top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 2 Februarie 2022

Koos Espach


Jesus sterwe (6)


Jesus se laaste woorde terwyl Hy sterf – Sy sesde kruiswoord


Joh. 19:30 – “Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: ‘Dit is volbring.”


Jesus het Sy lydingsbeker geledig. Hy het suur wyn ontvang as vogtigheid om Sy droë keel, wat moontlik deur koorsigheid veroorsaak is, nat te maak vir Sy laaste uitroep. Die Sinoptiese Evangelies vertel net dat Hy met ‘n harde uitroep gesterf het (Matt. 27:50; Mark. 15:37; Luk. 23:46). Johannes bevestig dat Jesus Sy heerlikheid gewys het toe Hy finaal ‘n einde aan die mag van die sonde en die dood gemaak het toe Hy gesê het: “Dit is volbring.” Jesus sterf nie van uitputting of in ‘n beswyming nie, maar Hy beskik oor die krag om tot aan die einde in beheer van sake te bly. Hy is nie maar die slagoffer van Pilatus en die skare nie, Hy besluit self wanneer Hy gereed is om te sterf.


Jesus se uitroep is ‘n triomfantelike verklaring dat Hy álles wat aan Hom opgedra was, volledig en volkome ten uitvoer gebring het. Met ‘n enkele uitroep: “Tetelestai!”, verklaar Jesus dat Hy die heilswerk wat die Vader van Hom verwag het, op aarde afgehandel het. Jesus se dood was nie iets wat met Hom gebeur het nie – iets wat moontlik voorkom kon gewees het nie, Sy dood was eintlik die rede waarom Hy aarde toe gekom het. Hierdie Griekse werkwoord, tetelestai, impliseer dat Sy taak waarvoor Hy aarde toe gekom het, klaar is. Dit is afgehandel, eens en vir altyd. Hierdie uitroep was verseker die heerlikste triomfkreet wat ooit in die ore van ‘n verbaasde wêreld weerklink het en die gevolge daarvan, nóóit sal ophou nie! Dit was die finale woord in die verlossing van die mensdom, die verlossing van jou en my en elke Christen-gelowige.


Jesus het na hierdie wêreld gekom met ‘n baie spesifieke opdrag: Om redding vir die mensdom te bewerk. Daar is by Hom geen onsekerheid hieroor nie. Hy het aan die eise van ons liefdevolle en regverdige God voldoen – ons sondeskuld is ten volle betaal toe Hy aan die kruis vasgespyker is. Geen gelowige in Christus hoef ooit weer te vra: “Wat moet ek nóg doen om gered te word?” nie, Jesus het “dit volbring,” volkome. Ons moet Hom net as Verlosser aanneem en in Hom glo: “As ek met my mond bely dat Jesus die Here is, en met my hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal ek gered word” (Rom. 10:9). “Dit is volbring.” Die stryd is vir altyd verby. Jesus het vir ons ‘n kanaal geopen hemel toe – God se genadehand is nou oop vir my en jou!


Ongelukkig is daar mense wat gevange gehou word deur hulle godsdiens – ‘n godsdiens wat gaan oor iets wat jy moet doen om jou god tevrede te stel; iets doen om sy of haar guns te wen; iets doen om te keer dat hy of sy jou straf; iets doen om seker te maak hulle sal vir jou goed wees – ‘n tipe van godsdiens-plus-nog-iets-doen. Ons Christengelowiges se God werk nie met ‘n sterretjiestelsel nie – “As jy nou die hele week mooi soet is en al jou godsdienstige takies korrek verrig, dan kry jy ‘n beloning Sondag!” Ons het klaar ons beloning ontvang, Jesus het daarvoor aan die kruis met Sy bloed betaal. As lewende offer het Sy liefde niks teruggehou nie. Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat u wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het” (Heb. 10:5).


God se wil staan vas. Reeds in Getsemane het Jesus al worstelende gebid: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matt. 26:39b). So het God se wil dus Jesus se wil geword. Daarom was Jesus se offer die volmaakte gehoorsaamheidsoffer: “Daarna sê Hy: ‘Kyk, Ek het gekom om U wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers, (diere-en graanoffers), af om ‘n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd” (Heb. 10:9-10). Jesus het nie halwe werk gedoen nie, “dit is volbring” en genoeg. Genoeg is genoeg, vir alle ewigheid! Die gesindheid wat in Jesus was, moet my en jou noop om gereed te wees en saam met Hom te sê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat my en jou gestuur het, en om sy werk te voltooi hier op aarde” (Joh. 4:34). Met ander woorde, ek en jy moet uit dankbaarheid vir wat Jesus vir ons gedoen het, ons toewy om soos Jesus in diens van God te wees!


“In his perfect manhood He offered the perfect sacrifice of the perfect obedience” (William Barclay).


Gebed: Dankie Jesus, dat U volkome aan God se eise voldoen het, dit volbring het, afgehandel het vir alle ewigheid en ek daardeur my beloning by U kon ontvang by die kruis. In dankbaarheid gee ek myself weer opnuut aan U. Help my om my lewenstaak op aarde uit te leef, ek met ‘n Christushart sal liefhê en my hande nie moeg sal word om U wil te doen nie. Laat ek elke dag ‘n brandoffer wees in diens van U liefde. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page