top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Feb 24, 2022
  • 4 min read

Donderdag, 24 Februarie 2024

Koos Espach


Jesus het opgestaan (7)


Ons kan Jesus se opstanding nie bewys nie, net glo


Luk. 24:5b-7 – “Toe sê die engele vir die vroue: ‘Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”


Vergelyk ook Joh. 20:6-7 – “Petrus het die graf ingegaan en die doeke daar sien lê, ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol.”


Daar is vandag allerhande teorieë oor wat werklik met Jesus in die graf gebeur het. Die sogenaamde “kenners” beweer dat Sy dissipels Hom iewers tussen Vrydagaand laat, en vroeg Sondagoggend uit die graf gaan haal het en herbegrawe het. Ek wonder hoe het hulle verby die soldate gekom wat die graf bewaak het, én die seël ongesiens gebreek het? Adrio König vra interessante vrae oor die doeke waarna Johannes verwys: “Indien die teorieë dan reg is, hoekom sou die dissipels die doeke afhaal as hulle Jesus se liggaam gaan herbegrawe het? Jesus kon dit ook nie self oprol nie. ‘n Dooie kon nie die doeke afhaal as hy weer lewendig geword het nie, soos ons met Lasarus gesien het (Joh. 11:44). Veeleer skyn dit asof daar regtig Iemand by Jesus in die graf was en die doeke ordelik gerangskik het om as teken van Sy opstanding uit die dood te dien.”

Die krag van Jesus se opstanding is die krag van ons gelowiges se weergeboorte! Paastyd is opstandingstyd, vernuwingstyd. Die krag van Jesus se opstanding is dieselfde krag wat ons vrees, (soos die soldate), en ons ontnugtering, (soos die vroue), wegneem. Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy nie net die dood en satan oorwin nie, maar al ons lyding, swaarkry, dinge wat die lewe vir ons ondraaglik maak, oorwin en daar, saam met die doeke, by Sy graf gelos!


En dit is die kern van ons geloofsbelydenis: God leef! Hy leef ondanks die geskiedenis en mensgemaakte teorieë. God leef ondanks die lyding, ondanks die dood en ondanks die doderyk. “Hy het die dood en doderyk deur-leef” sê Ferdinand Deist. God is nie net anderkant dié dinge nie, Hy is déúr hierdie dinge. Hy het my en jou paadjie hier op aarde kom loop (Joh. 1:14) en gesterf én Hy het opgestaan. As dit nie so was nie, het God ons bedrieg. Wel, as jou God dood is, neem tog myne! Ons hoef nie “die Lewende by die dooies te soek” nie, Hy leef! “Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6); Hy het waarlik opgestaan! “Hy is die Opstanding en die Lewe” (Joh. 11:25).


As mens vandag ‘n besoek aan Jerusalem bring, is een van die mees belangrikste besienswaardighede ongetwyfeld die tuingraf waar, volgens oorlewering, Jesus vir drie dae begrawe was. Dit was vir ons ‘n aangrypende ervaring om in die graf wat in ‘n groot rotswand uitgekap is, self in te stap en te besef dat dit wat van Jesus oorgebly het, nie meer in die graf is nie, dit is leeg. Daar is geen liggaam van Jesus wat êrens in Jerusalem gebalsem lê nie of ‘n klompie bene wat in ‘n kleiner kissie geplaas is nie! En wanneer mens die graf verlaat, is daar teen die deur, wat intussen die verweerde groot rotsklip, vervang het, geskrywe: “He is not here, for He is risen”, dieselfde woorde van ons teksvers vandag. Dit het my tot trane gedryf, trane van blydskap want saam met miljoene ander gelowiges glo ons dat die leë graf van Jesus, die ware verhaal vertel van die Evangelie.


Jesus se leë graf is ons troos. As die finale dood ons bestemming was, sou my en jou lewe sinneloos wees. Omdat Jesus leef, kan ek en jy ook leef, al gaan ons liggaam sterf. Dit is ons hoop in hierdie troostelose wêreld. Daarom bely alle Christelike kerke dat ons “glo in die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe.” Ons lewende Jesus ván die kruis, nie áán die kruis nie, is die waarborg.


Ek en jy en die kerk van Jesus in die ganse wêreld, het vandag twee keuses in die getuienis aan die wêreld: Om te glo dat Jesus opgestaan het uit die dood en dit nie vir ons nodig is om “die Lewende by die dooies te soek nie”, of om dié waarheid te ontken, te ignoreer of weg te redeneer. Ek weet wat ek reeds gekies het – ek glo dit met my hele lewe. Jesus se opstanding maak van my ‘n mens wat vas glo in die krag van die Allerhoogste. En in Sý krag, pak ek die lewe aan. Christus het die pad van die dood en opstanding vóór my geloop. In Sy hande voel ek veilig! Wat kies jy?


“Alle stoflike dinge kry ewigheidswaarde omdat ons Here vir altyd opgestaan het” (David Martyn Lloyd-Jones).


Gebed: Opgestane Here, ek buig in sprakelose aanbidding voor die wonder van U opstanding. Ek loof en prys U omdat ek U, die lewende Here kan aanbid. Dankie vir die heerlike versekering dat dié wat in U glo, nooit sal sterwe nie. Dankie vir die opstandingsgeloof. Ek wil daarin jubel – U lewe! Amen.

 
 
 

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page