Gedagte vir Vandag
Donderdag, 27 Januarie 2022
Koos Espach
Jesus sterwe (2)
(Mark. 15:33-41; Luk 23:44-49; Joh. 19:28-30)
Jesus se laaste woorde terwyl Hy sterf – Sy tweede kruiswoord
Matt. 27:44 – “Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.”
Vergelyk ook Luk. 23:42-43 – Verder sê hy (misdadiger): ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Die veragting, verwerping en die beledigings reën spreekwoordelik onophoudelik op Jesus. Terwyl die soldate dobbel vir Jesus se onderkleed en van die raadslede en soldate Hom laggend spot, vertel Lukas ons dat een van die misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is, Hom ook gelaster het: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!’ Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: ‘Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.’ Verder sê hy: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’ (Luk. 23:39-43).
Die tweede misdadiger aan die kruis langs Jesus, wys dat hy nie met die ongevoelige spotters saamstem nie. Hy het geweet sy verdiende loon is op pad en hy verdien die ewige dood wat binnekort op hom gewag het. Hy erken Jesus se onskuld en Sy Messiasskap, hy weet dat Jesus nie noodwendig Homself moet red as Hy die Christus is nie.
Terwyl Jesus miljoene mense se sondelas op Sy eie skouers geneem het, maak Hy plek vir nog een en verbreek Jesus Sy swye. Hy gee die misdadiger die sekerheid dat hy die ewige lewe sal hê, ‘n belofte wat nie vir die verre toekoms bedoel is nie maar vir die onmiddellike hede, sonder ‘n tussentydse periode van afwagting. Hierdie misdadiger gryp letterlik met sy laaste lewensasem God se genade aan. Die misdadiger vra slegs ‘n gedagte, “dink aan my”, en hy kry ‘n paradys! Sy sterwensoomblikke was die beste van sy hele lewe!
In sy sterwensoomblikke kry hy die kans van ‘n ewigheid! Wat ‘n wonderlike voorbeeld van God se genade aan enigeen wat daarna soek! Die normale menslike reaksie sou wees om sy pleidooi te verwerp as té laat – “Sorry vriend. Jy het jou tyd verkwis op ‘n misdadige en bandelose lewe, en nou net voor jy sterf wil jy dinge regmaak. Dit werk nie so nie, jy is totaal onwaardig vir enige simpatie of troos!” Maar, by Christus is dit anders. Vir enigeen wat na Hom toe kom, sluit Hy die paradys oop uit Sy liefde en volmag as Koning van die koninkryk van God. Hierdie verlossing kan slegs deur Christus gebring word: “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand. 4:12).
Jesus gee vir ons sekerheid en sekuriteit – “Ek verseker jou: Vandag sal jy ... ” Jesus hang daar in die middel aan ‘n kruis, die middelpunt waar hemelse liefde en hemelse regverdigheid bymekaar kom. Selfs in Sy eie sterwensoomblikke, bly Hy enduit aan diens, vee Hy die poorte van die dood weg en vervang dit met die ewige lewe. Niemand is ooit te ver weg van God se liefde, genade en redding nie. Vir die een misdadiger was die kruis ‘n skande en twispunt, vir die ander die begin van ‘n nuwe lewe. Solank ek en jy asemhaal is daar nog hoop. Al wat God van ons vra, is geloof in Sy gekruisigde Seun. Ons kan enigiets met die houtkruis doen, behalwe om die gekruisigde Jesus te ignoreer. Die kruis dwing ons tot ‘n keuse: “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor. 1:18).
Soos die geval daardie dag was, is dit vandag steeds so. Dit is die geloof wat die onsienlike sien; wat die ongehoorde hoor; wat saam met Jesus in die paradys sal wees. Dit is nooit te laat om na Christus te draai vir verlossing nie. Afgesien van wie ek en jy is en wat ons gedoen het, Jesus wag vir ons met uitgestrekte arms om aan ons vergifnis te bied. Ons moet dit net met opregte berou in ons hart vra, ons sondes bely en ons lewe onvoorwaardelik aan Hom oorgee. Wanneer ons na Jesus Christus toe draai, ervaar ons Sy vergifnis, vrede en liefde en kan ons dit sommer saamsing: “Net soos ons is, ons wag nie meer; ons kom, hoe vuil, bevlek, o Heer, ons werp ons aan U voete neer” (Halleluja lied 202:2). Ek en jy moenie uitstel om Jesus Christus in die geloof aan te neem as ons Saligmaker en Verlosser nie! Hy bied ons Sy genade aan, vra Hom net. Die tyd is nóú!
“Ons moet na Golgota gaan om te sien wat dit gekos het om ons te vergewe; en dan by die Gekruisigde bly om te leer hoe ons moet vergewe” (Charles Spurgeon).
Gebed: Dankie Jesus dat daar by U altyd vir my genadetyd beskikbaar is. Dankie dat U vir my ook die pad na die paradys oopgemaak het, maak nie saak wat ek al in my lewe verkeerd gedoen het nie of wie en wat ek is nie. Here, ontferm U net so oor my en alle gelowiges in hul uur van angs, soos vir hierdie misdadiger. Amen.
Comentarios