top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 1 September 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (36)


Die profetiese rede: die laaste oordeel (1)


Skeiding tussen goed en sleg


Matt. 25:31-33 – “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ‘n wagter die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.”


Om op te som: Die eerste ses gelykenisse van Jesus se “profetiese rede”, het hoofsaaklik te doen met die feit dat ons waaksaam en gereed moet wees vir Sy wederkoms wat onverwags gaan wees; Matteus 24:36-44 waarsku Hy ons om te alle tye gereed te wees; In Matteus 24:45-51 word ons opgeroep tot getrouheid; Matteus 25:1-13 gaan om áltyd voorbereid te wees; Matteus 25:14-30 belig getroue diens aan God.


Die finale gedeelte van Jesus se profetiese rede wat Hy aan Sy dissipels voorhou terwyl hulle op die Olyfberg sit, skets die laaste dae as 'n tyd van oordeel. God se oordeel oor die volke is deel van die standaardtoekomsverwagting soos Jesaja reeds profeteer het eeue gelede: “God sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke …” (Jes. 2:4). “Al die volke” aan wie die evangelie reeds verkondig is (24:14), “sal voor die Seun van die mens se regterstoel verskyn.”


Gemengde troppe kleinvee is gewoonlik saans geskei sodat die bokke warm in ’n grot kon oornag en die skape met hulle lang wol in ’n oop kraal. Skape was destyds meer werd a.g.v. die waarde van hulle wol. Net so, sê Jesus, sal “Hy die mense van mekaar skei wanneer Hy in majesteit kom en op sy koninklike troon gaan sit.” Dié aan Sy regterkant word beskou as die goeie kant en word gereserveer vir die mense met eer, terwyl die mense aan die linkerkant, as die swak kant beskou word, diegene met minder eer. Dan gaan Jesus “regverdig oordeel tussen skaap en skaap en tussen skape en bokke. Party van julle het die beste gras afgewei en boonop wat oorgebly het, vertrap, skoon water gedrink en wat oorgebly het, vuil gemaak. My ander skape moes die gras vreet wat deur julle vertrap is en die water drink wat deur julle vuil gemaak is” (Eseg. 34:17-19).


“Al die volke”, m.a.w., ál die nasies, álle mense, sal op die laaste dag “voor Hom bymekaar gebring word.” Niemand sal afwesig wees nie. Die Bybel sê die doderyk en die see sal almal teruggee wat in hulle is. Niemand gaan oorgeslaan word nie. Daar kom ‘n eindoordeel, waar elkeen, sonder uitsondering, voor die hemelse Regter sal móét verskyn. Dáár sal die finale skeiding plaasvind. Ons lewe hier en nou bepaal die hiernamaals – “God sal elkeen vergeld volgens sy dade.” (Rom. 2:6). Wat ek en jy nou doen of nie doen nie; hoe ons glo of nalaat om te glo, is maniere waarop ek en jy ons voorberei vir die ewigheid. Die keuse is uitsluitlik ons s’n. Om onsensitief te wees teenoor die geloof in Christus Jesus en die sonde, is om onsensitief te wees teenoor die teenwoordigheid van Jesus Christus!


Verlang ons ook na die hemel, of bly ons te lekker hier op die aarde? Baie maal verkies ons om nie te praat oor wanneer die Here ons kom haal nie, want ons voete is nog te lekker hier op die aarde vasgewortel. Eintlik het ons nie nou tyd om na die hemel te gaan nie, want ons is eenvoudig net te besig hier op aarde. Tog kan ons nou hier opstaan, ’n kramp op ons hart voel en as ons ons oë weer oopmaak, is dit so.


Dit is nie maklike vrae nie, maar een of ander tyd sal ons die vrae moet beantwoord en hopelik is dit nie te laat nie. Ja, ons weet dat ons elkeen reeds die prys van verlossing ontvang het omdat Jesus aan die kruis gesterf het. In hierdie onsekere en onbestendige wêreld, is daar vir ons as kinders van God, heerlike sekerhede: Ons weet dat ons onlosmaaklik aan Jesus behoort, dat ons skape van Sy kudde is (Joh. 10:14); ons weet dat Hy in ons bly (1 Joh. 3:24); ons weet verseker dat alle dinge vir ons ten goede meewerk, op tydelike en geestelike gebied (Rom. 8:28). Die vraag wat ek en jy moet antwoord is of ons waaksaam bly, om te verseker of ons aan Sy linker- of regterkant gaan staan?


“Die uitverkiesing is nie ‘n gebod van God wat wil uitwis nie; dit wil juis red” (Augustus Strong).


Gebed: Dankie Jesus dat U my lewe vul met U teenwoordigheid en vrede. Dankie Vader dat ek nie hoef te vrees vir die oordeel nie want Jesus het vir my daardie versekering gegee: “Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh. 5:24). Dankie Jesus dat U my met God versoen het en daarom kan ek Hom met vrymoedigheid, my Vader noem (Rom. 5:1). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page