Gedagte vir Vandag
Maandag, 16 Augustus 2021
Koos Espach
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (23)
Die profetiese rede: die getroue en die ontroue slaaf (1)
Getroue en verstandige slaaf van God
Matt. 24:45-51 – “Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee? Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit. Maar as dit ‘n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg. Dan sal hy die ander slawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink. Die eienaar van daarde slaaf sal op ‘n dag kom dat hy dit nie verwag nie, en op ‘n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”
Jesus praat steeds oor die wederkoms en meld weer dat niemand weet wanneer dit gaan wees nie. In hierdie tweede kort gelykenis wys Jesus sy dissipels daarop dat 'n mens jou roeping in afwagting van die wederkoms, op tweërlei wyse kan vervul: Met dit besig te wees wat aan jou opgedra is, of om niks te doen nie en net te sit en wag dat die wederkoms aanbreek. Die een manier van wag is om as getroue en verstandige slaaf, waaksaam besig te wees om te doen wat aan jou opgedra is en jou verantwoordelikhede uit te voer. Dan is jy die gelukkige een. Jou loon is dat jy nog meer verantwoordelikhede sal bykry “en aangestel word oor alles wat die eienaar besit.”
Die “gelukkiges” is diegene wat gegryp is deur die liefde van Christus en wie nie meer leef vir hulleself nie, maar met heilige verlange na Sy koms. Hulle bewys dit ook met wederliefde: “Die liefde van Christus dwing ons, omdat Hy vir ons almal gesterwe het sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is” (2 Kor. 5:14-15). Hulle lewe word gestempel deur sy Woord en hulle voed en versterk hulle naaste met hulle optrede. Só word die ware dissipels ook hier betrek.
Daar is egter ook ’n ander tipe “slaaf.” Al word hy hier nie uitdruklik so genoem nie, is hy die onverstandige en ontroue omdat hy nie rekening hou met die koms van sy eienaar nie. By hom het die spanning van verwagting verdwyn en in die plek het ’n opvatting gekom “dat sy eienaar talm om te kom” en moontlik nie sal kom nie. Dan verbeel hy hom dat hy self die baas is, en begaan ’n dubbele misdryf: Hy misbruik die gesag wat aan hom toevertrou is deur sy medeslawe te begin mishandel, en hy vergryp hom vir eie genieting aan die eiendom van sy eienaar. Dit lê voor die hand dat so ’n ontroue slaaf onklaar betrap sal word wanneer sy eienaar onverwags terugkom. Dan sal ’n ontsettende straf hom tref, “sy eienaar sal hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel.” Huigelaars, dieselfde kategorie as die skrifgeleerdes en Fariseërs – hy word dus uitgesluit uit die koninkryk van God.
“Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf?” vra Jesus. Hy wat waaksaam wag want hy weet nie wanneer die eienaar terugkom nie. Hy of sy wat die getroue volgeling van Jesus sal wees in afwagting van die wederkoms. Om waaksaam en gereed te wees word hier verklaar as om getrou te wees aan die opdragte en dienswerk waartoe Jesus ons oproep as Sy volgelinge. Ons moet waaksaam en getrou wees en ons hoop vestig op niks minder nie as die bloed van die lewende Christus en Sy geregtigheid. Ons wagwoord moet die Naam van die Lam wees. Ons moet op die Rots Jesus Christus staan, alle ander dinge is dryfsand waarin ons sal wegsink!
‘n Engelse skrywer William Gurnall (1617-1679) het die volgende geskryf. “Omdat Jesus Christus se wederkoms nou al meer as 2 000 jaar neem om te gebeur, is die mens nie meer geneig om die wederkoms te bepeins nie, nog minder om soos ‘die getroue en verstandige slaaf van Matteus 24:45 te wag. Die rede waarom mense so ‘vas slaap en veilig voel,’ is omdat hulle óf nie glo Jesus kom weer nie, óf omdat hulle dit nie ernstig opneem nie.
Die slaaf wat vir sy eienaar wag, sal nie graag in die bed gevind wil word wanneer Hy kom nie; nee, hy waak en maak vir Hom die deur oop wanneer Hy opdaag. Christus het vir ons gesê Hy kom weer, maar nie wanneer nie. Moet daarom nie die kerse doodblaas of die ligte afsit nie. Bly waaksaam, ‘die eienaar sal op ‘n dag kom dat ons dit nie verwag nie, en op ‘n uur wat ons nie vooraf weet nie.” Getrouheid is om elke dag met die oog op die wederkoms in alles waarmee ek en jy besig is, te bou aan die koms van die koninkryk van die hemele. Wat se tipe dienskneg is ons in hierdie koninkryk?
“Wanneer die drama van die geskiedenis afgeloop het, sal net die Hoofkarakter op die verhoog oorbly: Jesus Christus. Alle ander wat gedink het hulle is ‘groot figure van die geskiedenis,’ sal besef hulle was maar net tydelike spelers in die drama waarvan die Groot Regisseur die slot skryf” (Helmut Thielicke).
Gebed: God van genade, maak my ‘n getroue en verstandige slaaf, U slaaf wat verantwoordelik sal optree in die afwagting op die wederkoms. Steek die vuur van die Gees in my aan met die wete dat Christus onverwags kan kom, en te keer dat ek nie sommer net terugsit en niks doen nie. Laat my ‘n gesindheid openbaar van waaksaamheid sodat U dalk enige tyd sou kan kom en ondersoek instel na my lewe. Help my dat U my besig sal vind met dit wat die kerk van die Here kan opbou, en waarmee ek my naaste kan bemoedig. Amen.
Comments