Gedagte vir Vandag
Vrydag, 3 Desember 2021
Koos Espach
Die dood van Judas (1)
Arme Judas
Matt. 27:3-5 – “Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê: ‘Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.’ Maar hulle antwoord: ‘Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!’ Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.”
Vergelyk ook Sag. 11:13 – “Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker! En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig (silwer) stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.”
Matteus skenk baie aandag aan Judas se spytbelewing sodat hy daarmee aan sy Joodse lesers kan toon watter verraderlike rol hulle eie leiers in Jesus se dood gehad het. Vroeg daardie Vrydagoggend het die onregverdige veroordeling van Jesus momentum gekry. Die priesterhoofde en familiehoofde het besluit die tyd het gekom dat Jesus moes sterf. Hulle beplan dit immers al van die sabbatdag af toe Jesus in die sinagoge die man met die gebreklike hand genees het (Matt. 12:14).
Soos Petrus, weet Judas ook wat besig is om met Jesus te gebeur. Judas besef te laat dat hy as gevolg van sy eie hebsug, slagoffer en instrument in die hande van magshonger mense geword het. Met spyt in sy hart oor dit wat hy gedoen het, het Judas die dertig silwermuntstukke teruggebring wat hy as vergoeding ontvang het. Tog volg die regte dade van bekering nie op sy berou nie. (In die oë van die Jode beteken berou dat jy dit moet teruggee wat jy onregmatig ontvang het).
Anders as Petrus wat bitterlik gehuil het nadat hy Jesus verloën het, maar daarna nooit weer ‘n woord daaroor gerep het nie, dryf Judas se berou om te gaan regmaak. Judas doen die regte ding, maar ongelukkig vir hom, stel die priesterhoofde en familiehoofde nie daarin belang nie. Ons sou verwag dat die priesters Judas met oop arms staan en inwag het. Hulle wat veronderstel was om dit vir mense moontlik te maak om hulle skuld voor God te bely en hulle saak met Hom reg te stel, sê “dit is sy saak, hulle het niks daarmee te doen nie!” Hulle was immers veronderstel om God se vergifnis aan Judas te bedien, maar stuur hom met leë hande weg. Hulle klap as’t ware die tempeldeure in sy gesig toe! Natuurlik kon God hom vergewe (2 Sam. 12:13). (’n Vals getuie moes dieselfde straf as die veroordeelde kry (Deut. 19:18-19) en sy skuld kon alleen deur sy eie bloed versoen word (Num. 35:33).
Feit is dat dit nie Judas was wat die 30 silwerstukke op Jesus se kop geplaas het nie. Die owerpriesters het op die bedrag besluit (Matt. 26:14-15). En dit was nie sommer toeval nie. Hierdie owerpriesters het die Ou Testament geken. Hulle het geweet volgens Eksodus 21:32, dat dertig sikkels silwer die bedrag is van ’n slaaf wat deur ’n bees doodgemaak is, werd was. En volgens Sagaria 11:12 was dít die bedrag loon wat die volk gedink het God self, as Herder, vir hulle werd was. Dit is waarom 30 silwerstukke vir die owerpriesters ’n gepaste prys vir Jesus was – Hy was nikswerd in hulle oë. Met wroeging in die hart gooi Judas die geld in die tempel neer (Sag. 11:13) en met berou oor die gevolge van sy daad, “weggeloop en homself gaan ophang.” Hoe tragies!
Dit bring my en jou by die vraag: Hoe ver strek die liefde en genade van God met ‘n mens regtig? Ons mense wat aanhoudend struikel en val; mense wie se hart ver van Hom is; mense wat Hom soveel hartseer besorg; mense wat so aanhou met sondig? Dankie tog, God hou aan en aan en aan met ons. Sy liefde en genade is alomteenwoordig en allesdeurdringend. Hy gee ons weer en weer die brood en wyn. Daar is mos nie ’n manier hoe hierdie verregaande liefde van God nie ons harte sal breek nie! En tog breek baie mense se harte nie. Judas s’n het nie. Tot die bitter einde toe nie. Selfs toe hy Jesus kom soen, wil hy sy bose hart nog altyd wegsteek: Kamstig liefdevol – “Goeiemôre Rabbi!” Maar, sy woorde gee hom weg. Ja, ’n mens se ware lewensinhoud kom na vore in die leegheid van jou woorde – dit wat jy sê verklap alles wat binne jou hart verskuil lê. Het dit iets verander aan Jesus se liefde vir hom? Nee! “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde tot in ewigheid” (Heb. 13:8). Soos Hy was teenoor Sy verraaier, is Hy op 3 Desember 2021 steeds teenoor my en jou. Sal Sy liefde dan nie ons harte finaal oorwin nie?
“Die feit dat Jesus ons kom red het, is die finale en onweerlegbare bewys dat God vir ons sondaars omgee” (William Barclay).
Gebed: Ewig onveranderlike Here, skenk my die genade om altyd U onwrikbaar te vertrou. Baie dankie dat U die Onveranderlike van my lewe is. Sterk my geloof, verinnig my hoop en suiwer my liefde deur die werk van U Seun. Amen.
Comments