Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 24 Augustus 2021
Koos Espach
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (30)
Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke (1)
Woeker met ons gawes om wins te maak in die koninkryk van God
Matt. 25:14-18 – “Verder gaan dit soos met ‘n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir ‘n ander twee, en vir ‘n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en ‘n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het ‘n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het ‘n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.”
Jesus vertel nog ‘n gelykenis aan Sy dissipels terwyl hulle op die Olyfberg sit, wat, soos die die ander twee (getroue en ontroue slaaf en die tien meisies), die kritieke belang van die oproep tot waaksaamheid en diensbaarheid beklemtoon. Daar is baie misverstand hieroor en die beste skrifverklaarders het dit eens dat hierdie gelykenis in konteks beteken dat Jesus nie oor rykes of armes of geld praat nie, maar oor hemelse gawes of talente, in die wydste sin van die woord.
Die talente is bepaald ook nie die talente waarvan ons praat wanneer ons sê dat iemand talentvol is nie. Die geld wat destyds die meeste waarde gehad het, was talente. Een talent was gelykstaande aan die dagloon van ses duisend mense, dus iets met ’n baie hoë waarde – die talente is gawes van God (wat baie werd is) en hulle simboliseer geleenthede om goeie werke te verrig, gawes waarmee ons moet gaan woeker.
Dit was gebruiklik in daardie tyd dat ’n welgestelde eienaar sy besittings aan sy slawe of amptenare, in sy afwesigheid toevertrou. Die eienaar het sy besittings onder sy slawe verdeel volgens hulle vermoëns. Sou ‘n slaaf misluk kon hy nie die eienaar verkwalik dat hy te veel van hom verwag het nie. Die slawe se aktiewe getrouheid en persoonlike verantwoordelikheid in die uitvoering van hulle taak totdat hulle eienaar terugkom, het dus afgehang wat hulle daarmee doen.
Die eerste twee slawe spring aan die werk en maak elkeen, volgens sy bekwaamheid, 100% wins. Die derde slaaf loop geen risiko van verlies nie, maar maak ook geen wins nie. Hy tree darem verantwoordelik op deur die talent te begrawe, ’n erkende praktyk in daardie tyd (vgl. Matt. 13:44). Maar tussen toe en nou is daar ‘n hemelsbreë verskil. Wanneer ons begin om ons gawes tot eer van God te gebruik en dit nie onder ‘n maatemmer wegsteek nie, wanneer ons doen wat Hy vra totdat Jesus weer terugkom, is ons besig om geestelik “wins te maak.” Indien ons egter ons gawes verkwis en nie daarna streef om God se wil uit te voer nie, is ons besig om geestelik bankrot te speel!
John Maxwell, ‘n Amerikaanse teoloog, skryf dat elkeen van die talente wat ons ontvang het, nie toevallig in dieselfde mens is nie. Ons is nie net nog ‘n nommer nie maar baie spesiaal in God se oë. Elkeen het spesiale gawes ontvang volgens sy of haar vermoë en daarom moet ek en jy ons skoene volstaan wat vir niemand anders pas nie. In elkeen van ons is daar ‘n ongelooflike potensiaal wat net wag om ontwikkel te word, en dan die heerlikste dag van jou lewe te ontdek wanneer jy jou potensiaal gebruik.
Jesus Christus het aan my en jou, volgens ons bekwaamheid, alles gegee wat ons nodig het om Sy werk te doen terwyl Hy weg is. Niemand is belas met 'n gawe of talent wat hy of sy nie kan hanteer nie. Elkeen is bedeel met wat ons in staat is om sinvol te gebruik. God se bedoeling is nie dat ons as Sy dienaars swaar moet kry, dat ons talente 'n berg voor ons moet wees nie, maar dat dit tot seën vir ons sal wees. Ons as Christene moet hierdie lewe ten diepste as gawe van God sien. Van die begin af verstaan ek en jy ons lewe as God s’n. Maar dit kom met ’n opdrag, ’n roeping: Gaan maak wins daarmee. Woeker met God se bates. Lééf nou, gebruik ons gawes tot voordeel van ander en tot God se eer! Dan groei God se beleggings in ons lewe – die koninkrykslewe. Die koninkrykslewe is die lewe van die nuwe mens. Ek en jy is mos deel daarvan!
“Ons gawes is ons geskenk van God af. Wat ons daarmee doen , is ons geskenk aan Hom”
(Leo Buscaglia; 1924-1998).
Gebed: Almagtige Vader, dankie dat U bepaal het dat ek my lewe binne sekere beperkings en ruimtes moet lewe. Dankie dat U dan ook aan my gawes gegee het wat nie soos ‘n berg voor my lê nie, maar dat ek juis die take kan tegemoet gaan met die krag wat U my skenk. As U my roep om deur donker dieptes te gaan, help my om nie ompaadjies te soek nie. Help my om geen geleentheid tot diens aan U van die hand te wys nie. Tot U eer en om Jesus se Naam. Amen.
Comments