top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 12 Julie 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (11)


Die profetiese rede: die groot verdrukking (3)


God het die wederkoms geduldig ingekort met genadetyd


Matt. 24:20-22 – “Bid dat julle nie in die winter of op ‘n sabbatdag hoef te vlug nie, want in daardie tyd sal daar so ‘n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie. En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.”


Jesus bou verder uit oor die groot verdrukking wanneer Hy selfs die seisoene gebruik as ‘n bepaalde moeilike omstandigheid. Die winter veral, sou vir enigiemand moeilik wees om te vlug, want onthou, hulle moes dit haastig doen. Daar was nie tyd om “nog iets te gryp of klere te gaan haal nie” (v. 17-18). Selfs die verwagtende moeders en dié met klein kindertjies moet die meeste te bejammer wees. Die kindertjies, die oorsaak van hulle geluk, sal dan juis die ongeluk op hulle bring, omdat juis hulle die vlug sou vertraag. Deur hulle lyding sou die moedersmart vermeerder word. Om in ’n Joodse omgewing op die Sabbat te vlug, sal te opsigtelik wees en so nog meer aandag trek. Ander Jode mag hulle die oortreding verwyt en dan geen hulp verleen nie. Buitendien mag hulle op die sabbat net ongeveer 900meter ver reis.


Iemand het geskryf dat die Jode hulle eie “kettings gesmee het” – hulle was “in daardie tyd verantwoordelik dat daar so ‘n groot verdrukking in Jerusalem was soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie.” In die totale verwoesting wat hulle getref het as volk, en in die ellendes wat hulle agtervolg het in hulle verstrooiing, het hulle slegs gemaai wat hulle gesaai het: “Toe hulle hulle vol geëet het, het hulle hoogmoedig geraak en God vergeet” (Hos. 13:6). Die God wat húlle geglo het hulle sou beskerm, “Hy wat hulle eers gehelp het, het hulle vernietig (Hos. 13:9). “En as dit nie was dat God daardie tyd ter wille van die uitverkorenes (die gelowiges) ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie.”


Maar, wanneer ons die perke van goddelike verdraagsaamheid oorskry, raak God ongeduldig en Hy trek Sy weerhoudende krag terug. Ons moet egter besef dat God nie soos ‘n laksman waak om die vonnis oor ons oortredinge te voltrek nie, Hy laat almal wat Sy genade verwerp, aan hulleself oor om te maai wat hulle saai.


Die verwoesting van Jerusalem is ‘n vreeslike waarskuwing aan almal wat God se aanbod van genade lig opneem. Daarom is dit vir ons nodig om ook ag te slaan op Jakobus wanneer hy skryf: “Wag dan geduldig, broers (en susters), totdat die Here kom” (Jak. 5:7). Ek wonder of daar ‘n mens op hierdie aarde is wie nie soms sukkel met ongeduld nie? Is Jakobus se oproep tot geduld nie dalk onaanvaarbaar vir baie in ons moderne tyd nie? “Die Christendom is male sonder tal daarvan beskuldig dat dit geduld, berusting en aanvaarding verkondig en nogtans verraad pleeg teenoor die mensdom en sy ideale van vryheid, selfbeskikking, mondigheid en die stryd om geregtigheid” (Dirkie Smit).


Ek lees die storie van die motorbestuurder wat uiters gefrustreerd was met die bestuurder voor hom wat te stadig na sy sin ry. Toe die man voor hom nog stop by ‘n oranje lig, verloor hy dit. Hy raas en praat in tale, uiter woorde wat nie in ‘n goeie woordeboek te vinde is nie, wys vuis en blaas toeter. ‘n Polisieman wat alles gesien gebeur het, trek hom van die pad af, kontroleer tydsaam sy besonderhede terwyl die motorbestuurder vuurwarm is van ongeduld. Na al sy besonderhede gekontroleer is, sê die polisieman: “Op u motor is ‘n ‘Wat Sal Jesus Doen’ plakker en ‘n prentjie van ‘n vissie. Toe ek dit sien was ek vas oortuig dat dit ’n gesteelde motor moet wees, want ‘n mens verwag nie van die eienaar van ‘n motor met dié plakkers op, om so ongeduldig soos u op te tree nie!” Klink dit bekend?


Ons is selfs haastig met God en bid soms: “Asseblief Here, gee my geduld, maar maak tog net gou!” En nou verwag Jakobus ons moet “geduldig wag totdat die Here kom.” Kom nou Jakobus, dit is darem te veel gevra! Of is dit? Geduld is ‘n eienskap van God. “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (Rom. 2:4). Petrus maak dit ook duidelik hoekom ons geduldig moet wees: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Pet. 3:9). “En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word” (2 Pet. 3:15).

Geduld is een van die eienskappe van die vrug van die Heilige Gees in ons. Maar wat is geduld? Dit is nie lui wees nie. Dit is nie om maar passief my en jou moeite hanteer, of net God se water oor God se akker te laat loop nie. Ons as gelowiges moenie alles passief verdra nie, maar verantwoordelikheid aanvaar vir die samelewing, daaroor dink en dan dóén. God se geduld is om te weet: Ek en jy moet verander want Hy gee ons ‘n tweede kans, eintlik, ‘n duisendste tweede kans en ons kan nie alles self doen nie, God kan. Ons kan nie die wêreld verander nie, God kan. God wil dat ek en jy, oorgegee aan die Gees, ons bes sal doen om ‘n verskil te maak. Hy sal sorg vir die res.

“Geduld is die gewilligheid om te word wat ons kan wees; nie doodse berusting om te bly soos ons is nie” (Robert Thomas).


Gebed: Dankie ons hemelse Vader dat U ‘n geduldige God is. Dankie dat U die tyd gemaak het om my te laat wag vir die regte tyd om te besef waarheen ek op pad is en wat ek moet doen. Vertraag my pas Here, vergewe my ongeduld en maak my bereid om vriendelik my geduld te hanteer. Maak my geduldig met ander soos wat U met my maak! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page