top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 25 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (31)


Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke (2)


Arbeidsvreugde


Matt. 25:19-23 – “Na ‘n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde.’ Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’ Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!”


By die eienaar se terugkoms moet die slawe rekenskap kom gee van hulle rentmeesterskap. Die eerste twee slawe leef die koninkrykslewe. Hulle gaan elkeen en verdubbel dit wat hulle ontvang het, hulle toon ’n honderd persent wins op dit waaroor hulle aangestel is. Die eienaar beloon die slawe met die woorde: “Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel.” Die beloning in albei gevalle is dat hulle groter verantwoordelikheid opgelê word in verhouding tot die bekwaamheid wat hulle aan die dag gelê het. Hulle was in ’n klein saak getrou, en word nou oor ’n groot saak aangestel. Hulle word oor nog baie meer aangestel. Die woorde: “Kom in en deel in my vreugde”, wil ook vir ons aandui dat die slawe wat getrou was, se status verander het. Hulle is nou nie meer slawe nie, maar hulle word nou soos familie wat in die eienaar se vreugde kan ingaan en dit saam met hom geniet.


Daar is seker min ervarings wat meer bevredigend is as om ‘n Godgegewe taak na die beste van ‘n mens se vermoë te voltooi. Saam met hierdie bevrediging kry mens die gevoel van prestasie wat jou groot vreugde gee. Maar, dis net daar waar dit nie eindig nie. Ons kan nie nou agteroor gaan sit en dink ons kan niks meer vir God en Sy koninkryk doen nie. As ons in een taak getrou was, gaan God ons weer gebruik om nog take te doen. By ‘n Christen bestaan daar nie ‘n aftreeplan in God se arbeidsveld nie! Ons is Sy hande en voete op aarde. Ek en jy kan nie vir een oomblik dink dat God tevrede moet wees met ‘n godsdienstige kniebuiging in Sy rigting wanneer dit ons pas nie. Hy vra daaglikse toewyding van ons, toewyding waaroor Hy “rekenskap van ons gaan eis met Jesus se terugkoms.”


Ware dienaars bly getrou in hulle bediening. Ons maak ons take klaar, voer ons verpligtinge uit, hou ons beloftes en vervul ons verpligtinge. Getrouheid was maar nog altyd ‘n seldsame kenmerk. Salomo het dit al in sy tyd opgemerk: “Baie gee te kenne dat hulle getrou is, maar wie kan ‘n werklike betroubare mens vind” (Spr. 20:6). God verwag van ons dat ons in Sy koninkryk moet doen wat ons kan met wat ons het, waar ons ook al is. Dit hoef nie volmaak te wees nie en ook nie “grootse” dinge te wees nie. Onthou, Jesus het takies gedoen wat ander mense vermy het: voete gewas, hand gee met kinders, ontbyt gemaak, melaatses versorg ...! Geen taak was benede Hom nie, met ‘n dienaarshart is geen take benede ons nie.


Kan God op ons reken? Kan ander mense op my en jou reken? God toets hoe getrou ons is en ons sal eendag moet “rekenskap gee wat ons met die gawes gemaak het wat Hy aan ons toevertrou het.” As ons die toets slaag, is ons in goeie geselskap soos Abraham, Moses, Samuel, Dawid, Daniël, Paulus en Timoteus, wat almal getroue dienaars van God genoem is. Ons moet die Here elke dag dien met oorgawe, nie omdat Hy ons iets skuld of in ons mag is nie. Nee, dien Hom net ter wille van wie Hy is: Die Almagtige, die Een wat sy Seun in my en jou plek laat sterf het. Kom ons skeur ons bedankingsbriefie op wat ons voor God se deur wil neersit. Dink net hoe gaan ek en jy voel wanneer God eendag vir ons sê: “Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!”


“Wat ‘n mens vir ander met liefde en sonder betaling doen, is ‘n belegging in die hemel en die Here sal dit dubbelvoudig vergoed. Belê liewer in die hemel. Dáár word die hoogste rente betaal” (Ena Murray).


Gebed: My Vader, ek wil U dien sonder om enige kostes te bereken, omdat U die Bron van my inspirasie is en “ek tot alles in staat is deur U wat my krag gee” (Fil. 4:13). Dankie dat U nooit meer van my verwag as waartoe U my die krag gegee het en die gawes wat U aan my toevertrou het nie. Maak my gewillig om diensbaar te wees, my moue op te rol en aktief betrokke te raak waar U my nodig het. U Naam ter eer. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page