top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 9 Julie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (125)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (10)

(Matt. 24:1–25:46)


Die profetiese rede: die groot verdrukking (2)

(Mark. 13:14-23; Luk. 21:20-24)


Swaarkry is ons voorland


Matt. 24:15-19 – “Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan – wie dit lees, moet dit goed goed begryp – dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie, en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het.”


Vergelyk ook Klaagl. 4:10 – “Met hulle eie hande het moeders wat vroeër liefdevol was, hulle kinders gekook; dit het hulle kos geword toe my volk ineengestort het.”


Jesus en Sy dissipels sit op die Olyfberg en staar na die indrukwekkende tempel, ‘n projek wat Herodus die Grote al amper veertig jaar aan werk. Dit het oor Jerusalem uitgetroon as die trots van die ganse Joodse volk – die aardse adres van God (so het hulle geglo), waarheen hulle gegaan het om aan Hom offers te bring en te aanbid. Dit is die Dinsdag voor Jesus se kruisiging en Hy is besig om Sy dissipels finaal te onderrig. Terwyl Sy dissipels nog verwonderd was oor die pragtige tempelgebou, skok Jesus hulle met die profesie dat dit binnekort vernietig gaan word.


Hoe reg was Jesus nie! Al die voorspellings van Jesus aangaande die verwoesting van, nie net die tempel nie, maar Jerusalem, is letterlik vervul. Gepaardgaande daarmee het Jesus voorspel van rampe, vervolging en verdrukking – swaarkry wat die Israeliete en die dissipels, se voorland is. Daarom het Jesus Sy dissipels dringend gewaarsku teen misleiding – misleiding wat opvallend deur al drie Sinoptiese evangelies gemeld word met die woorde: “Pas op …!” (Matt. 24:4-5; Mark 13:5-6; Luk 21:8). Verbasend? Nee, Jesus wou seker maak Sy dissipels bly aan die lewe, en het hulle gewaarsku: “wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee …” (Luk. 21:20-21).


Minder as 40 jaar later, in die jaar 70 nC, omsingel Cestius, Romeinse bevelvoerder oor die gebied, Jerusalem en beleër hy die stad vir 6 maande, maar sonder sukses. Titus word deur die keiser aangestel om die Joodse oorlog verder te voer. Tydens hierdie tyd, neem die Christene die kans om te vlug. Volgens die antieke historikus Josefus, het nie een Christen tydens die beleg van Jerusalem omgekom nie. Sonder om te veel detail te meld, is die rampe wat Jerusalem getref het nadat Titus Jerusalem omsingel het, onbeskryflik. Die stad was afgesny van die res van die Jodedom. Duisende het gesterf van honger en siekte. Mans het hulle vrouens beroof; kinders het in opstand gekom teen hulle ouers; Jesus se profesie dat “dit bitter swaar sal gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het” (v. 19), was skokkend. Die antieke geskiedskrywer Josefus vertel van vrouens wat hulle pasgebore “babas gekook en geëet het” (Klaagl. 4:10).


Titus het aanvanklik probeer om die tempel behoue te laat bly en die Jode gesmeek om op ‘n ander plek te veg. Sy pogings was tevergeefs, Iemand groter as hy het verklaar dat “nie een klip op die ander sal bly nie; alles sal afgebreek word” (v. 2b). Binne die stad het afskuwelike misdade afgespeel. Mettertyd was dit nie meer moontlik om al die lyke te begrawe nie en is dit oor die stadsmure gegooi. Soveel liggame het in die valleie en om die stad gelê, meeste van hulle dood aan die hand van mede-Jode, dat Titus met afsku vervul was en die gode tot getuies geroep het dat hierdie massamoord nie sy skuld is nie (Milman – History of the Jews).


Baie Jode het uit die stad probeer ontsnap. Die meeste is egter gevang en summier tereggestel. Honderde is gekruisig totdat daar soveel kruise gestaan het dat mens skaars tussen hulle kon beweeg. Van die vlugtelinge het probeer wegkom met goud wat hulle ingesluk het. Die Romeine het dit egter uitgevind en hulle gevangenes voor die voet begin oopsny. Toe Titus uiteindelik die stad bestorm, het sy soldate brandende fakkels in die kamers langs die tempel gegooi. Dit was nie lank nie en die tempel het ook aan die brand geslaan. Lang kolomme vlamme het die Olyfberg in die nabyheid verlig. So breek die einde dan vir die tempel en Jerusalem aan, en die profesie van Miga word vervul: “So sê die Here die Almagtige: Sion sal soos ‘n land geploeg word, Jerusalem sal ‘n puinhoop word, die tempelberg ‘n hoogte vol bossies” (Jer. 26:18).


Waar was die Christene en die dissipels met die val van Jerusalem? Weg, uitstedig! Dit sou katastrofies wees indien hulle ook deel was van die slagting. Dié wat oor die vorige dekades nie deur vervolging verdryf is nie, het op Jesus se waarskuwing gereageer, “gevlug en uit die stad uit padgegee toe hy omsingel is.” Hulle het immers in die komende jare 'n paar uiters belangrike en strategiese take om te verrig. Behalwe om “na al die nasies te gaan en dissipels van hulle te maak, te doop en hulle leer om alles te onderhou wat Jesus Christus hulle beveel het” (Matt. 28:19-20), is hulle gered omdat hulle ‘n plek, ‘n doel en ‘n funksie in God se koninkryk het, naamlik onder andere, die ontvang en op-skrif-stelling van die Nuwe Testament deur die Heilige Gees, asook die vestiging van die jong kerk daarin.


En ons, wat beteken hierdie woorde van Jesus oor die eindtye vir my en jou? God het nie meer ‘n aardse adres in Jerusalem nie. ‘n Tempel is ook heeltemal oorbodig. God se lewende kerk is nou Sy nuwe adres, Hy woon nou in lewende tempels. God het Sy woonplek verskuif vanaf dooie geboue na lewende mense toe, gelowige mense soos ek en jy. Ons is nou lewende en pratende tempels wat die eer van God weerkaats. Ons is Sy mense, Sy aardse stem, Sy hande en voete: “Ons besef natuurlik dat ons die plek is waar God op ‘n baie spesiale manier teenwoordig is, soos in ‘n tempel. God se Gees bly mos in ons soos iemand in ‘n huis bly. God se tempel behoort aan Hom. Dit is Syne en net Syne. Ons is daardie tempel van God” (1 Kor. 3:16-17 NV). Is jy deel van hierdie nuwe tempel vir die Allerhoogste? Gebruik elke kans om goeie saad te saai!


“Dink daaraan dat elke klein reëndruppel help om die see vol te hou en elke sprankie vuur om die wêreld te verlig – en hou dan op sê dat jou bydrae te klein of onbelangrik is. Doen jóú ding om die wêreld te verander! God sal jou sê wat dit is” (Hannah More).


Gebed: Here Jesus, help my asseblief om in U voetspore te volg. Maak my gewillig om my moue op te rol en aktief betrokke te raak by dienswerk, dit met toewyding doen. Soos Nehemia wat die gedugte taak gehad het om Jerusalem weer te herbou, wil ek as lewende en pratende tempel word wat U eer weerkaats. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page