Gedagte vir Vandag
Maandag, 24 Januarie 2022
Koos Espach
Jesus word gekruisig – Die Via Dolorosa (6)
God se dobbelaar
Matt. 27:35-36 – “Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.”
Vergelyk ook Joh. 19:23-24 – “Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. Hulle sê toe vir mekaar: ‘Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.’ Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: ‘Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.’ Dit is wat die soldate gedoen het.”
Volkome ongevoelig teenoor die ontsettende lyding wat Jesus aangedoen is, hou die soldate hulle besig met die verdeling van Sy klere. As deel van hulle vergoeding en volgens gebruik met elke kruisiging, het die soldate beslag gelê op die kruiseling se klere. Elkeen van die vier het reeds ‘n kledingstuk van Jesus geneem – Sy skoene, tulband, gordel en bokleed. Die soldate wil die onderkleed, wat “in een stuk geweef” was, nie skeur nie, want dan sou dit nutteloos vir gebruik wees. Daarom loot hulle wie dit moet ontvang. Hierdie smaad word Jesus ook nie gespaar nie. Hy word gestroop van alle menswaardigheid – Jesus moet naak in die plek van die sondaar daar hang en sterf. Selfs hier besluit God hoe dinge moet gebeur – deur die profetiese woorde van die psalmdigter word die profesie op die regte tyd in vervulling gebring: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot” (Ps. 22:19).
Volgens die geskiedskrywer Josefus, was die onderkleed van die hoëpriester in een stuk geweef. Die Ou Testamentiese hoëpriester se taak was om ‘n tussenganger tussen God en die volk te wees. Hy moes op die groot Versoendag die volk se sonde voor God lê wanneer hy in die Allerheiligste van die tabernakel, later die tempel, vir hulle sondes versoening doen. “God se Seun” word mens sodat Hy die volmaakte tussenganger tussen God en mense kan wees. Hy het nie die offers wat deur ander gebring is, aan God geoffer nie, Hy het Homself geoffer. Jesus dra saam met Hom die bewys dat Hy ons skuld klaar betaal het. Ons is nie meer aangeklaagdes vir ons sondes nie, ons is kwytgeskeldes. Dit kan nie verander nie want God het dit met ‘n onveranderlike eed bevestig toe Hy Christus as ons Hoëpriester aangestel en Hy ons Borg geword het (Heb. 6:17-18).
Ek wonder wat het Jesus gedink toe Hy verby Sy bebloede voete kyk na die kringetjie soldate wat besig was om te dobbel sodat hulle hul klerekas kan aanvul? Hulle is só naby aan die kruis, maar tog só ver van Christus af; bý die kruis maar sien en dink net oor hulleself! Hulle kyk in die verkeerde rigting, weg van die Ewigheid af na die huidige winsie. ‘n Ses van die dobbelsteen sou die wenner ‘n onderkleed besorg. Bokant hulle hang die Seun van God wat met Sy lewe kom dobbel het. Hy moes spreekwoordelik ‘n ses kom gooi het anders was ons almal verlore!!! Sy waagstuk was egter suksesvol, Hy het gewen sodat ons kon wen! Sy klere is uitgetrek, verdeel en voor gedobbel sodat dit ons sondes waarmee ons dobbel, kon toemaak en elkeen van ons sondaars, met geregtigheid beklee!
Sit ons nie maar ook soms, soos hierdie groepie soldate, en dobbel by die kruis nie? Sondae hoor ons dat Christus ons wil nuut maak maar ons hoop is gevestig dat ons die wenner van die “onderkleed” sou wees; ek en jy wil meer hê, nie net die sandale wat duisende kilometers afgelê het, of die bokleed wat vol bloed is nie; ons ding mee – ons wil beter wees.
Die lewe naby Christus word nie bepaal deur die regte val van die dobbelsteen nie, dit is nie die doen van die regte of verkeerde dinge nie, dit is om weg te kyk van die verkeerde, op te kyk na Hom wat vir my en jou nakend aan die kruis gehang het, en onsself volkome in Sy bebloede hande plaas. Dit is dáár by die kruis waar ons nie net gekyk het waar Christus aan die kruis gehang het nie, maar tot by die voet van die kruis gekom het en Hom hoor sê: “Ek het dit vir jou gedoen my kind!” Ons hoef nie net tevrede wees met die sandale of bokleed nie, Jesus het Sy álles vir ons gegee! Sy bloed wat van die kruis af gedrup het, het al die skuldgevoelens van my en jou, selfs die fisieke pyn van siekte, ook die pyn van elkeen wat iemand aan die dood afgestaan het, vir ewig gedra.
"And, sitting down, they watched Him there, the soldiers did; there, while they played at dice, He made his sacrifice, and died upon his Cross to rid God's world of sin. He was a gambler, too, my Christ. He took his life and threw it for a world redeemed” (Studdert Kennedy).
Gebed: Here, dankie dat U my kom aantrek het met U klere wat daar by die kruis verwyder is. Dankie dat ek nie net die sandale of bokleed ontvang het nie, maar alles, skoon gewas en nuut gemaak deur U bloed wat nog daaruit gedrup het. Dankie dat U my aangetrek het met U kleed van geregtigheid en sodoende my Borg is vir die ewige lewe. Amen.
コメント