top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 5 Januarie 2022

Koos Espach


Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word (2)


Pilatus probeer sy bes


Matt. 27:19-23 – “Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom ‘n boodskap gestuur: ‘Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ‘n vreeslike droom oor hom gehad.’ Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood. Die goewerneur vra hulle toe: ‘Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?’ ‘Barabbas!’ antwoord hulle. Pilatus sê vir hulle: ‘Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?’ ‘Kruisig hom!’ skreeu hulle almal. Hy vra: ‘Watter kwaad het hy dan gedoen?’ Maar hulle skreeu nog harder: ‘Kruisig hom!”


Vergelyk ook Luk. 2:34-35a – “Simeon het hulle (Josef en Maria) geseën, en vir Maria, sy moeder gesê: ‘Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”


Wanneer Pilatus se vrou vir hom ‘n boodskap stuur oor haar “vreeslike droom”, versterk dit wat hy reeds weet: Jesus is onskuldig! Die inhoud van sy vrou se droom word nie meegedeel nie, maar dit onderstreep dat Jesus ‘n “onskuldige man” is. Die volksleiers het egter ander planne. Hulle het die mense aangehits om Jesus se vernietiging te eis. Ironies dat dieselfde leiers wat voorheen bang was vir oproer onder die volk, nou die oproerige volk gebruik om druk op Pilatus uit te oefen om hulle doel te bereik. Dieselfde mense wat Jesus oral gevolg het, oor wie Hy Hom dag na dag ontferm het, het teen Hom gedraai. Selfs Pilatus se simpatieke vraag oor “watter kwaad Jesus dan gedoen het?”, het nie gehelp nie, maar eerder die skare net meer opgesweep.


Lukas neem ons ‘n paar jaar terug in die geskiedenis en beskryf vir ons van ‘n bejaarde Simeon wat Jesus as baba by die tempel in sy arms geneem het en hierdie skokkende voorspelling gemaak het: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word.” Te midde van die jubelliedere van groot blydskap met Jesus se geboorte, het Simeon se profesie daardie tyd soos ‘n vals noot geklink. Inteendeel, dit was egter die waarheid – vir sommige ‘n val (dood), vir ander die opstanding (lewe). Die gesindheid van hierdie antieke Jode se opinie omtrent Jesus was donker. Jesus het tydens Sy aardse tyd vir baie mense voor ‘n keuse en beslissing gestel. Sy boodskap, in die woorde van Simeon was “’n teken wat weerspreek sal word.”


“Hulle skreeu nog harder: ‘Nie vir Hom loslaat nie, maar vir Barabbas!”, klink nie juis na die reaksie van mense wat oortuig was of beïndruk was met die werke en wonders van Jesus nie! Vir die meerderheid Jode was die kruisgebeure van ‘n Saligmaker onaanvaarbaar en ondenkbaar! Dat die Messias, die Koning wat hulle moes verlos van die Romeinse druk, aan ‘n vloekhout sterf, was vir hulle ‘n aanstoot: “Ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot” (1 Kor. 1:23). Dít laat ons onverwyld met baie vrae.


Hoekom is daar niemand wat nou tydens hierdie belaglike verhoor vir Jesus getuig nie? Waar is al die volgelinge wat honderde kilometers gereis het om Sy wondertekens te sien en Hom te hoor preek? Waar is almal wat Hy gesond gemaak het?; die duisende wat gevoed was met vyf brode en twee vissies? (Matt. 14:13-21); Lasarus en sy susters, Marta en Maria, wat getuies was van Lasarus se opwekking uit die dood? (Joh. 11). Hulle kan seker getuig dat Hy nie ‘n oproermaker is nie of is hulle deel van hierdie gepeupel wat nou skree: “Kruisig Hom?”


Ongelukkig kan ons nie teruggaan in tyd nie maar ons kan wel vandag getuig dat Simeon se woorde van “hierdie Kindjie wat bestem is tot ‘n val van baie in Israel”, daarop dui dat God dit so bepaal het. Ek wonder wat die Jode van daardie tyd vandag sou sê as hulle die duisende kerkgeboue en katedrale wêreldwyd sou sien – Wat! Is dit gedoen sodat gelowiges hierdie Man kan gaan bely en aanbid en loof? Is dit dieselfde Man wat ons laat kruisig het en Barabbas in sy plek laat vrylaat het?


Nêrens in die Bybel word beweer dat alle mense Jesus Christus sal aanvaar omdat Hy ons sondeskuld op Hom geneem het nie. Sommige aanvaar Hom met blydskap en word gered, ander verstoot Hom en gaan verlore! Dit moet so wees. By God is daar nie amnestie vir almal nie. Christus is die skeidingmaker – Dis Hy of Barabbas! Die goeie nuus is dat Simeon se profesie ‘n positiewe kant ook gehad het: “Hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en opstanding van baie.” Hierdie Kindjie het later self gesê: “Ek is die opstanding en die lewe” (Joh. 11:25a). Deur Hom het daar hoop gekom vir die hooploses; Iemand wat gevallenes oprig; Iemand wat mense in sonde en ellende en nie uit eie krag kan opstaan nie, met Sy sterk hand sal optel. Die opstanding wat Hy bewerk, is nie net tot “baie in Israel” gerig nie, maar ook vir jou en my.


“In Jesus sien ons alles wat ons van God kan weet; in Hom het ons ook alles wat ons ooit van God kan nodig hê” (Athanasius).


Gebed: Seun van God, ek dank U dat U dit vir my moontlik gemaak het om ‘n kind van God te word. “Daar is net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ek lewe” (1 Kor. 8:6). Amen.

 

留言


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page