top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 28, 2022
  • 3 min read

Dinsdag, 1 Maart 2022

Koos Espach


Die Emmausgangers (1)


Jesus stap graag saam wanneer ons hoop verpletter is


Luk. 24:13-35 – “Op dieselfde dag (Sondag) was Kleopas en sy metgesel op pad na ‘n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken ...”


Om by die waarheid en feite rondom Jesus se opstanding aan te sluit, voel ons genoodsaak om Lukas se aangrypende vertelling van Jesus se dagreis saam met twee ontnugterde mense op pad van Jerusalem, terug na Emmaus, ook iets by te voeg. Alhoewel Lukas nie Kleopas se metgesel se naam noem nie, is dit waarskynlik sy vrou Maria. Hulle drome het saam met Jesus gesterf! Soos die meeste ander mense in die Israel van hulle dag, het hulle gehoop op iemand wat hulle van die Romeinse politieke oorheersing sou verlos en hulle weer vryheid kon ken. “Hulle het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos” (Luk. 24:21).


Maar toe het die kerkleiers Hom laat kruisig! “Kleopas en sy metgesel” het baie vrae gehad. Dit is nou al die derde dag sedert Sy dood. Het God hulle dan wéér in die steek gelaat? Was hierdie Jesus dan ‘n bedrieër? Asof dit nie erg genoeg is nie, het ‘n paar vroue vroeër daardie Sondagoggend kom vertel dat Sy graf leeg is en Hy opgestaan het uit die dood. Maar wie kan hierdie vrouens glo? Was Hy dan regtig ‘n misleier? Dit is onmóóntlik dat Jesus wie se liggaam só stukkend was, ooit lewend kon word.


Terwyl hulle besig was om die sonsondergang in te stap terug na Emmaus, sluit ‘n Reisiger by hulle aan en Kleopas blaker sy teleurstelling en wanhoop aan Hom uit. Toe hulle klaar hul verydelde hoop wat verpletter is, met die vreemde Reisiger gedeel het, het Hy begin praat. Die twaalf kilometer word sommer gou korter, want hierdie Man het God se Woord vanaf “Moses en al die profete en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê” (v. 27). By Emmaus aangekom, nooi Kleopas Hom om by hulle oor te bly want die dag is verby.


Aan tafel “neem Jesus die brood, vra die seën, breek dit en gee vir hulle” (v. 30). Dadelik het hulle oë oopgegaan en hulle herken Jesus, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Stephan Joubert sê dit so mooi: “Jesus het hulle oë oopgeëet in Emmaus.” Hulle het nie eers verder geëet nie, opgestaan en die twaalf kilometer terug na Jerusalem, haastig afgelê om die dissipels te gaan vertel wat met hulle gebeur het. Met ‘n splinternuwe boodskap van hoop op die twee Emmausgangers se lippe, is hulle deur die dissipels en ander wat daar bymekaar was, met dieselfde woorde begroet: “Die Here het opgestaan!”


Van daardie dag af, stap ons Christene nie meer die sonsondergang tegemoet nie. Saam met Jesus by ons is dit nie die dag wat daal nie, maar ‘n nuwe dag wat breek. Jesus ontmoet hierdie twee Emmaus-mense op hulle laagtepunt. ‘n Nuwe lewe ontwaak egter by hulle toe Jesus Sy voete onder hulle tafel ingesteek het. Jesus omskep hulle lewe van duisternis, ontnugtering en teleurstelling, in nuwe hoop en lig.


Jesus het hulle gehelp om dinge vanuit ‘n ander perspektief te sien – en Hy wil dieselfde vir my en jou doen. Hy is elke oomblik bereid om saam met ons te stap, brood te breek en ons splinternuut weg te stuur. Ons moet net gereed wees om ons voete onder Sy tafel in te steek. Die Jesus van die destydse Emmaus wil vandag vir my en jou ook die goeie nuus gee, nuus wat ons “harte warm laat word wanneer Hy die Skrif vir ons uitlê” (v. 32), nuus wat ek en jy met ‘n brandende begeerte met ander moet deel en getuig: Hoop is blywend omdat God daarin is!


“Hoop is die onwankelbare sekerheid dat God se beloftes sal realiseer – gegrond nie op ydele wens nie, maar op die werklikheid van die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus” (Tissa Balasuriya).


Gebed: Heilige Reisiger en Heiland, dankie dat ek mag hoop omdat ek in U glo. Dankie dat die vlam van hoop helder in my brand ongeag my teleurstellings, stukkende drome en ideale, omdat ek kan staatmaak op U teenwoordigheid en liefde. Dankie dat U bereid is om U voete onder my tafel in te sit. Dankie dat Uself my hoop is. Help my om met nuwe hoop en ‘n brandende begeerte vir ander te vertel: U, die lewende Here, wil dieselfde vir hulle doen. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page