top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 1 Desember 2021

Koos Espach


Petrus verloën Jesus (2)


Twee paar oë ontmoet


Matt. 26:73-75 – “’n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: ‘Dit is waar, jy is ook een van hulle. ‘n Mens kan dit aan jou spraak hoor.’ Toe begin hy vloek, en hy sweer: ‘Ek ken die man nie!’ En op daardie oomblik het daar ‘n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: ‘Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.’ En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.”


Vergelyk ook Luk. 22:55; 59-60 – “In die middel van die binneplaas was daar ‘n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. Na verloop van sowat ‘n uur het nog een met beslistheid beweer: ‘Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook ‘n Galileër!’ Maar Petrus sê: ‘Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!’ En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar ‘n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk ... .”


Daar by die vuur in die binneplein waar “Petrus hom ook gestaan en warm maak het”, was Petrus se lyf warm maar sy binneste yskoud! Hy het Jesus gefaal, maar gefaal in ‘n situasie waar die ander dissipels nie bereid was om die situasie te trotseer nie. Hy het gefaal maar in omstandighede waar sy liefde vir Jesus steeds moedig bewys is. Jesus se vriende, Sy getroue dissipels, het Hom verlaat, nie een het oorgebly nie, net “Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan” (Joh. 18:15).


“Na verloop van ongeveer ’n uur”, waarin Jesus deur die hoëpriester en sy raadslede ondervra is, verklaar iemand met sekerheid dat Petrus ook by Jesus hoort omdat hy beslis ’n Galileër was. Die Galileërs het ’n duidelik kenbare dialek in hulle uitspraak gehad, en daaraan word Petrus uitgeken as ’n Galileër (Matt. 26:73). Maar Petrus gee te kenne dat hy glad nie begryp wat die man sê nie en “onmiddellik kraai die haan.” Toe draai Jesus, wat voor die hoëpriester as gevangene gestaan het, om na Petrus en kyk hom aan. Twee paar oë ontmoet ... Hierdie kyk van Jesus, wat seker van diepe teleurstelling getuig het, het Petrus laat dink aan die waarskuwing wat Jesus uitgespreek het en wat hy toe in die wind geslaan het. Meteens besef hy die afskuwelikheid van sy daad, en hy “gaan buitentoe en het bitterlik gehuil.”


Dit kon nie maklik vir Petrus gewees het nie! Wie van ons sou ook eerder daardie aand nie "onsigbaar of onbekend” wou gewees het nie? Die onreg wat die Joodse leiers pleeg teenoor Jesus laat ons sin vir regverdigheid opvlam, maar die wyse waarop Petrus Jesus in die steek laat deurdat hy nie die moed het om selfs te erken dat hy Hom ken nie, maak ’n mens net hartseer. Ook, omdat dit ’n wekroep vir onsself is om ons lojaliteit aan Christus Jesus nie in ons eie krag te soek nie, maar in die krag van die Gees wat Jesus gee. Soos Paulus later vir Timoteus sou bemoedig: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim. 1:7).


Petrus kon nie eers vir een nag sy belofte gestand doen nie. Toe hy die derde keer ontken dat hy Jesus ken, het die haan gekraai. Dit was die aanduiding dat dit vroegoggend was en Petrus was spyt oor wat hy gedoen het. Ons lees nooit hierna dat hy vir Jesus verskoning vra nie, maar ons weet dat Petrus voor en ná die kruis, nié weer dieselfde man was nie. En hierdie prentjie gryp ons by die hart ... ons wil, néé, ons móét Hom volg, al is ons bang om te erken ons ken Hom, of dalk naamloos wil bly.

Miskien het dit met ons ook al gebeur dat ons deur ons woorde en dade Jesus al verloën het. Dit gebeur telkens wanneer ons eie belange groter gewig begin dra as ons trou aan Hom en aan mekaar. Ek en jy kyk ook vir Jesus skielik in die oë, en wanneer ons oë ontmoet, sien ons onsself daar tussen die manne (of vroue), wanneer ons ter wille van ontrou en eiebelang, op die ingewing van die oomblik ons geloof so ‘n bietjie wegpak. Of ons sien die oë van ons naaste, man, vrou, kind, vriend, kollega se pyn wanneer ons nie ons woorde kan tel nie. Ek en jy moet ons woorde tel, anders tel dit later teen ons.


Hoor jy ook wat ek hoor? Die haan wat iewers in die agtergrond kraai? Hoe kan ons dit regstel en voorkom? Kom en raak vir ‘n oomblik rustig en gaan staan saam met Petrus in berou voor Christus en luister hoe God vandag met ons wil praat. Kom ons neem Jesus se uitnodiging aan: “As iemand agter My wil aankom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg ...” (Matt. 16:24). Iets dring my en jou om hierdie Man van Nasaret te volg!


“In ‘n wêreld waarin so baie gepraat word oor ongelykhede en elke mens se regte, kom sê Christus nog steeds nie: ‘Vervul jouself!’ nie. Hy vra: ‘Verloën jouself!” (Walter Trobisch).


Gebed: Ek wil U nie skaamteloos ontken nie, ek wil bekend wees as U volgeling – ‘n volgeling met ’n naam. Ek wil deel wees van diegene wat saam met U op U triomftog loop en erken dat ek U ken. Help my Gees van God, want alleen kan ek dit nie doen nie. “Help my om nie te gou te praat of oorhaastige beloftes aan U te maak nie. Laat my woorde daarom min wees” (Pred. 5:1). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page