se lewenspad swaarkry, is daar nie kitsoplossings nie. Daar is nie pille en vorms wat alles regmaak nie. Nee, dit is ’n pad waarin ons geloof tot die uiterste getoets word. Sommige mense se paaie is net meer besaai met swaarkry as ander. Tog moet die swaarkry ons nie onderkry nie. Dit moet ons ook nie mismoedig maak nie. Nee, dit moet ons eintlik aanvuur, want God stap saam met ons op die pad. Deur die swaarsleep is Hy besig om aan my en jou te werk en ons sal vir seker anders wees wanneer ons aan die anderkant uitkom.
Maar dit is dit nie maklik nie en dit voel soms vir baie van ons soos goedkoop troos. Dit is ook dan tye wat selfs die mooiste Bybelversies nie eers wil help nie. Terwyl ons so swaarkry, wil ons nie dinge hoor soos dat God ons aan die regtrek is sodat ons meer en meer soos Jesus kan lyk nie. Dit is net té swaar en té seer en kort voor lank, gooi ons tou op.
Dit is juis dán wanneer ons weer moet dink wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het en besef, ek en jy kan maar beslis weet dat Hy ons té lief het om ons te los. Ek meen, net in die 23 toesprake wat in die boek Handelinge opgeteken is, is die onderwerp feitlik sonder uitsondering, dat “God Hom uit die dood opgewek het” (v. 15a). Dit is die verklaring vir die krag wat daar in die Naam van Jesus opgesluit is: Hy leef! Hy het nie net in die apostels se gedagtes of verbeelding geleef nie. Hy leef werklik, hulle was getuies van Sy opstanding (v. 15b). Hy leef nog stééds en Hy is God. Daarom is niks vir Hom onmoontlik nie.
Ek en jy moet net die geloofstap neem om die Woord van God te glo. God het gesien dat ons nie sterk genoeg is om op ons eie gelos te word nie. Daarom het Hy ‘n Helper, Sy Heilige Gees, vir ons elkeen gegee om in ons te werk, saam te swoeg, saam te leer om ons by God se droom vir ons elkeen se lewe uit te kom. Die werk van die Gees is om ons te help op die pad van heiligmaking. As ons vir Jesus in ons lewens innooi, is ons ongelukkig nie ewe skielik heilig nie. Dis ’n lang pad, ’n lang proses waardeur ons moet gaan met ontsettend baie opdraandes. Dis ’n groeiproses waarin ons leer hoe om al hoe meer heilig te lewe, m.a.w. ons raak stukkie vir stukkie van die gemors van die wêreld ontslae sodat ons meer en meer soos Jesus lyk.
Ons moenie mismoedig raak nie. Onthou net dat swaarkry en lewenstoetse deel is van die pakkie en nie onderhandelbaar is nie. En ongelukkig is daar nie ’n vinnige pil wat ons daarvoor kan sluk nie. Daar is nie ’n vormpie wat ’n mens kan invul en jou lewe kan normaal aangaan nie. Ons moet berus by die feit dat God met ons werk en ons moet bly glo dat Hy die beste weet. Ons moet weet dat ons ook hierdeur sal kom en dat God ons nooit alleen sal laat nie. Ons het nie al die antwoorde nie. Swaarkry tref orals en sonder aankondiging. Maar, “die geloof wat van Hom kom, sal ons ook volkome herstel.” God sal saam met my en jou daardeur. God sal selfs deur sy Gees, die negatief in ’n positief omdraai. Hou uit. Hou aan. Veg voort.
“’n Lewende geloof is noodsaaklik in die wêreld waarin ons leef. Wanneer alles rondom ons in duie stort, moet ons onwrikbaar glo dat die wêreld nog aan God behoort” (CS Lewis).
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my nooit alleen los nie. Ek weet U stap elke tree saam met my op hierdie swaarkry pad. Dankie vir U Heilige Gees wat U vir my as geskenk gegee het. Dankie dat Hy my bemoedig en aanhou help om te glo. Amen.
Comments