top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 22 November 2021

Koos Espach


Jesus word gevange geneem (4)


Die dag toe Jesus ja gesê het


Matt. 26:55-56 – “Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: ‘Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek ‘n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.’ Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.”


Vergelyk ook Joh. 10:27-29 – “My skape luister na My stem; Ek ken hulle en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie. Dié wat My Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.”


Jesus se optrede was nooit in die geheim nie, maar openlik, selfs in die tempel. Hier ontken Jesus dat Hy ’n rower of opstandeling is wat die tempel wil omverwerp. Sy Vader se koninkryk is anders, dit kom nie met geweld nie, daarom verhinder Hy ook Sy dissipels om dit met geweld te verdedig. Sy ryk is ‘n vredesryk wat mense se harte en lewe verander en hulle in splinternuwe burgers verander. Dis nie wapens van vernietiging nie, maar wapens van herstel wat God se koninkryk laat aanbreek. Dit is Jesus se roete, selfs al vlug Sy dissipels van Hom af weg.


Jesus laat Hom gevange neem, maar met kalmte en waardigheid teken Hy protes aan teen die wyse waarop dit geskied. “Die priesterhoofde en offisiere van die tempelwag” (Luk. 22:52-53) wat die plan gemaak het om Jesus uit die weg te ruim (Luk. 22:4), is nou self aandadig aan die gevangeneming. Saam met hulle is die familiehoofde wat sitting het in die Sanhedrin of Joodse Raad. Van húlle, vra Jesus rekenskap oor hulle optrede teen Hom. Baie van die “klomp mense” het Hom gevolg van Galilea tot in Judea. Hulle het aan Sy voete gesit en luister na Sy leringe, hulle siekes, dowes, blindes na Hom gebring, en Hy het hulle almal gesond gemaak. Hulle het tog genoeg geleentheid gehad om Hom gevange te neem toe Hy openlik “dag vir dag in die tempel gesit en die mense geleer het.” Jesus bring die lafhartigheid van hul optrede aan die lig. Dieselfde mense wat die tempel gemaak het tot ’n rowersnes (Matt. 21:13), handel nou asof Jesus die rower is. Maar ook dit geskied “sodat die Skrifte van die profete vervul sou word” (Jes. 53:12).


Ironies, die las van die mens se sonde het in ‘n tuin begin, die Tuin van Eden. Daar het Adam tot ‘n val gekom en gaan wegkruip vir God; in die Tuin van Getsemane tree Jesus op die voorgrond en neem standpunt in, gaan kruip nie weg nie maar gaan die geregsdienaars tegemoet; in Eden het God na Adam gesoek, in Getsemane worstel Jesus met God en soek na Sy Vader; in Eden het satan vir Adam na ‘n boom geneem wat tot sy dood gelei het, in Getsemane kon Jesus se bloed nie die volle prys vir ons sonde betaal nie en moes Jesus gaan na die kruis wat uit ‘n boom gemaak is, wat tot ons lewe gelei het!


Bestaan daar ‘n plek, ‘n “tuin” waar satan nog nie ingemeng het nie? Satan en sy makkers maak hulle oral tuis en teer op sondige begeertes – in ons skole, kerke, gemeenskap, ons beloftes, ons reinheid, ons morele waardes, ons menswees. Sy vernaamste teenstanders is ons harte, die harte van Christengelowiges, die tuin van God! Wat satan in Eden gedoen het, doen hy vandag nog; hy werskaf veral in die tuin van God. Die goeie nuus, daarenteen, is dat ek en jy die keuse het om te sorg dat satan nie oral aanwesig is nie, maar dat God is!!! Wat Jesus in Getsemane gedoen het, doen Hy vandag nog – Hy staan in vir ons Christengelowiges, Hy beskerm ons teen satan, “ons sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal ons uit Jesus se hand ruk nie.” Jesus gaan vir die skare én vir Judas én vir my en jou sterf omdat God so besluit het – nie omdat Jesus magteloos was nie.


“Wie een keer in Jesus Christus die spieëlbeeld van God se Vaderhart gesien het, kyk vir die res van sy lewe met nuwe oë na die wêreld” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Vader dat ek in die omhelsing van U liefde kan ontspan. Ek hoef nie toe te laat dat vrees en angs, my lewensvreugde ontneem nie. U het te duur betaal om enige van U volgelinge verlore te laat raak. Dankie dat U my tuinhekkie oopgemaak het en al my onkruid verwyder het: Onkruid van versoekings, onkruid in my gesinslewe, onkruid in my hart. Dankie dat U beheer oorgeneem het met die instandhouding van my tuin. Amen.

Comments


Recent Posts