Gedagte vir Vandag
Woensdag, 27 Oktober 2021
Koos Espach
Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (26)
Die werk van die Heilige Gees (3)
Die Voorspraak lei ons in aanbidding
Joh. 16:13a – “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.”
Vergelyk ook Rom. 8:26 – “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.”
Die goeie nuus is dat “as een van ons sondig – ons Jesus Christus het, die regverdige, as ons Voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1). God het vir ons ‘n deur oopgemaak en Hom vir ons toeganklik gemaak deur die “Woord wat mens kom word het” (Joh. 1:14). Jesus het op Sy beurt vir ons die “Gees van die waarheid gegee wat ons lei in die waarheid.” Wanneer ons aan die Gees oorgegee is, word ons gelei deur die Gees om te bid. As weergebore kind van God staan ons lewe nou onder die beheer van die Heilige Gees: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle” (Rom. 8:9).
Dit beteken dat die Gees ons sal aanspoor tot vrymoedigheid om te bid as ons die beloftes van die Woord ken. Gebedsdrang groei namate ons in die omgang met die Woord getrou is of nie. Gebed is geen middel wat aan ons gegee is om God te dwing om óns wil te doen nie, maar die plek waar die Gees ons lei om stil te word met die verlange dat God se wil moet geskied.
Ons moet ook versigtig wees om vir ons Vader te vra “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” So word die hemel ‘n kriterium vir die aarde. God daag ons dalk net uit om téén ons wil op te tree. So moet almal wat deur God geskep is Sy wil uitvoer, in die hemel en op aarde. “Laat U wil geskied” is dus ‘n gebed wat ons vra dat ons Vader ons, soos vir die engele, gehoorsaam maak aan Sy wil. Dit is net die Heilige Gees wat aan ons die krag kan gee om te doen wat God van ons verwag, daarom is dit nodig om die Gees te vra vir krag om Sy wil te gehoorsaam.
God se vermoë om gebed te beantwoord, is onbeperk, ons moet Hom net vertrou. Hy is die God wat ons nooi om Hom te beproef en te sien hoe Hy vir ons die vensters van die hemel oopmaak (Mal. 3:10). Deur Jesus Christus het God ons van gebrokenheid en sterflikheid bevry. Ons kan dus seker wees dat ons sugte gehoor en verhoor word. Daarvoor sorg God self deur sy Gees wat in jou en my woon.
Is dit nie wonderlik nie? Elke keer wanneer ons bid, is daar twee persone van die drie-Eenheid wat vir ons intree by die Vader wat uit liefde reeds graag wil hoor en verhoor – Jesus aan die regterhand van God en die Gees wat in ons hart woon, wat by die Vader vir ons pleit. Ek en jy kan dus in ons swakheid moed skep en weet dat God ons situasie ken. Al is ons gebede swak en nietig, onthou, die Heilige Gees tree vir ons in. Hy verander ons nietige woorde in hemeltaal tot my en jou beswil en seën! Die goeie nuus vir my en jou is: God het ons naam en adres en met die hulp van die Heilige Gees, sal en kan ons nooit weer buite Sy gesigsveld wees nie.
“Elke keer as ons sê: ‘Ek glo in die Heilige Gees,’ bedoel ons dat ons glo dat daar ‘n lewende God is wat gewillig is om in mense te woon en hulle persoonlikhede te verander” (John Stott).
Gebed: Ons Vader in die hemel, U allesomvattende en allesdeurdringende liefde is sigbaar in U Seun se uitgestrekte arms aan die kruis wat die pad na die hel toe versper. Ek is so geneig om verby Sy uitgestrekte arms te wil beur omdat Ú wil, teen my mensgemaakte plannetjies indruis en my lewe “omvergooi.” U wil vir my is om die veilige pad te vind sodat ek Jesus kan volg, al is dit soms ‘n moeilike pad. Dankie Heilige Gees dat U vir my intree en my swak en nietige woorde omskep in hemeltaal. Dankie dat U my daarin versterk. Dankie dat U bepaal wat vir my die beste is en dat ek daarom kan sê: “Laat U wil geskied”. In die Naam van Jesus en deur die Heilige Gees bid ek dit. Amen.
Comments