Gedagte vir Vandag
Donderdag, 19 Augustus 2021
Koos Espach
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (27)
Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies (3)
Die uur waarin ons die Bruidegom tegemoet gaan
Matt. 25:6 – “In die middel van die nag was daar ‘n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!”
President Cyril Ramaphosa kondig op 23 Maart 2020 aan dat Suid Afrika vanaf 26 Maart tot 16 April, vir ‘n tydperk van 21 dae ingeperk word om die verspreiding van die Corona-virus te beperk. Niemand besef hoe ernstig die COVID-19 pandemie is wat die wêreld skielik, “in die middel van die nag”, in ‘n wurggreep geplaas het nie. Niemand het geweet presies hoe die wêreld oor ’n maand sou lyk nie. Al wat ons met sekerheid kon sê, was dat dit heel anders gaan lyk as waaraan ons gewoond is. Nou is dit al meer as 16 maande later, en talle mense het gesterf en sterf steeds – vanoggend se progressiewe dodetal net vir Suid-Afrika was meer as 78 000! Covid is volhardend besig om die lewens van mense te verwoes. Dit veroorsaak angs by baie mense. Getalle het begin name word en geliefdes na aan ons, is weggeruk, families is onderstebo gestamp. Mense het begin besef: daar is maar ‘n enkele tree tussen ons en die dood.
Mense praat nie sommer oor die dood nie. Dit is nie ’n maklike onderwerp nie en eintlik verkies ons om dit te vermy. Menigte mense dink dis in ieder geval nog glad nie in hulle visier nie, want dit kom eers aan die einde van ons lewe by ons lewenshuis ingestap. Dit is so. Dis eintlik voor die hand liggend dat dood eers by die einde van ons lewe ingestap kom. Al probleem is dat ons nie lekker weet wanneer dit die einde van ons lewe is nie, want dood kan enige tyd van ons lewe sy opwagting maak. Die vraag is: Sal ons Jesus, die Bruidegom met vreugde kan ontmoet wanneer Hy op ons sterfdag na ons toe kom?
As ek eerlik moet wees, is ek effe bang vir die dood. En oor dié stelling het ek al baie pak gekry, want Christene moet mos nie bang wees nie. Tog het ek ’n vrees vir die onbekende. Ek weet waarheen ek gaan. Maar as ’n mens nie iets ken nie en nog nie daar was nie, is daar mos maar ’n tikkie onsekerheid. Dit is heel normaal om bang te wees vir die onbekende. Ek dink dis heel normaal om skrikkerig te wees vir die dood, want vir ons almal is dit onbekend. Maar, feite, vir die lewe hierna hoef ons nie bang te wees nie.
Dis hier waar dit vir ons as Christene makliker is. Agter die geheim van die dood, sien ons Christene egter die groter majesteit van die Lewe. Die Bruidegom kom in ons sterwensuur na ons toe, die uur waarin ons Hom tegemoet gaan, die uur waarin ons die Vors van die Lewe ontmoet. Die wederkoms van Jesus en die dood staan eintlik direk teenoor mekaar – die dood is ‘n vyand en Jesus se wederkoms ‘n vriend; die dood is ‘n straf vir sonde maar Jesus se wederkoms maak ons vry van die sonde en die ewige straf, naamlik die dood!
Dis normaal om te huil oor ‘n geliefde wat ewe skielik uit ons lewens geruk word. Ons kry onsself jammer, want ons harte het seergekry. Ons gaan ons geliefde mis, want elkeen se seerkry het 'n ander naam. Ons trane en onseker wees is dieselfde, maar op ’n manier kan ons ook feesvier, want ons weet waarheen hy of sy is. Ons weet dat hy of sy nou by die Ewige Verlosser sit. Daarom kan ons ook op begrafnisse feesvier, want ons geliefde is op ’n baie beter plek. (Ek wil graag hê dat my vriende en familie ná my begrafnis eendag ’n groot braai hou. Ek wil hê hulle moet feesvier omdat ek op ’n beter plek is. Hulle moet saam met my bly wees dat ek uiteindelik by my Verlosser is.)
Die dood en begrafnisse is nie ’n maklike ding nie. Vir predikante en pastore is dit soms nog moeiliker, veral as hulle nie eens die persoon geken het of weet dat die persoon glad nie ’n gelowige is nie. Wat sê ’n mens nou op so ’n begrafnis? Daarom moet ek en jy só lewe dat dit maklik is vir hulle om iets by ons begrafnis te kan sê.
Lewe só dat die mense wat hartseer is, hartseer is omdat daar nou ’n gat in hulle lewe is en nie omdat hulle nie weet waarheen ons gegaan het nie. Lewe ’n lewe van hoop, want ons sit met ’n sak vol hoop vir die lewe hierna! Is jy ook skrikkerig vir die lewe hierna, bang? Het jy hoop? Gaan jy jou Verlosser ontmoet? Kom ons sê dit weer vir mekaar: Omdat ons in Jesus glo, omdat ons glo dat Hy die pad deur die dood klaar gestap het, omdat Hy die dood oorwin het, kan ons rustig wees oor die dood. Deur God se toedoen en genade kan ek en jy Hom tegemoet gaan en met ‘n juigkreet begroet: “Hier kom die Bruidegom!”
“In hierdie wêreld roep Jesus Christus ons toe: ‘Kom!’ In die wêreld hierná staan Hy gereed om uit te roep: ‘Welkom!” (John Donne).
Gebed: Ja, Here, wanneer ek oor die dood dink, is daar so ’n stukkie onrustigheid oor die onbekende. Maar met die bietjie angs is daar ’n sak vol hoop, want ek weet ek gaan U dan in lewende lywe ontmoet. Dankie vir die wonderlike wete dat as ek klaar is met die lewe op aarde, ek veilig in die ware lewe by U sal wees. Aan U kom al die eer toe! Amen.
Comentarios