Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 13 Julie 2021
Koos Espach
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (12)
Die profetiese rede: die groot verdrukking (4)
Ons Godsdiens is nie iets wat ons uitgedink het nie
Matt. 24:23-26 – “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie.”
Die verdrukking van die Jode tydens die verwoesting van Jesusalem en die tempel was afskuwelik, “soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie” (v. 21). Daarom sou daar in die tyd van uiterste nood, ’n sterk verlange ontstaan na die koms van die sterke Verlosser, die Christus. Dié toestande sal ’n gunstige geleentheid skep vir die optrede van vals christusse, wat hulle sal voordoen as die Messias. “Vals profete sal die vals christusse aanprys by die mense en sal selfs die vermoë besit om hul getuienis deur tekens en wonders te bevestig.” Daardeur sal hulle dit uiters moeilik maak om tussen Jesus Christus en die handlangers van die Antichris te onderskei. Daar sal egter wel een onderskeid wees: die valse christusse sal aankondig: “Kyk, Hy is in die woestyn!” of “sê Hy is in die slaapkamer!” Dan "moet ons dit nie glo nie.”
In die “Nuwe Testament vertaal in hedendaagse Afrikaans” deur Jan vd Watt en Stephan Joubert, skryf Paulus in sy brief aan Timoteus die volgende: “Die Heilige Gees het baie duidelik gesê dat in die tyd voor die Here weer kom, party mense niks meer met geloof te doen sal wil hê nie. Hulle sal eerder agter geeste aanhardloop wat hulle op verkeerde paaie lei en sal gretig luister na wat demone vir hulle vertel. Dit sal gebeur wanneer hulle hulle ore uitleen aan mense wat kamma goed is, maar eintlik almal kul en vir almal lieg” (1 Tim 4:1-2). Hierdie woorde kom nie sommer van ’n gewone mens nie, maar word deur die Gees van God oorgedra. Die woorde het krag en ons moet dit ter harte neem. Ek dink hierdie vers het reeds ’n werklikheid geword in ons tyd.
Die hedendaagse media meld dat al hoe meer mense openlik sê dat hulle nie meer glo nie. Hulle lag vir die kerk. Hulle skree simpel woorde na mense wat glo dat daar ’n lewende God is wat in ’n verhouding met Sy skepsels wil staan. Dit wat hulle voorheen geglo het en sommige van hulle selfs vanaf kansels gepreek het, is nou die middelpunt van hulle grappe.
Het jy al gewonder of jy die regte godsdiens beet het? Wanneer ek so na al die ander godsdienste kyk en sien hoe dedicated hulle is, hoeveel moeite hulle doen en die ure wat hulle opoffer vir hulle geloof, laat baie mense wonder of hulle op die regte paadjie is.
En ek en jy? Was ons dalk net gelukkig om in ’n Christelike huis groot te word? Waar sou ons vandag gewees het as ons van jongs af aan ander godsdienste blootgestel was? Sou ons dan nie ook dalk twyfel nie? Gelukkig hoef “ons dit nie te glo nie” en moet ons dit nie met ons denke vashou nie, want die Bybel waarin ons glo, kom gee vir ons gemoedsrus: “Oor een ding hoef ’n mens nie te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus: ‘Jesus het mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is” (1 Tim. 3:16).
Hoe het ons as kinders gesê? Dit is true soos nannies! Ek en jy kan nou maar ophou wonder of ons in die regte God glo. Hier sê Paulus dit vir ons in ’n brief wat amper 2 000 jaar gelede geskryf is en vandag op hierdie pragtige Dinsdag, 13 Julie, steeds van toepassing is! En sentraal in ons geloof hang Jesus aan die kruis waar Hy vir my en jou die hekke van die hemel oopgesterf het. Nou kan jy vir my sê dat daar in ander gelowe ook sulke “redders” was. Waar lê die verskil dan? In die feit dat Jesus nie aan ’n kruis bly hang het of in ’n graf bly lê het nie. Nee, ons Jesus is anders, want God het Hom laat opstaan uit die dood. Hy het Hom laat opvaar na die hemel, waar “Hy aan die regterhand van God sit”. (Ander gelowe se “redder” lê steeds in die graf.)
Jy sien, God is sterker as die dood. Vir al die ander godsdienste is hierdie laaste hekkie die een waaroor hulle elke keer val. Dit is hier waar die spreekwoord, die koring word van die kaf geskei, begin sin maak. Dankie tog! Ons ís op die regte pad, ek en jy het die regte godsdiens beet! Dit weet ek nou, maar die vraag is: “Wat gebeur met mý as ek besef ek is op die regte pad?” Verander dit die manier waarop ek leef?
Dit is vrae wat net ek en jy saam met die Heilige Gees wat in ons oor fluister, kan beantwoord. Soos ek dit verstaan, moet daar êrens iets anders wees. Op ’n manier moet ons nou dit waarin ons glo, uitleef. Die oorspring van die laaste hekkie moet so sigbaar word in my en jou lewe, dat ander nie anders kan as om ook te wil weet wie die Een is wat nou ons lewe beheer nie.
Wat beteken dit in maklike Afrikaans? Ons moet ons lewe elke dag as verloste kinders van die ware God leef. Ons moet ’n verskil aan alle mense daar buite maak – maak nie saak waarin hulle glo nie. Ons moet getuig van die verlossing en vryheid wat ons ontvang het. Rick Warren som dit mooi op: “Word ‘n wêreldklas-Christen en weet dat jy gered is om te dien. Jou vreugde, selfvertroue en geesdrif is aansteeklik, want jy maak ‘n verskil. Jy word elke oggend wakker en verwag dat God op nuwe manière deur jou sal werk.” God nooi ons uit om aan die grootste en belangrikste saak in die geskiedenis deel te hê, naamlik Sy koninkryk. Hoe lyk dit, wil jy ook ‘n wêreldklas-Christen wees? Dan is ek en jy mos ook anders! Dan beoefen ons nie net die regte Godsdiens nie, maar is ons besig met diens aan God!
“Christene is ‘n teken vir die wêreld dat, hoewel ons nie al die antwoorde het nie, ons weet van die vrae en omgee vir hulle wat dit vra” (Billy Graham).
Gebed: Here, dankie dat ek in U, die enigste lewende God kan glo. Op ons eie is ons eenvoudig net te kragteloos om die vyand aan te vat. Daarom moet ons elke dag ruimte maak vir die stem en die werking van God se Heilige Gees. Help my om so te leef dat dit my geloof weerspieël. Mag ek vir ander anders wees, omdat ek juis daardie geloof uitleef. Amen.
Kommentarer