Gedagte vir Vandag
Donderdag, 1 Julie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (119)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (4)
(Matt. 24:1–25:46)
Die profetiese rede: rampe en vervolging (3)
(Mark. 13:3-13; Luk. 21:7-19)
Voortbeur in die swaarkry!
Matt. 24:6-8 – “Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie veskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Die een nasie sal teenoor die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.”
Mense is nie goed om tekens te lees nie. Jesus noem ‘n klompie algemene gebeurtenisse oor die naderende einde van die wêreld en dadelik is die “profete” by en trek hulle dagboeke nader om datums te koppel aan gebeure. Ander raak op hol oor mense wat boeke skryf of preek oor dié tekens van die tye, én veral as hulle kan voorspel dat die einde van die wêreld aangebreek het! Maar as ons mooi na Jesus se woorde kyk, staan daar nie dat die tekens die aanbreek van die einde is nie, dit weet net God, “dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.”
Die tekens roep ons op om getrou te bly en vas te byt! Hierdie eeu verskil nie van die vorige eeue as dit kom by die tekens van die tye nie. Oorloë, hongersnood, aardbewings, Christene wat vervolg word, al hierdie dinge, was nog altyd saam met die mensdom. Wanneer byvoorbeeld Covid-19 mense afmaai, is dit steeds waarneembare tekens waarop gelet moet word, maar hulle moet nie aanleiding gee tot berekenings van hoe naby die einde reeds is nie. Veeleer dien hulle as waarskuwing aan die gelowiges om waaksaam te wees en voorbereid op die koms van Jesus en “die begin van die nuwe tyd” te wees. Daarom sê Jesus dat ons as Sy volgelinge getrou aan Hom moet bly en nie paniekerig moet raak as ons die tekens sien en sommiges selfs aan die lyf voel!
Partymaal is die lewe net te veel. Partymaal druk die lewe my en jou dat ons oë traan. Soms voel ons al so moeg met die lewe gestoei dat ons na Bo skree en selfs daar kom nie eintlike enige reaksie vandaan nie. Dis sulke tye wanneer iemand net nie na ons toe moet kom met ’n teksversie of ’n handvol mooi woorde om ’n salfie aan ons moewiese wond of krisis te smeer nie. Ai man, kan die lewe darem nie ’n slag sy mooi kant na ons toe draai nie?
Ek weet dis ’n gesukkel, want ek sukkel saam, daarom verwys ek ook na myself. Daarom wil ek vir jou (en myself) so bietjie bemoedig, want ons het dit so nodig: “Dit alles is ‘n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy ons geskik geag het vir sy koninkryk” (2 Tess. 1:5). Kyk mooi wat die vers nié sê nie. Dit sê nie dat moeilike tye in die niet gaan verdwyn nie. Dit sê nie dat lekker tye voorlê nie. Nee, dit veronderstel juis dat daar tye gaan wees wanneer dit nie maklik gaan wees nie. Dis die realiteit. Ons moet net nie toelaat dat dit ons onderkry nie. Ons moenie toelaat dat die omstandighede met ons kop smokkel nie. Ons moet kop bo water hou, want die feit dat die branders soms so woes slaan, is juis ’n teken dat ons die regte dinge doen. Eintlik moet ons begin vrae vra as swaarkry ons gereeld verbystap.
Daarom moet ek en jy ons koppe oplig en die dag met ‘n huppel tegemoet stap want God stap saam met ons. Ons weet mos dat God met ons prentjie besig is en dit so sal laat uitwerk dat ons by Sy pad vir ons lewe uitkom: “En aan ons lyding, sal Hy ‘n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ‘n vuurvlam uit die hemel verskyn” (2 Tess. 1:7-8).
In die tye wanneer ons so swaar trek dat ons begin wegbeur van God, moet ons juis teruggaan na Hom. Dan moet ons juis na die Bybel gaan om weer die beloftes te hoor. Dan moet ons al die waarhede weer deel maak van ons hele wese, want dit is hier waar ons krag kry om weer te probeer. In God se Woord kry ons wysheid om te weet wat die regte keuses is om in die woeste stryd te maak. Hier kry ons leiding om te weet watter tree om volgende te gee. Hier word ons geloof versterk en word die onsekerheid van “die tekens” verdryf. Met alles in ons moet ek en jy vashou aan die woorde van God. Daarsonder kom die wiele van die lewe af.
Om die woeste winde “van die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë; die een nasie teenoor die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; op baie plekke hongersnode en aardbewings, te oorleef, het ons wysheid nodig. Om ons roeping uit te leef, het ons wysheid nodig. Net om die lewe te leef, het ons wysheid nodig. Daarom moet ek en jy ons ingrawe in God se Woord, want dis hier waar ons antwoorde, vreugde en vrede kan vind.
Sonder om die slegte omstandighede mis te kyk of te maak of dit nie daar is nie, sonder om te probeer om pleisters te plak wat te klein is vir die seer, gee Paulus baie goeie raad. Hy wil voorstel dat ons met alles wat in ons is, aan die enigste vaste rots vasklou: “Moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak” (2 Tim. 2:8). Dit is al wat ek en jy kan doen in ons swaarkry: Glo in Jesus. Hy was dood, maar Hy het die dood oorwin, omdat Sy Abba Vader Hom bygestaan het. Dít is al wat ons nodig het om aan vas te hou. Én dit is genoeg. God is aan ons kant. Weet dit en leef dit. Weet en vertrou en sê dit sommer hardop dat die almagtige God, wat Sy Seun uit die dood laat opstaan het, aan my en jou kant is.
“Struikelblokke is daardie skrikwekkende voorwerpe wat ons in ons pad sien as ons ons oë van die doelwit wegneem” (Hannah Moore).
Gebed: Here, ek weet waar my hulp vandaan kom. Ek weet waaraan ek moet vashou, maar ai! So maklik dryf ek weg en soek vashouplek aan plekke wat ek nie kan vashou as die storms om my woed nie. Hou my hand vas terwyl ek aan U vasklou, sodat ek nie glip nie. Amen.
תגובות