top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 6 Januarie 2021

Koos Espach


Die soldate bespot Jesus (1)


Verag en gespot


Matt. 27:26-31 – “Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gésel en Hom oorgelewer om gekruisig te word. Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ‘n pers mantel om. Hulle vleg ‘n dorinkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ‘n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: ‘Ons groet u, Koning van die Jode!’ Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. Nadat hulle Hom klaar gespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek.”


Vergelyk ook Joh. 19:1-3 – “Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. Die soldate het ‘n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ‘n pers mantel aangetrek en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: ‘Ons groet U, Koning van die Jode!’ En elke keer het hulle Hom geklap.”


Pilatus se poging om Jesus vrygelaat te kry, het misluk en hy laat Jesus gésel. Hoewel hy van Jesus se onskuld oortuig was, het hy gehoop dat so ‘n wrede pyniging die Jode gelukkig sal maak en hulle dit as genoegsame straf sou beskou en toestem om Jesus daarna los te laat. Indien dit sy verwagting was, het hy die Jode se haat teenoor Jesus onderskat.


Géseling was ‘n verskriklike straf! Die beskuldigde is met sy naakte bolyf uitgestrek oor ‘n pilaar en daaraan vasgemaak. Hy is dan met ‘n driepuntige sweep wat stukkies staal en been aan die voorpunte ingevleg is, nege en dertig houe toegedien. Dit was ‘n geweldige ernstige straf en meestal het die slagoffer daarvan gesterf. Wat ‘n spektakel! Jesus se rug word onskuldig tot ‘n bloederige pappery oopgekloof om ‘n onredelike skare te bevredig!!


Nadat die soldate Jesus gegésel het, begin hulle met ’n hartelose bespotting. Hulle het gehoor dat Hy “die koning van die Jode” genoem word, en behandel Hom spottend as koning. Met ’n kroon van dorings word Hy gekroon en ontvang ’n pers mantel as kleed van koninklike waardigheid. Sou hulle die betekenis van die dorings besef het? Dit simboliseer die pyn en vloek van sonde (Gen. 3:17-18). Die soldate sit hulle ruwe spel voort deur telkens spottenderwys met nagebootste eerbied Jesus as koning te kom begroet en Hom in plaas van ’n geskenk, ‘n klap in die gesig te gee.


So word Hy ten opsigte van Sy koninklike amp beledig en verneder, en met Sy gepynigde liggaam en gekrenkte gees, verdra die Man van smarte, dit swygend: “Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jes. 53:7). In die koning van die soldate se spotspel is die Koning van die heelal verborge!


Wat ‘n prys is daar nie vir ons sondes betaal nie! Ek sien in my geestesoog Jesus se gesig nadat die soldate daardie bebloede doek afgehaal het waarmee hulle hom geblinddoek het? “Hy het nie die skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie” (Jes. 53:2b). Ek kan sien hoe hulle Jesus oor die pilaar uitstrek! Ek tel elke hou terwyl die sweep Sy ontblote rug al hoe dieper oopkloof! Ek kan sien hoe Jesus Sy oë styf toemaak elke keer wanneer die stukkies metaal en been, pynlik op Sy verwonde rug insny en stukke vleis uit Sy liggaam ruk. “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie” (Jes. 53:3). En om te dink Hy het dit alles gedoen vir jou en my!


Kan ons ooit regtig besef wat Jesus vir ons deurgemaak het? Kan die God van hemel en aarde mense só lief hê? Is sonde regtig só vreeslik? Waarom het Jesus dit toegelaat? “Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5b). Wat ‘n geweldige gedagte!! Mag ons nooit vergeet wat ‘n groot prys Jesus moes betaal om ons van die siekte van sonde te kom genees nie. Mag ek en jy die vreeslikheid van sonde in die wrede mishandeling van Jesus sien. My en jou redding was vir Hom belangriker as Sy lyding. Kyk! Sien jy ook wat ek sien? Kyk hoe het hulle Hom verniel, álles, net vir my en jou!


“Jy sal nooit weet dat Jesus al is wat jy nodig het nie totdat Jesus al is wat jy het” (Moeder Teresa).


Gebed: Dankie Jesus dat U die pad van marteling en skande ter wille van my geloop het. Dankie dat U bereid was om die prys vir my redding te kom betaal en niks U in hierdie doel kon stuit nie! Dankie dat U uit U eie lyding en vernedering my as sondaar verhef het tot ewigdurende kind van God! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page