top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Oct 27, 2020
  • 4 min read

28 Oktober 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

DIE VERHEERLIKING OP DIE BERG (1)

(Mark. 9:2-8; Luk. 9:28-36)

DIE VOORREG EN VERANTWOORDELIKHEID VAN GEBED!

Matt. 17:1-2 – “Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg gebring waar hulle alleen was. Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.”

Vergelyk ook 2 Kor. 3:18 – “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Ses dae gelede het Petrus sy rots-belydenis namens alle gelowiges gemaak, en Jesus het vir die eerste keer aanduiding gegee van Sy komende dood en opstanding (Matt. 16:16-23). Hier neem Hy die binnekring van Sy dissipels, “Petrus en Jakobus en sy broer Johannes,” saam met Hom op 'n hoë berg. Matteus se weergawe van die gebeurtenis verwys nie soos Lukas daarna, dat Jesus Hom in gebed gaan afsonder het nie.

Matteus se weergawe bevat egter verskillende raakpunte met die ervaring wat Moses op die berg Sinai gehad het (vgl. Eks. 24): Die drie wat saam met Moses opklim, Aäron, Nadab en Abihu, soos nou die geval is met Petrus, Jakobus en Johannes; die wolk wat die berg oordek soos nou ook die geval is; Moses se gesig wat gestraal het, soos dit nou die geval is met Jesus; die feit dat God daar Sy wet vir Moses gegee het en nou van Jesus sê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

Anders as Moses wat net God se heerlikheid weerkaats het (Eks. 34:29-30), ondergaan Jesus se voorkoms hier voor die dissipels, ’n verandering wat aan hulle ’n voorsmaak gee van die Seun van die mens se heerlikheid (16:27-28). Só word die uitspraak dat Jesus die Christus is (16:16) bevestig, asook oor Sy lyding (16:21), waar is. ’n Goddelike ligglans het Jesus deurstraal, sodat selfs Sy klere geskitter het. Die witheid daarvan was van ’n gehalte en karakter wat op aarde nie aangetref word nie. lets van die hemel en van Jesus se verskyningsvorm as Seun van God, is geopenbaar.

Midde in Jesus se aardse lyding, omvou Sy ware heerlikheid as Messias “terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit” (Luk. 9:29). Iets van die ligglans van Sy heerlikheid en majesteit het sigbaar geword. Telkens wanneer Jesus ‘n probleem ondervind het, het Hy dit nie na mense toe geneem nie, maar na ‘n stil plek waar Hy in gebed met sy Vader kon wees. Gemeenskap met sy Vader was vir Hom die eerste prioriteit in Sy lewe en Hy sou nie toelaat dat enigiets, inbreuk maak op Sy gemeenskap met Sy Vader nie.

Ons moet Jesus se voorbeeld volg en daarteen waak dat ons dienswerk hier op aarde ons nie so besig hou, dat daar nie voldoende tyd is vir kontak en interaksie met God nie. Hoe kan ons God verheerlik? Dit gebeur wanneer ons Jesus se eienskappe en voorbeeld, soos Paulus sê, in “ons eie lewe weerspieël.” Elke keer wanneer ons die blye boodskap van Jesus Christus met iemand deel, verheerlik ons Hom. Elke keer wanneer ons geduldig is in spitsverkeer; luister na ‘n gebroke mens; besoek aan iemand in ‘n hospitaalbed, selfs ‘n besoek aan iemand in die gevangenis; op die sportveld; in die supermark. Ja, oral kan ek en jy die “heerlikheid van Jesus Christus weerspieël."

Hoe maak ons kontak en behou interaksie met God? Petrus skryf dat ons “moet sorg dat ons steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Hoe doen ons dit? Deur gebed ontwikkel ons ‘n denke wat sensitief is vir die Heilige Gees se leiding, selfs in die ou gewone dingetjies van ons lewe. Die Gees is ons medewerker in gebed en staan ons by in moeilike tye. Hy bemoedig ons en tree selfs vir ons in by God. Te midde van die duisterste oomblikke in ons elkedagse wêreld, soos nou gedurende Covid-pandemie tyd, help Hy ons om vrees te hanteer in die wete dat God steeds in beheer is.

Wat ook al die probleem in my en jou lewe is, moet ons nie alleen daarmee probeer worstel nie. Ons moenie probeer om uit eie krag te oorwin nie. Laat die Heilige Gees die inspirerende krag in ons lewe word, en smaak oorwinning deur God se liefde en genade. Roep na die Heilige Gees om hulp en lê jou gebede in die Naam van Jesus voor ons Vader neer. Onthou, Hy sit op die troon van genade, die onbegryplike genade en vrede wat ons ontvang om ons elke dag te dra op ons pad. “Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp!” (Ps. 68:20) en om die kersie op die koek te plaas, “Neem die heerlikheid wat van ons uitstraal, steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

“Niks is buite die bereik van gebed nie, behalwe dit wat buite die wil van God is”

(Oswald Chambers).

Gebed: Dankie Gees van God, dat U my in alles bystaan, my bemoedig en vir my selfs intree by God. Dankie dat U my in my swakheid bystaan wanneer ek nie weet hoe en wat om te bid nie, dat U namens my by God met versugtinge pleit, wat ek nie met woorde kan sê nie (Rom. 8:26). Verander my sodat ek aan die beeld van Christus gelyk kan word en die heerlikheid wat ek rondom my uitstraal, daagliks toeneem. Dankie Here my God, dat U my ook dra en help met alles wat oor my pad kom. Dankie dat ek na U toe kan gaan in die wete dat U my nooit sal verwerp nie. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page