top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 3 Februarie 2022

Koos Espach


Jesus sterwe (7)


Jesus se laaste woorde terwyl Hy sterf – Sy sewende kruiswoord


Luk. 23:46 – “Jesus het hard uitgeroep: ‘Vader, in U hande gee Ek my gees oor.’ Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.”


Dit is die einde van die marteling, en Jesus, alleen aan die kruis, praat vir die laaste keer. Eintlik is dit nie nodig om nou te praat nie, Sy Vader weet mos wat Hy dink? Jesus móés praat! Hierdie woorde was nie net vir God bedoel nie, maar ook vir almal, dit sluit my en jou, vandag, 3 Februarie 2022 in! Met hierdie laaste paar woorde sluit Jesus Sy aardse bediening af en laat sak Sy kop vooroor. Aan die kruis lê Hy sy kop neer; dit is Sy rusplek. En daar het Hy die laaste asem uitgeblaas (Joh. 19:30). Sy sterwenswoord is ’n oorwinningswoord wat sal bly voortklink tot aan die voleinding van die wêreld. Met hierdie daad neem Jesus Christus as volkome mens, afskeid van die lewe op aarde en vertrou Hy sy gees toe aan die Vader. Hy gee Homself oor in Sy Vader se hande en vertrou op Hom om oor Hom in die donker te waak tot die tyd aanbreek om Hom uit die dood op te wek.

Die sterwe van Jesus geskied volstrek strydig met die natuurlike gang. Gewoonlik sterf die gekruisigde as gevolg van volslae uitputting, bloedverlies en asemnood. Maar by Jesus was daar ’n finale kragsopenbaring en met ’n ontsagwekkende uitroep, gee Hy sy gees oor aan die Vader. “In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak” (Ps. 31:6), was die woorde wat elke vrome Jood van kleins af as deel van hulle aandgebed, opgesê het. Met daardie woorde vertrou elke Jood hom in die aand aan God toe, en sien hy uit na die ontwaking op ’n nuwe lewensdag nadat die nag verby is. Dit was dieselfde woorde wat Jesus se moeder Hom verseker ook geleer het en daarom kon Hy daardie Verskriklike Vrydag Sy “gees in die hande” van die Vader lê, “die laaste asem” uitblaas, met die wete dat Hy Sondag deur Sy “troue Vader”, weer gewek sal word.


Jesus bly tot aan die einde in beheer van sake. Hy weet Sy aardse take is voltooi en besluit self wanneer Hy gaan sterf. Jesus “gee Sy gees oor aan Sy Vader”, beteken Hy is nie ‘n slagoffer van Pilatus, die priesterhoofde óf die soldate, óf die volk nie. Hy bly waardig ten spyte van die onmenslike lyding. Sy vertroue in God bly onwankelbaar! Jesus se lewe is nie geneem nie, Hy lê dit op Sy eie af, Hy het dit gegee (Joh. 10:17). Ons kan ook met sekerheid ons lewe, ons gees, aan God gee, terwyl ons nog leef, én wanneer ons eendag sterf, want Jesus het daardie pad vir ons moontlik gemaak.


Dit is ‘n vaste wete en waarborg wat ons het om, soos Jesus, berusting en vrede te vind by God. Soos Jesus moet ek en jy ons in God se hande oorgee en saam met Paulus op God vertrou om ons in die nuwe lewe op te wek: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom. 8:38-39).


Paulus bevestig sy onwrikbare “oortuiging” dat geen enkele mag, wat dit ook mag wees, ons gelowiges sal kan skei van “God se liefde wat in Christus” geopenbaar is nie. Hy noem met die oog daarop, tien instansies wat ons gelowiges sou kon bedreig en benadeel en ons van Christus sou kon probeer skei. Ons kan self ook al die ander dinge wat ons bedreig en soos ‘n mislukking laat voel, byvoeg op Paulus se lys, die eindresultaat sal steeds dieselfde bly! Ons is bestand teen alle gevaar, omdat “die liefde van God ... in Christus Jesus ons Here” ons ondeurdringbare skild is. Jesus Christus is die “adres” waar God sy liefde aan ons bewys het. By Jesus Christus se “adres” is ook die enigste plek waar ons God se bewarende liefde kan ervaar! Enige ander plek of enigiemand anders, is die verkeerde adres!!!!


Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat dit ons eie voortreflikheid of ons briljantheid of standvastigheid of die oulike ek is, wat aan ons hierdie oorwinning besorg nie. Sou ons so dink, maak ons ‘n paar foute. ‘n Mens wil mos altyd ook ‘n aandeel in jou eie redding hê. Ons kan nie, of wil nie glo dat Christus Jesus klaar alles vermag het nie. Mense het steeds vrae oor God se liefde – meestal is dit omdat hulle God se liefde by die verkeerde adres soek – erkenning van mense, ‘n stewige bankbalans, goeie oeste, verhouding wat sal uitwerk, ideale wat verwesenlik sal word, enigiets wat jou sal help om ‘n vrypas hemel toe te kry. Dit bly steeds soeke by die verkeerde adres! God se heilsplan is genadiglik die eerste en grootste werklikheid van ons lewe en Sy Gees getuig kragtig van die Enigste Waarheid. Goddank dat God in die chaos van my en jou lewe met ‘n plan werk, ‘n verlossingsplan wat lewe gee – selfs aan die mees doodse bestaan of situasie!


“My lewe is onbenullig; die rede vir my bestaan is onduidelik; my belangrikheid in God se oë moet nul wees. My gebede is doods, my hart is dood, my liefde vir God is flou. Maar Hy, die lewende Here, het my lief, en gee daarom betekenis selfs aan my powere bestaan” (William Bridge).


Gebed: Dankie Jesus Christus, dat ek nie my eie geestelike potjie moet krap en vir myself hoef te leef nie. Dankie Gees dat U my in die waarheid lei en dat ek met sekerheid daaraan kan vashou. Dankie God dat ek deel is van U heilsplan en dat niks of niemand my van “die liefde van God ... in Christus Jesus ons Here”, kan skei nie. Here, gee dat ek nooit iets sonder U krag sal doen nie, dat ek so dwaas sal wees om te dink dat ek sonder U sal regkom nie. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page