Gedagte vir Vandag
Woensdag, 22 September 2021
Koos Espach
Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood (1)
Die paasmaaltyd word voorberei (1)
Koninklike diensbaarheid
Matt. 26:17-19 – “Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: ‘Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?’ Jesus het geantwoord: ‘Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’ Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.”
Vergelyk ook Joh. 13:2-5 – “Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. Jesus het geweet dat die Vader alles in Sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ‘n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.”
Die Paasfees (’n eendag-fees) begin eintlik Donderdagaand wanneer die son sak, ongeveer 18:00 in April, volgens ons kalender, in Jerusalem. Omdat die Paasfees en die Fees van die ongesuurde brood (wat sewe dae geduur het) in Nuwe-Testamentiese tyd saamval, word hier van “die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood” gepraat wanneer die voorbereidings vir die Paasmaal (soos die slag van ’n lam in die tempel) plaasvind. Aangesien die Paasmaal in Jerusalem geëet moes word, was Jerusalem gevul met feesgangers.
Op die dag van die voorbereiding moes nog gesorg word vir die slag en gaarmaak van die lam, die verkryging van die ongesuurde brood, slaai en bittersous, en ook die wyn en water. Jesus stuur, volgens Lukas, vir Petrus en Johannes (Luk. 22:8) om die nodige voorbereidings te gaan doen. Hulle sou in die stad ’n man ontmoet wat water dra soos ’n vrou dit sou doen, naamlik met ’n kruik, i.p.v. met ’n leersak. Hulle “het alles gekry soos Jesus vir hulle gesê het en die paasmaaltyd in die groot bovertrek wat klaar daarvoor ingerig is, voorberei (Luk. 22:10-13). In volkome gehoorsaamheid bring Jesus die heilsplan van sy Vader tot uitvoering, al weet Hy van die verskrikking van die kruis wat op Hom wag.
Die drie Sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas), meld niks van “Jesus se voetewassing” nie. Vergun ons egter om dit by te voeg omdat dit ‘n belangrike gebeurtenis is en daar vir ons ook ‘n les daaruit te leer is. Johannes op sy beurt, meld weer niks in hierdie gedeelte van die geleentheid of aard van die maaltyd nie, net dat “Jesus en sy dissipels aan tafel was.” Dit word egter aangeneem dat dit dieselfde geleentheid is wat die ander drie Evangelies beskryf as die Paasmaaltyd, waar die instelling van die nagmaal plaasgevind het.
Alles is gereed in die Bovertrek en die Paasmaaltyd is voorberei. Selfs die gewone waskom, kruik met water en doek is by die deur geplaas, spesiaal om die gebruiklike stof van hulle voete af te was voor hulle aanlê by die tafel. Die slaaf wat dit moet doen is egter nie daar nie, een van die dissipels sal dit maar moet doen. Almal neem hulle plekke in by die tafel. Nie een van die dissipels is egter bereid om die taak van ‘n slaaf te vervul nie, inteendeel, hulle het begin redekawel oor wie die belangrikste dissipel is (Luk. 22:24).
Jesus het miskien oor die tafel gekyk na Sy dissipels, en gewag vir een van hulle om aan te bied om hulle voete te was, die werk van ‘n heidense slaaf aan te neem. (‘n Joodse slaaf kon weier om dit te doen). Hy wag ‘n rukkie. Niemand het al aangebied om die werk van die slaaf oor te neem nie. Jesus het eintlik reg op die ereposisie: “Hy het geweet dat die Vader alles in Sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan”, maar in teenstelling daarmee, neem Hy die allerlaagste posisie, dié van ‘n slaaf in. “Hy trek Sy bokleed uit, maak ‘n handdoek om Hom vas en begin Sy dissipels se voete te was.”
Jesus Christus was nederig en gewillig om Sy regte prys te gee en ons Vader te gehoorsaam om mense te dien. Omdat ons daardie unieke deel van Christus is, kan Sy gedagtes ons gedagtes word en Sy gesindheid, ons gesindheid. Christus moet nie net aanbid word vir alles wat Hy is nie, ons moet soos Christus word! As ons met ‘n “Christushart leef”, behoort ons Sy nederigheid, sagmoedigheid, ootmoed, beskeidenheid, bedagsaamheid, minsaamheid, teerheid en lieftalligheid uit te straal. Dit was alles kenmerke van Jesus wat geweet het Sy dissipels gaan Hom verlaat, verloën en selfs verraai. Hy het aangehou om vir hulle lief te wees, ten spyte van hulle swakhede en onbetroubaarheid. Die beginsel wat deur Jesus geskep is lank gelede, bly vandag nog vir my en jou waar en effektief. Niemand is te belangrik om iemand anders se voete te was nie!
“Liefde haal die maskers af wat ons vrees ons nie sonder kan lewe nie, en dan ontdek ons dat ons nie binne hulle kan lewe nie” (James Baldwin).
Gebed: Here, U ken my soos ek is want niks is vir U verborge nie. Dankie dat U my steeds liefhet, ten spyte van al my swakhede. Dankie dat U my in besit neem, my as’t ware “gevange” neem om nuut gemaak te word, sodat ek aan U behoort. Verander my uitkyk, hoogmoed, onbedagsaamheid, selfgesentreerdheid, my alles, want ek wil deur die genade van ons Vader, dieselfde gesindheid van U toepas. Tot U eer. Amen.
Comentarios