top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 26 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (32)


Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke (3)


Diens is tot God se eer


Matt. 25:24-27 – “Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u ‘n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is ‘n slegte en ‘n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het.”


Die klem val nou op die derde, “die slegte en lui (nuttelose) slaaf”. Hy bring sy eienaar se talent ongeskonde terug. Hy het eenvoudig net nie met genoeg oorgawe en inspanning hom aan die uitvoer van sy verantwoordelikhede gewy nie. Boonop verwyt hy nogal die eienaar van onregverdigheid. Die eienaar reageer met bytende sarkasme dat die slaaf dan minstens ’n bietjie rente kon verdien het. (Tegnies was die hef van rente teen die Joodse wet (Eks. 22:25), maar daar was maniere waarop die slaaf die talent produktief wins kon laat maak het. God se koninkryk vra nie net om nié na te laat wat gedoen moet word nie, maar dit gaan om méér: slegs gehoorsaamheid is voldoende.


Jesus vertel hierdie gelykenis juis aan Sy dissipels om getrouheid te verseker, die nougesette uitvoering van die verantwoordelikhede wat die Here aan Sy dissipels en ons Christene uitdeel. Die “slegte en lui slaaf is bang vir sy eienaar.” Hy weet dat daar van hom rekenskap gevra gaan word. Van die begin af verstaan hy die lewe ook heeltemal verkeerd. In sy kop is die eienaar ’n slawedrywer – hard en veroordelend en hy is maar net ’n slaaf, ‘n dienaar wat die bietjie wat hy het, ten alle koste moet bewaar. Sy gesindheid agter sy sogenaamde vrees, is ’n verdraaide Godsbeeld, ‘n God wat ‘n “harde en onbarmhartige Man is.”

Uiteindelik is dit duidelik dat die derde slaaf ontrou was aan sy roeping. Die ander twee slawe het hulle talente verdubbel. Alhoewel hulle nie ewe veel talente ontvang het nie, ontvang hulle dieselfde loon. Dit gaan dus nie oor die kwantiteit van die gawes wat ons ontvang nie, maar oor ons getrouheid. Waar die derde slaaf sy gedrag vanuit ’n perspektief van vrees verduidelik, vertolk die eienaar dit as luiheid.


Paulus skryf in sy brief aan die Efesiërs: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10). Elkeen van ons is God se handgemaakte kunswerk en is doelbewus geskep om Hom op ‘n manier te dien wat ons bediening uniek maak. Daarom maak ons dienaars nie verskoning nie, stel nie uit nie, en wag nie vir beter omstandighede nie. Getroue dienaars sê nie “eendag of wanneer die tyd ryp is” nie. Jesus wil beklemtoon dat dienaars doen wat gedoen moet word met die gawes wat ons ontvang het sonder om uit te stel of eers die “gawe te gaan begrawe” en te wag vir ‘n beter tyd om dit te gebruik. Ons kan nie en mag nie dienswerk onderaan ons lys van “dinge om te doen” skryf nie.


Soos ons reeds genoem het, weet ons nie wanneer Jesus se wederkoms gaan plaasvind nie; wanneer “die eienaar van daardie slawe terugkom en van ons rekenskap vra nie”, daarom moet ons elke kans aangryp om ons gawes te gebruik en geleenthede skep waar ons dit kan gebruik. Geleenthede om dienswerk te verrig is meestal van korte duur, en sommige kere ook dikwels die enigste kans. “Moenie vir iemand sê: ‘Gaan eers terug en kom môre weer, dan help ek jou,’ as jy nou reeds kan help nie” (Spr. 3:28). Ek en jy moet net gewillig wees om ons gawes as dienaar te gebruik – God sal ons dan kan gebruik as ons soos ‘n goeie verantwoordelike dienaar begin optree en dink – en om Jesus se voorbeeld te volg: “Jesus het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem” (Fil. 2:7). Ek en jy moet dus minder word en Jesus meer – om Hom en ons naaste te dien, is tot God se eer.


“Doen al die goeie dinge wat jy kan, op al die moontlike maniere, op al die moontlike plekke, en op al die moontlike tye, so lank as wat jy kan” (John Wesley; 1703-1791).


Gebed: Liewe Jesus, dankie dat U my deur hierdie gelykenis wil leer dat ek my gawes blymoedig moet aanwend om ‘n diens te lewer. Ja, selfs diensbaar te wees aan hulle wat nie my hulp verdien nie, maar juis van my eis om soos U te wees, “die gestalte van ‘n slaaf aan te neem” om diensbaar te kan wees. Ja, Here, ek moet erken dit is nie altyd lekker nie, maar dit is áltyd die moeite werd. Help my om “bereidwillig te wees om te dien en só aan God eer toebring” (2 Kor. 9:13). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page