top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 21 September 2021

Koos Espach


Judas onderneem om Jesus te verraai (1)


Plaas ons nie ook maar Jesus op die tafel vir ons materialistiese voordeel nie?


Matt. 26:14-16 – “Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: ‘Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?’ Hulle het hom toe dertig silwertmuntstukke betaal. Van toe af was hy op die uitkyk na ‘n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.”


Judas Iskariot is na drie jaar se omwandelinge saam met Jesus nog nie genees van sy innerlike hebsug en eersoekery nie. Die Evangelies verduidelik nie die redes vir Judas se optrede nie. Sommige Bybelverklaarders meen dat hy geldgierig was, ander dat hy ontnugter was omdat Jesus nie die verwagte politieke bevryder (Messias) was nie, of selfs dat hy Jesus probeer dwing het om die koninkryk gouer te laat kom. Lukas bring ál die moontlike motiewe onder een naam: “die Satan het in Judas ingevaar”(Luk. 22:3). Dit help nie om te spekuleer nie, maar dit blyk dat ook in sý optrede, God se raadsplan tot uitvoering kom.


Wie wás Judas Iskariot? Jesus self het hom uitgekies as een van Sy dissipels, hy is nie deur stemming verkies tot die posisie nie. “Hy is as een van die dissipels gereken en is ook gekies om ‘n aandeel in hulle werk te hê” (Hand. 1:17). Jesus het sy voete óók gewas; hy het van Jesus se brood geëet (Joh. 13:18b); hy was ‘n vertroueling, die penningmeester. Sy Bybelse CV lyk egter nie goed nie want daar is ongelukkig nie 'n deurlopende beskrywing van Judas se lewe nie. Hy verskyn slegs nou en dan op die toneel en opvallend, is daar niks goeds wat van hom vertel word nie. Alles wat ons van hom lees, is alleen sonde, inhaligheid en ongeregtigheid.


Bloot die noem van sy naam gryp elke Christen vir eeue lank al aan – die man wat net volgens Matteus, deur die priesterhoofde dertig silwermuntstukke as vergoeding vir sy verraad betaal is. In Judea, die Suide van Israel, die omgewing van Hebron, is die moontlike ruïnes van Kariot te vinde. Op hierdie plek, waarskynlik in die tyd toe Jesus in Bethlehem gebore is, is hier ook 'n seun gebore. Dit was in die huis van 'n man met die naam, Simon (Joh. 6:71). Soos elke ouerpaar was hulle seker ook opgewonde oor die geboorte van hulle seuntjie, en Simon en sy vrou besluit hulle gaan hierdie seuntjie 'n mooi naam gee: Judas, na aanleiding van die stamvader van die stam Juda. Soos alle nuwe ouerpare het hulle seker ook groot verwagtinge van baba Judas gekoester.


Die Hebreeuse naam Judas beteken: “Hy sal God loof!” Ai tog! Hoe vreeslik is die verwagtinge oor hierdie seun beskaam. Hy sou die man word wat Jesus verraai. Judas Iskariot – seun van Simon – man van Kariot – van wie Jesus sê: "Wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie" (Matt. 26:24b).


Ek deel graag hierdie “ope brief” wat ek eendag gelees het, die skrywer daarvan reeds vergete, maar dit was min of meer soos volg: “Dagsê Judas, Ja, ek besef jy sal nie hierdie brief kan lees nie, maar vir baie lank loop ek al met hierdie ding op my hart wat jy twee duisend jaar gelede aangevang het. Ek skryf dit in elk geval om mý hart skoon te kry. Ek wonder so baie keer hoe kon jy ons Verlosser en Koning verraai het? Wat het Hy aan jou gedoen om dit te verdien? Ek meen, jy het vir drie jaar saam met Hom gestap en al Sy goeie werke en wondertekens waargeneem, het dit nie jou tot ander insigte gestem nie?


Hy het jou soveel vertrou dat jy die beursie gedra het, Sy geld, jou mede dissipelbroers se geld. Jou inhaligheid het veroorsaak dat jy Maria uitgehaal het omdat sy duur nardusolie op Jesus se voete “uitgemors” het, dit terwyl jy van die geld in die beursie steel! Hoe het jy gevoel toe Jesus jou uitgevang het dat jy Hom gaan verraai? En dan het jy wraggies nog die vermetelheid om toe te laat dat Jesus jou voete ook was! Jou voete kon maar vuil gebly het want net daarna het jy met jou vuil hart, met daardie selfde voete na die priesterhoofde toe gehardloop en Jesus vir dertig silwerstukke gaan verraai! Hoe lank het jy gedink gaan daardie sakkie munte hou, kleingeld, in ruil vir Jesus se lewe? Hoe kon jy, is jy sielsiek? Ja, goed, jy wou die geld gaan teruggee nadat jy jou fout besef het, maar dit was te laat! Dit wys darem dat jy so bietjie spyt in jou donker hart gehad het!


Maar ... weet jy, soms ly ek ook aan ‘n Judashart, want ek leef in ‘n wêreld van vryheid-demokrasie – ek kan doen, dink en leef soos ek wil. Ek loop al amper 70 jaar saam met Jesus, weet van al Sy wondertekens en goeie dade wat Hy tydens Sy aardse lewe gedoen het, en dan draai ek my rug op Hom. Hy vertrou my met “Sy beursie”, maar vir my gaan dit oor die groot “Y” – waar ek blY, wat ek rY en wat ek krY. Ek hardloop net soos jy ook agter mammon aan Judas. Ek kan my nogal identifiseer met die feit dat Jesus jou planne oopgevlek het – ek sondig dikwels en dink ek kan dit ook wegsteek, net soos jy, Judas. Ek kom Sondae uit kerkdienste uit met die beste voornemens, net om Hom te verraai deur die week. Ek wou al menigmaal my hare uit my kop trek oor al my verkeerde besluite, gewens ek kon die horlosie terugdraai, my foute teruggee. Ek dink Jesus was al baie bedroef oor my, want die wêreld sluk ‘n mens mos in, nê Judas. Lyk my ek het maar ook ‘n Judashart ...!


“God sien deur ons: Soos ‘n lyk geklee kan wees in kosbare klere, so kan ‘n ongelowige siel geklee wees in godsdienstige belydenis” (William Gurnall).


Gebed: Here, as ek maar geweet het mammon se bank sluit net tydelike voordele soos status en voorspoed in. Sy geslepe bestuurder het my nooit vertel dat die belegging soos mis voor die son gaan verdwyn en die voorspoed, vervang gaan word met teëspoed, maagsere en spanning nie. Ek het ook nooit die fynskrif opgemerk nie – “die loon wat die sonde gee, is die dood” (Rom. 6:23a). Dankie Jesus, U waarborg ewige dividende met vergifnis van my Judashart, en verseker my belegging by U hemelse bank want U beskerm my met U lewe – “die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23b). Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page