top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 6 September 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (39)


Die profetiese rede: die laaste oordeel (4)


Dink soos ‘n dienaar


Matt. 25:40 en 45 – “En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen. Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”


Iemand het die volgende storie aan my gestuur. Ek het dit effens verwerk om aan te pas by die konteks en ek deel dit graag:


Die omie kom gebukkend, skuifelend die pad afgestap, sy verkreukelde hoed styf in sy hand vasgeklem. Die plooie trek donker dongas oor sy gesig, en sy oë is dof en blou. Sy klere hang soos ʼn meelsak om hom, sy skoene het al beter dae gesien. Sy hare wapper in drie slierte om sy voorkop, sonverbrand. "Boetie! Boetie!" roep hy na my. Ek gee hom een kyk en kyk dan anderpad. Net nog 'n boemelaar, net nog 'n bedelaar. "Boetie! Boetie!" roep hy weer.

Ek draai my rug op hom en sluit die motordeur oop."Boetie, boetie! Wag, ek wil met jou praat." Sy stem is skor. "Seker van al die drank," dink ek hardop, klim in die motor en sluit die deur. Hy struikel van die sypaadjie af, kom krom, oud en verwaarloos na my aangestap. Ek skakel die motor aan, kry trurat en verlaat hom, eensaam en alleen. "Kry vir jou werk. Maak soos ek maak, dit bring geld, dan kan jy suip tot jy omval," gaan deur my gedagtes. Ek kry eerste rat, wikkel die petrolpedaal en laat hom in ʼn stofwolk agter. Ek sien in die truspieël hy beduie, hande omhoog.

"Ja, joune ook," sê ek hardop, "net soos jou soort is - as jy nie iets kry nie, is ek altyd die skuldige." By die huis, vertel ek vir Vroulief van die voorbarige bedelaar wat ek gesien het. Vroulief is dadelik Moeder Hen: "Waar slaap die arme man vanaand? Dit lyk asof dit gaan reën." "Moenie oor hom worrie nie, sy soort het altyd 'n plan. Hy wurm hom met 'n sak wyn iewers in 'n kombers toe en verdrink die dag van môre. Pleks dat hy karre oppas. Dit sal daai drankgeldjies meer kosbaar maak."

"Swerwer, jy is ʼn harde man. Wat daarvan as hy drink? Hy is ook net ʼn mens, net soos jy," berispe Vroulief. "Wat, 'n man soos ek? As hy ʼn man was, het hy 'n manier gesoek om 'n geldjie te verdien vir sy lustigheid. Nou wil hy my geld bedel, dit waarvoor ek gewerk het, met my sweet, my arbeid ... Se dinges, vrou! Kom ons vergeet nou die episode, ek is klaar spyt ek het jou vertel." Vroulief stap kop onderstebo kombuis toe, ek maak my gemaklik op die stoep, bier in die hand.

"Kan ook nie jou mond hou nie," mompel ek. My hond kom lê onder die stoel en ek voer hom ʼn stukkie biltong. Hy lek my hand dankbaar. Eensklaps staan vrou in die deur. "Swerwer, ek het vir die man 'n pakkie kos gepak, ons vat dit nóú vir hom. Een van die kinders se komberse is ook oor die muur, vat dit ook." Ek ken die stemtoon, onverbiddelik. "Vrou, is jy gek? Die man is seker lankal weg. Gaan skep op, ek is honger," probeer ek walgooi. "Swerwerrrrrr ... as jy nie wil ry nie ... sal ek," druk sy dit uit. Ek weet teëpraat gaan nie help nie. My mooi van môre se dag hang hiervan af. Ek staan op, vat die motorsleutels en draai half vermakerig na haar: "Nou kom, as jy hom wil kos gee, doen dit self." Ons ry in stilte, met slegs die geruis van bande in ons ore. Vroulief klou die pakkie op haar skoot vas. Voor die koöperasie stop ek op dieselfde plek. In die lig van die voertuig sien ek hom op die sypaadjie sit, sy kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond.

"Sien jy, wat het ek jou gesê? Klaar dronk." Vrou ignoreer my, maak die deur oop en skud die omie aan sy skouers. Stadig lig hy sy kop en trane stroom oor sy wange. "Nog dronkverdriet ook," dink ek. "Omie, ek het ietsie gebring om te eet," praat Vroulief sag en vat sy hande in hare. Die omie se lyf begin ruk. Hy huil nou openlik en trane stroom deur die plooi-dongas. "Nooientjie, dis nie ek nie. Die tannie by die huis het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk al twee weke nie meer nie. Ek het asma, ek kon nie verder nie. Ek het ʼn kêrel probeer stop, maar hy het weggejaag sonder om te luister. Al wat ek kon doen, was om te bid. God het nou vir my 'n engel gestuur. Asseblief, gaan help die tannie ... asseblief, gaan help haar."


Ek sit met ʼn knop in my keel, trane wil oor die walle stroom, die hartseer is diep en skerp. My gemoed is stukkend, my siel in opstand. Waar en wanneer gaan ons besef: “Hy is een van die geringstes van Jesus se broers, hy is ook my broer? Waar en wanneer gaan ons besef respek en meegevoel kos niks? Wanneer gaan ons nie meer net op ons eie behoeftes konsentreer nie, en bewus raak van die behoeftes om ons? Wanneer gaan ons Jesus se voorbeeld volg – “Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem” (Fil. 2:7)? Ek en jy kan nie dienaars wees as ons vol van onsself is nie, ons moet dink soos dienaars. Ons kan net dienaars wees wanneer ons onsself tot iemand anders se voordeel verneder.


“Dis nie ‘n Christen se plig om jammer te wees vir noodlydendes nie. Om hulle te hélp natuurlik wel”

(Moeder Theresa).


Gebed : Here, ek is baie keer soos Swerwer. Regtig! En dit wil ek nie wees nie. Help my! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page