Gedagte vir Vandag
Maandag, 23 Augustus 2021
Koos Espach
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (29)
Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies (5)
God se volmaakte tydsberekening
Matt. 25:13 – “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit (die wederkoms) sal gebeur nie.”
Die wederkoms van Jesus Christus word 318 maal in die Bybel genoem. Die Woord van God laat ons dus hoegenaamd nie in twyfel dat Jesus weer sál kom nie. Jesus het dan ook belowe dat Hy hemel toe opvaar om vir ons Christene plek gereed te maak en dan weer sal terugkom om ons na Hom toe te neem (Joh. 14:3). Sy eerste dissipels het verwag dat hierdie belofte van Hom in hulle leeftyd nog in vervulling sou gaan. Daarom is hulle deur die mense van hulle tyd bespot: “En wat het nou geword van die belofte van die wederkoms?” (2 Pet. 3:4). Christus het wel nie in hulle leeftyd weer gekom nie en sover, ook nog nie in ons leeftyd nie. Maar weer aarde toe kom vir ‘n tweede maal, sal Hy beslis, so seker as wat die son skyn, Hy sê sélf so, en ek glo Hom!
Christus kom eintlik drie maal in ons lewe: Die eerste maal tot verlossing van die hele wêreld; die tweede maal kom Hy in elkeen se lewe wat bereid is om deur die Heilige Gees tot bekering gelei te wil word; die derde maal kom Hy met ons dood of met Sy wederkoms – watter gebeurtenis ook al eerste mag wees. Daarom moet ons te alle tye “waaksaam wees, omdat ons nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.” Laat ons dan leer dat alles wat aan tyd gebonde is, alles wat nie na God toe lei nie, van verbygaande aard is in die daaglikse trant van ons bestaan. Dis net God se genade en geloof in Jesus Christus wat saak maak. En hiervoor berei die Heilige Gees my en jou harte voor.
Op feitlik elke gebied van die lewe moet ons goed voorbereid wees vir sinvolle deelname. Voor ‘n eksamen, huwelikseremonie, sportdeelname, nuwe projekte, belangrike vergaderings en vele meer, is daar deeglike beplanning en opofferings nodig om alles vlot te laat verloop, sodat ons nie soos die vyf onverstandige meisies, onvoorbereid moet skarrel om alles op die einde te wil organiseer nie. Net so moet ons beplan voor Jesus se wederkoms sodat ons nie hierdie feestelike geleentheid, geestelik onvoorbereid tegemoet gaan nie. Ek en jy moet gedurig bid dat die Heilige Gees ons harte voorberei dat ons nie aan die slaap gevang word en die feesmaal van die Bruidegom misloop nie.
Daarom het Jesus aan ons gesê dit is noodsaaklik dat ons gereed sal wees om Hom met sy wederkoms te ontmoet, nie as gevolg van oorhaastige voorbereidings nie, maar waaksaamheid wat gegrondves is op die fondamente van die voorskrifte van die Heilige Gees. Dit word vertel dat die Pous om middernag 31 Desember 1999 die laaste avondmaal gevier het saam met sy volgelinge. Die St Petrus Basilika in Rome was volgepak met mense wat al hulle besittings, aan die armes uitgedeel het. Hulle het plat op die vloer gaan lê in ‘n kruisvorm. Toe die klokke om middernag begin beier om die nuwe millennium aan te kondig, het sommige uit pure vrees gesterf. Toe die klokkespel verby was en die aarde nie oopgeskeur en geen vuur uit die hemel neergekom het nie, het die mense mekaar huilend omhels – dit was toe nie die verwagte wederkoms nie – want dit was nie volgens God se volmaakte tydsberekening nie!
Wat beteken Jesus Christus se wederkoms vir my en jou persoonlik? Die genadetyd het uitgeloop, maar omdat ons waaksaam is, in Jesus Christus glo en in ‘n verhouding met Hom leef, word ons veilig bewaar vir die saligheid (1 Pet. 1:5). Alles sal nuut gemaak word deur ons Vader (Rom. 8:21). Jesus, die Koning van ons lewe sal verskyn en ons sál Hom in al Sy glorie aanskou (1 Pet. 1:7) – onbeskryflik! Jesus sal in Sy volle heerlikheid geopenbaar word (1 Pet. 1:13). Die dood word vir ewig vernietig (1 Kor. 15:25-26). Dit sal vir ons die deurslaggewende en bepalende dag wees want Jesus sal die verlossing van ons gelowiges voltooi (Rom. 8:22-23; Heb. 9:28). Is dit nie genoeg redes vir ons om waaksaam te wees nie? Terwyl ons dan wag vir Jesus om weer te kom, laat toe dat ons deur God se genade gedra word. Hy sal ons enduit laat vas staan sodat daar geen aanklag teen ons sal wees wanneer Jesus weer kom nie (1 Kor. 1:8).
“Ons moet op Jesus Christus wag, lank en nederig, in die wind en in die reën, in donder en weerlig, in koue en in son. Wag, en Hy sál kom na elkeen wat geduldig en waaksaam is” (Frederick W Faber; 1814-1863).
Gebed: Gees van God, help my om geduldig te wag op God se volmaakte tydsberekening. Versterk my geloof en skenk my die vrede en gemoedsrus om enduit vas te staan in my afwagting om Jesus met toejuiging en blydskap tegemoet te gaan, wanneer Hy weer kom. Amen.
Commentaires