top of page

Gedagte vir Vandag

26 Okt 2020

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.

(Matt. 16:21–25:46)

OM JESUS TE VOLG (2)

(Mark. 8:34-9:1; Luk. 9:23-27)

‘N WAARSKUWING EN BELOFTE!

Matt. 16:27-28 – “Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Vergelyk ook 2 Tess. 1:7-9 – “Aan julle lyding en ons s’n, sal God ‘n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ‘n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy magtige heerlikheid.”

Jesus verskuif Sy fokus nou van mense, na God wanneer Hy verwys na die wederkoms en Hy “beklee sal wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en elkeen volgens sy dade sal vergeld.” Jesus se verwysing hier dat “elkeen volgens sy dade” beoordeel sal word, moet in die konteks van die vers verstaan word. Ons word nie gered deur ons goeie dade nie, maar deur geloof alleen in Jesus Christus en wat Hy vir ons deur die genade van God aan die kruis gedoen het. Dit verwys na dade van selfverloëning. Jesus sal kyk of ons nee vir onsself gesê het en ja vir God, gehoorsaam was aan Sy roeping om ons kruis op te neem en Hom te volg.

Elkeen van ons word eintlik elke dag geoordeel deur die gesig wat uit die spieël na ons toe terugkyk, geoordeel op grond van die paaie waarop ons nie gegaan het nie, maar ook op grond van dié wat ons gegaan het, met of sonder ons kruis.

Dít is die uitkoms van hierdie lewe, dat die Here weer sal kom en dat Hy elkeen van ons volgens ons oorgawe sal vergeld. Die waarskuwing is dat elkeen eendag voor die Regterstoel sal móét verskyn. Ja, dis onvermydelik – elkeen móét sterf en elkeen móét voor die Regterstoel verskyn. Die belofte is dat ons ewige bestemming afhang van die wyse waarop ons onsself oorgee aan die Here en sy pad vir ons. Dit is asof Jesus ons voor die bors gryp en amper wil sê: “Luister na My, ek draai nie doekies om nie, God se Woord is waarheid. Luister daarna en lewe!” Dit is veral vir dié wat van die pad af is, nie lekker om dié nuus te hoor nie, maar dit moet ons nie keer om hulle herhaaldelik aan die waarheid te herinner nie.

Paulus gaan verder en spel in ons vergelykende teks, vir die Tessalonisense en alle gelowiges, wat ons insluit, duidelik uit wat gaan gebeur wanneer Jesus weer kom, sodat daar nie enige misverstand moet wees nie. Hier is duidelik twee groepe mense. Die een groep is die ouens wat eenvoudig net nie gehoor gegee het aan die oproep om Christus as hulle Verlosser aan te neem nie. Hulle moeilikheid is geboek. Hulle gaan hulle vuiste pap slaan teen die hemeldeur, maar dit gaan ongelukkig toe wees om nooit weer oopgemaak te word nie – “Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy magtige heerlikheid.” Verskriklik!!! Ai, hoe leeg is ’n wêreld waar God se goedheid en Sy groot liefde en krag onttrek is?

Maar dan is daar die ander groep. Die groep wat vir Jesus as hulle Verlosser aangeneem het, sal in verwondering staan. Ons oë sal glinster wanneer ons na Jesus staar (hoop jy is deel van ons). Ons sal van aangesig tot aangesig met ons hemelse Broer staan. Met Sy arms wyd uitgestrek sal Hy ons elkeen innooi om vir ewig saam met Hom ons intrek in die hemel te neem. “Hy sal dan verheerlik word deur almal wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Ons sal ook daar wees, want ons het Sy evangelie geglo” (2 Tess. 1:10). Sjoe, wat ’n wonderlike vooruitsig!!!

By watter groep staan ek en jy? Verlang ons ook na die hemel, of bly ons te lekker hier op die aarde? Baie maal verkies ons om nie te praat oor wanneer die Here ons kom haal nie, want ons voete is nog te lekker hier op die aarde vasgewortel. Eintlik het ons nie nou tyd om na die hemel te gaan nie, want ons is eenvoudig net te besig hier op aarde, en buitendien, mens plan mos nie om dood te gaan nie. Tog kan ons nou hier opstaan, ’n kramp op ons hart voel en as ons ons oë weer oopmaak, is dit só – weg, dood!

Bepeins Christus se wederkoms! Ons moet seker maak dat ons die regte waarhede beet het. Ons moet baie tyd en energie in God se Woord deurbring, sodat dit ons kan verander en help om die pad as dienaar te stap. Die pad sal dan besaai lê met “dade van selfverloëning” wat wegwys van ons as dienaar, maar heenwys na God. Ons moet seker maak dat ons sy Woord reg verstaan en dit dienooreenkomstig uitlewe. Ons kan nie maar net voortploeter en dink ons is op die regte pad nie. Ons kan nie maar net die lewe as diensknegte van God met ons eie interpretasie daarvan stap nie. Ons word so maklik van die regte pad af gelok en ons raak so vinnig gewoond daaraan dat ons nie eens besef dat ons op die verkeerde pad is nie. By watter groep gaan jy staan? Wie staan nie saam met jou daar nie? Wat kan jy doen om dit te verander?

“Die wederkoms is vir gelowiges in Jesus Christus ‘n geweldige waarborg want die “Skeidsregter” is partydig. Hy is ook die Wenkaptein wat die ‘game’ geswaai het. Hy blaas die eindfluitjie – die ‘laaste trompet’, wanneer dit vir Sy wenspan die beste is” (Claude Vosloo).

Gebed: Vader, help my deur u Gees om gereed te wees wanneer Jesus in heerlikheid weer gaan kom. Bewaar my van die vurige oordeel wat U gaan bring oor die boosheid van hierdie wêreld. Dankie dat ek my boksie kan afmerk dat ek nie onseker hoef te wees oor wat met my gaan gebeur as ek my laaste asem uitblaas nie – ek kry ’n groot geskenk, die ewige lewe. En ek hoef nie eers daarvoor te werk nie. Die lewe hierna, wat nooit gaan eindig nie is verniet, mahala, gratis en free. Dankie dat ek eendag vir Jesus in verwondering kan aanskou. Maak my oë oop vir dié wat nie in dieselfde groep as ek is nie. Gee my die moed om U verlossingsboodskap met hulle te deel. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page