top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 31 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (35)


Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke (6)


Deel vol bakkies uit


Matt. 25:19 – “Na ‘n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.”


Ons bure oorkant die straat gee altyd iets terug as hulle iets van ons gekry het. As ons ’n bakkie kos of ’n warm broodjie of ietsie lekkers oorstuur, kom die bakkie nooit leeg terug nie. Of dit nou ’n sakkie koekies is of ’n paar vrugte, hulle kan nie ontvang sonder om terug te gee nie. Daarom stel die Hebreërskrywer die volgende vir my so mooi: “God is regverdig. Hy sal onthou wat julle alles vir Hom doen. Hy weet dat omdat julle Hom liefhet, julle gedurig ander Christene help en altyd reg is om te help waar julle kan” (Heb. 6:10 - Die Boodskap). God se ‘onthou’ beteken baie meer as bloot dat Hy ‘n onfeilbare geheue het. Dit beteken dat Hy die gelowiges aktief sal onthou om aan hulle goed te doen en op ‘n heerlike wyse, aan hulle erkenning gee.

Soos die bure nie anders kan as om terug te gee, omdat hulle ontvang het nie, kan die mense wat God liefhet, hulleself nie keer om goed te doen aan ander nie. Hulle ontvang soveel in hul liefdesverhouding met God. Keer op keer, dag vir dag, ontvang hulle bakke vol genade van God. Hulle kan nie die bakke leeg terugstuur nie. Dit gebeur eintlik outomaties dat hulle in reaksie op dit wat hulle ontvang, nie anders kan as om terug te gee nie. Dis ’n ongeskrewe reël.

In die begin van Covid-19-tyd hoor ek hoe ’n ou oom wat moes gaan vir toetse, vir die verpleegster vra of sy nie weet waar hy toiletpapier kan koop nie, want die supermarkte in sy omgewing het geen voorraad meer nie. Daardie aand daag die verpleegster en haar vriendin by die oom en tannie se voordeur op met ’n sak vol toiletpapier. Die vriendin was by tien winkels voordat sy toiletpapier in die hande kon kry. Hulle het die toiletpapier afgelewer en is daar weg sonder om betaling daarvoor te aanvaar. Hierdie eenvoudige daad vertel iets van die verpleegsters wat self baie ontvang het en daarom hulleself nie kon keer om die bak vol te maak en aan te stuur vir ander in nood nie.


Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die katedraal in die Duitse stad Strasbourg deur ‘n bomaanval vernietig. Ná die oorlog was mense besig om die rommel van die eens statige kerkgebou, op te ruim en ‘n lewensgroot standbeeld van Christus onder die rommel ontdek. Die beeld was ongeskonde behalwe dat albei hande af was. ‘n Beeldhouer het aangebied om die beeld te herstel en weer hande aan te bring. Die kerkraad het egter geweier en besluit om die Christusbeeld sonder hande in die nuwe kerkgebou te behou. Hulle het bygevoeg: “Ons Christusbeeld sonder hande sal ons altyd daaraan herinner dat Christus wel die harte van mense kan aanraak, maar dat Hy óns hande nodig het om Sy dienswerk op aarde te verrig.”


Ware diensbaarheid vra van my en jou die bereidheid om klein, eenvoudige takies vir ander mense te doen. Diensbaarheid behels ook hulp aan diegene wat nie hulp verdien nie; dit eis dat ons soos Jesus, gewillig sal wees om die dinge te doen waarvoor ander mense hulle neuse optrek. Dit is ons taak as Christene om diensbaar te wees – vir Christus en ons naaste. En wanneer ons die bakkie vol aangee na die mense om ons wat dit so nodig het, is daar nog goeie nuus. God onthou elkeen van die dade. Nie dat ons dit doen om gesien te word nie. Ons doen dit mos maar net uit dankbaarheid.

Kom ons wees altyd gereed. Kom ons sit in afwagting om plekkies raak te sien waar ons een van die bakkies wat ons ontvang het, kan volmaak en gaan uitdeel aan dié wat dit so nodig het. Kom ons wees Jesus se hande en voeg daad by die woord en dóén uit liefde. “Ek was honger en dors – julle het ‘n kommissie benoem om my nood te bespreek. Ek was in die gevangenis – julle het my stilweg vermy en gebid vir my ontslag. Ek was naak – julle het ‘n vergadering belê om die etiek van bedelary te debatteer. Ek was eensaam – julle het my alleen gelaat en vir my gaan bid. Julle bid só mooi en praat só baie – maar ek is steeds honger en haweloos en baie eensaam” (Uit Fyn en Silwer Woorde).


“Iemand wat nie sy gawes ten volle benut nie, is besig om kosbare lewenstyd te mors. Jy lewe immers om te dien” (Ds. Johan Smit).

Gebed: Vader, my bakke is altyd vol. Ek ontvang daagliks so baie van U af. Help my om plekke raak te sien waar U vir ander wil gee. Help my om U vol bakke daar te gaan aflaai. Maak my gewillig om diensbaar te wees, nie net sal bid en organiseer nie, maar aktief betrokke te raak by die nood van ander. In Jesus se Naam. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page