Gedagte vir Vandag
Donderdag, 7 April 2022
Koos Espach
Jesus se hemelvaart (1)
Die Oorwinnaar vaar op
Hand. 1:9-11 – “Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: ‘Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”
In sy Evangelie vertel Lukas hoe Jesus sy apostels uit Jerusalem tot by Betanië saam met Hom geneem het. Daar op die Olyfberg het Hy hulle vir die laaste maal geseën en is Hy in die hemel opgeneem, (Luk. 24:50-53). Hier voeg Lukas by dat Jesus hulle verseker van die “krag wat hulle sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle sal kom om Sy getuies te wees ...” (v. 8)
Jesus kon nie vir ewig as mens, by hulle of op die aarde gebly het nie. Sy menswording het Hom nie net fisies beperk in die konteks van ‘n wêreldwye sendingopdrag nie, maar Sy hemelvaart en verheffing in die hemel was nodig sodat die Heilige Gees na die aarde kon kom. Jesus se werk op aarde was voltooi – dit is volbring. Hy is deur Sy volk verwerp; het gesterf aan ‘n skandkruis; in ‘n graf neergelê en ter helle neergedaal.
Maar nou vaar hierdie Jesus op as magtige Oorwinnaar. Hy het satan met al sy bedrog verslaan; die sonde aan die kruis vernietig; die vrees van die ewige dood vermorsel en die verskrikking van die hel tot niet gemaak. Sy Vader sou binnekort die Heilige Gees stuur, wat die apostels in staat sou stel en hulle sou lei in ‘n sendingopdrag om die eindes van die aarde te bereik. En wat van al die ander mense daarna, ons mense van die een en twintigste eeu, en mense tot met Jesus se wederkoms?
Elkeen wat biddend bely: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde,” bely daarmee dat God ook ons God en Vader is. Oral in sy Woord is die belofte dat ons die saligheid ontvang, nie omdat ons so goed is, of iets verdien nie, maar omdat God ons in Christus liefhet met ‘n onbegryplike en ewige liefde en ons Sy kinders genoem word: “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, voordat die wêreld geskep is, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees” (Ef. 1:5).
Elkeen wat biddend bely: “Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God,” klink die refrein dat “God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê" (Joh. 3:16). Ek en jy is dus Sy kinders!
Elkeen wat biddend bely: “Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gesterf het en begrawe is ...” weergalm dit soos ‘n hemelkoor: “Julle moenie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek ...” (Matt. 28:5). Ja, Jesus is nie meer in die graf nie en daar is geen ander plek wat ons kan beweeg waar Hy nie is nie. Waar ons ook al beweeg en wat die omstandighede ook al mag wees – ons sal nooit weer kan sê: “Hy is nie hier nie.”
Elkeen wat biddend bely: “Wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God...” beaam die engele jubelend ons geloof en verseker ons dat “hierdie Jesus wat van (ons) af na die hemel toe opgeneem is, net so sal terugkom soos (ons) Hom na die hemel toe sien opgaan het.”
Nou vra die engele vir die dissipels en sluit ons daarby in: “Waarom staan julle so na die hemel en kyk?” Dis asof die engele vir ons wil sê: “Van nou af hoef ons nie meer te kyk nie, maar wandel in die geloof. Ons hoef nie meer na die geheimenisse van die hemel te kyk nie, daar is werk om te doen.” Ons geloof mag nie van ons onpraktiese dromers maak nie. God het ons met ‘n doel op die aarde geplaas en Hy roep ons om ons taak getrou te voltooi. Wanneer hierdie Jesus “net so terugkom soos (ons) Hom na die hemel toe sien opgaan het,” gaan “elkeen van ons oor hom- of haarself rekenskap moet gee” (Rom. 14:12). Verskonings vir ons selfgesentreerdheid gaan hol klink. “Ek was te besig,” gaan die verkeerde antwoord wees!
“Ek wou by my naaste verbyskuur, ek was bang dat hy eise aan my sou stel waaraan ek in my selfsug nie wou voldoen nie. Maar toe ek vlugtig opkyk in sy gesig, sien ek deur sy oë die oë van Jesus Christus wat na my kyk” (Berta Smit).
Gebed: Here, gebruik my as U ambassadeur hier op aarde. Skenk aan my die wysheid om die regte beslissings te maak en gee aan my die genadegawe van nederigheid om in U heilige Naam en tot U eer alleen, ‘n getroue getuie van U reddende genade te kan wees. Amen.
Comments