Gedagte vir Vandag
Maandag, 28 Februarie 2022
Koos Espach
Die berig van die wagte (1)
Die keerpunt
Matt. 28:11-15 – “Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld gegee en gesê: ‘Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het. En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.’ Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.”
Na die buitengewone gebeure by Jesus se graf, is die ooggetuies haastig op pad – die vroue na die dissipels en die wagte na die priesterhoofde toe. Romeinse wagte wat aan diens aan die slaap raak, kon tereggestel word. Hulle haas hulle dus na die priesterhoofde wat gevra het dat die graf bewaak moes word om te verduidelik wat gebeur het. Hulle het presies dieselfde as die vroue gesien en beleef, maar die priester- en familiehoofde reageer egter anders as die dissipels op dit wat hulle hoor.
Met groot onrus in die hart moes die priester- en familiehoofde verneem dat hulle vrese bewaarheid is. Soos in die verlede, span hulle weer met sataniese bedoelinge saam om die boodskap oor die feit van Jesus se opstanding net daar in die kiem te smoor. Joodse omkoopgeld word hier gebruik om 'n leuen oor die leë graf, die wêreld van Matteus se tyd in te stuur. Die priester- en familiehoofde kies hulle ou gebaande weë van omkopery, leuens en beswaddering. Die kerkmense van Matteus se tyd daal só laag om die dissipels van grafrowery te beskuldig – ‘n oortreding wat destyds met die dood strafbaar was.
Dit is opmerklik hoe satan se leuen-boodskap saam met die ware Evangelie die wêreld ingestuur word. Soos die Evangelie vandag nog die wêreld met die saligmakende kennis versterk, so poog die leuen om die goeie van God se hand in menselewens opnuut te verwyder. Matteus bevestig dat wanneer hy sy Evangelie opteken, hierdie vals gerug oor die opstanding nog onder die Jode in omloop is – ‘n hewige strydpunt steeds vandag, tussen die stoere Jode en Jode wat Christene geword het.
Waarheid is egter: Die graf is leeg. Jesus het nie net lewendig geword soos wat Lasarus (Joh. 11), Jaïrus se dogtertjie (Matt. 9:25) en die weduwee van Naïn se seun nie (Luk. 7:11-17). Hulle is later weer dood. Jesus was die dood in, maar Hy het nie weer uit die dood teruggekom nie. Hy het die dood deurgegaan en “anderkant” uitgekom. Hy sal nie weer sterf nie: “Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie” (Rom. 6:9). Volgens die Bybel waarin ek en jy glo, het die opgestane Jesus Christus daarna, elf keer aan enkelinge en groepe mense verskyn voordat Hy in die hemel opgeneem is.
Skindertonge het Jesus in die wêreld verwelkom – die Kind van ‘n maagd en ou Josef die timmerman, nóóit! En ‘n aardbewing verwelkom Hom uit die dode. “Hierdie verdagte Baba het uiteindelik die aarde laat bewe” skryf Ferdinand Deist, want God was aan die werk. God het ‘n skinderveldtog in ‘n heerlike Evangelie omskep: Jesus het opgestaan! Mense het Sy opstanding met bedrog probeer doodskinder, maar die keerpunt is dat Jesus geen graf het nie, Hy het net ‘n plek daar in ‘n tuin in Jerusalem waar Hy vir drie dae gelê het – Hy het opgestaan soos Hy gesê het – ek weet, ek was binne daardie graf, dit is léég. Ek kon dit vóél, en ek glo baie ander mense ook, Jesus hét opgestaan!
Jesus het op daardie opstandingsmôre, vir my en jou wat Sy opstanding glo, ‘n nuwe moontlikheid kom skep. ‘n Moontlikheid dat ons op 28 Februarie 2022, ook kan lewe, al sê die skindertonge dat dit onmoontlik is – as ons gesterf het, is ons vir ewig dood. Met die verskynings aan verskillende mense, het Jesus seker gemaak dat Hy aan my en jou ook daardie versekering gee: Hy leef, Christus leef! Ek en jy kan jubel oor Sy opstanding. Ons kan vir die skindertonge van die wêreld gaan sê dat Hy leef, en ons wat glo in Hom, leef saam met Hom!
“Die Christelike geloof is ‘n opstandingsgeloof. Die konsep van opstanding uit die dood vorm die hart daarvan. Neem dit weg, en jy vernietig die hele Christelike geloof” (John Stott).
Gebed: Opgestane Heiland, ongelowiges het vals berigte van U opstanding probeer versprei, maar dankie vir die gawe van geloof in U opstanding wat U skenk. Dankie dat ek met oortuiging mag bely dat U leef. Dankie dat U opstanding uit die dood vir my die ewige lewe moontlik maak. My lewe eindig nie by ‘n Saterdaggraf in ‘n tuin in Jerusalem nie, maar by ‘n Sondagopstanding. Versterk my elke dag in hierdie belydenis. Amen.
Commenti