Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 25 Januarie 2022
Koos Espach
Jesus word gekruisig (7)
Beskuldig en belaster – waarom?
Matt. 27:34 en 39-40 – “Daar het hulle Hom ‘n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: ‘Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”
Nie een van die Evangelies beskryf presies hoe Jesus gekruisig is nie. Lukas 24:39 en Johannes 20:25; 27 vertel ons wel dat Jesus aan Sy hande en voete aan die kruis met spykers vasgekap is. Uit verskeie bronne is dit bekend dat die kruiseling soms op die grond met spykers deur sy hande aan die dwarsbalk vasgespyker is en dan teen die reeds staande regop paal, opgehys is. Soms is die kruis plat op die grond neergesit en die kruiseling daaraan vasgespyker. Spykers van 20cm lank is deur die polse van die kruiseling geslaan (nie deur die handpalms soos op skilderye gewys word nie). Vanweë die liggaamsgewig sou die hande oopskeur en sou die kruiseling afval en die doel was om die kruiseling so lank as moontlik as openbare afskrikmiddel te gebruik en sy marteling ook te verleng. Deur die voete (hakskene) is spykers geslaan met die doel om pyn te verhoog en om die kruiseling in posisie te hou. Daarna is die kruis ingeplant.
Jesus se kruisiging was nie ‘n romantiese gebeurtenis soos wat verskeie kunswerke wys nie, maar skrikwekkend wreed. Tussen twee misdadigers word Hy opgehang. “Daar het hulle Hom ‘n mengsel van wyn en gal gegee om te drink.” Die mengsel was ‘n verdowingsmiddel wat bedoel was om die pyn van die kruiseling te verlig, “maar toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie.” Die geweld van die stamp om die kruis te laat regop staan, maak dat Sy arms uit potjie ruk, Sy spiere skeur. Skok, bloedverlies en hartstilstand sou Sy dood bespoedig. Nakend, sonder enige klere, hang Hy daar, onherkenbaar vermink en vervorm deur die sonde en pyn van die mensdom. Hy word uitgelewer aan die spot en vernedering van mense wat Hyself geskep het. Terwyl Sy bloed langs die kruis aftap, het “die mense wat daar verbygeloop het, Jesus gelaster.” Hulle steur hulle nie aan die twee rowers nie, “hulle het die kop geskud en gesê: ‘Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”
Hulle wou hê Jesus moes sy Godheid bewys. Hy gaan, maar nie soos hulle gedink of verwag het nie! Om aan die kruis te bly hang, was die prys wat Jesus moes betaal om ons met God te versoen. In die middel tussen twee misdadigers, hang Hy as’t ware as Middelaar tussen God en mens – die plek waar hemel en aarde mekaar weldadig ontmoet. Tussen hemel en aarde hang Hy as simbool dat sowel die hemel en die aarde Hom verwerp het – die hemel omdat Hy die pyn en wroeging van biljoene mense, die ganse mensdom, se sonde moes dra; die aarde wat Hom nie wou hê nie omdat Hy te rein was, Hy nie ingepas het by die beeld wat mense van die Messias vir hulleself geskep het nie, mense met teleurgestelde verwagtinge wat die Joodse volks- en politieke belange kon behartig.
Ons lewensweg is met dorings bestrooi, daarom is Jesus se kroon van dorings, vir ons ‘n hulp langs hierdie weg. Pyn, skande en dood is ’n daaglikse werklikheid. Hoeveel vloek en spot kan ons dra? Dit vat fisies aan ons waar ons dit nie kan vat nie. Die pyn van elke siekte wat ooit op mense gekom het, selfs die verskriklike pyn van elkeen wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, het Jesus fisiek gedra. Hy het die mislukking van elkeen wat sy lewe opgemors het, op Homself geneem deur een van ons te word.
Hy was die een wat "verag en deur die mense verstoot was, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra.” Aanvaar in geloof dat Jesus “oor óns oortredings deurboor is, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:3-5).
Die waarheid is dat ek en jy, onsself nie van die Golgotagebeure kan loswikkel nie. Sy volgelinge het Hom verlaat – waarheid is, ons sou ook! Wanneer elke hamerslag die spykers dieper in Sy hande en voete indryf – waarheid is, ons staan by en hoor Sy kreun van pyn! Wanneer ek en jy kan sê ons was daar, verbrokkel die afstand tussen Golgota en vandag. Toe Jesus na my en jou kyk, het Hy geweet hoe Hy sou moes ly. Met die vier spykers wat Sy liggaam deurboor het, het “Hy (ons) naam in Sy handpalms gegraveer” (Jes. 49:16).
“Aan die kruis het Jesus gehang met die gewig van elke aspek van ons skuld op Hom – elke leuen, elke onrein gedagte, elke vorm van versuim, elke stuk selfverheerliking ... Op die vraag van die aangrypende Negerlied: ‘Were you there when they crucified my Lord?’ kan ons waaragtig antwoord: Ja, ons was daar. Op Golgota was ons elkeen daar. Net – die een wat gely het, was nie ek of jy nie; dit was die Een wat gesterf het in ons plek” (Anton van Niekerk).
Gebed: Here Jesus, in my geestesoog sien ek U hang daar aan die kruis, naak, stukkend, verbrysel oor my sondes. Geen skoonheid dat ek eintlik na U wil kyk nie, geen voorkoms dat ek van U kan hou nie (Jes. 53:2b). Met afgryse sien ek hoe U gewilliglik U mag en heerlikheid prysgee vir ‘n eensame dood. En tog, reik U na my uit, is U bereid om vir my, nederige sondaar, die hoogste prys te betaal. U offer het my seën geword. Vergewe my Jesus dat ek U kruisiging en dood soms as vanselfsprekend aanvaar, of selfs vergeet wat U vir my gedoen het en dat ek U nie genoeg daarvoor dank nie. Mag die werklikheid van U kruis, U soenoffer, vir altyd ’n indruk op my maak en my hart met dankbaarheid vul. Amen.
Comments