top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 30 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (118)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (3)

(Matt. 24:1–25:46)


Die profetiese rede: rampe en vervolging (2)

(Mark. 13:3-13; Luk. 21:7-19)


Ore uitleen!


Matt. 24:3-5 – “Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: ‘Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?’ Jesus antwoord hulle: ‘Pas op dat niemand julle mislei nie. Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei.”


Waarmee hou jy jou besig? Bou dit wat uit jou mond kom ander op of breek dit af? Wel, hier is ’n waarskuwing vir ons almal: Moenie jou tyd mors met allerhande praatjies waarvan God niks hou nie, want wie hulle daarmee besig hou, sal net al hoe verder van God afdwaal (2 Tim. 2:16 NV).


Gill, (e-Sword), slaan die spyker op die kop met die verduideliking van die woorde van vals profete, die mense waarteen Jesus my en jou waarsku: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei.” Gill skryf: “Die bediening van valse leermeesters is niks meer as ’n gebabbel nie. Dit is net ’n stem wat klanke maak en niks meer nie. Hulle monde maak wel klanke en spoeg woorde uit, maar daar is geen betekenis daar agter nie. Dit is ’n stortvloed van woorde van nietigheid – soos groot borrels water wat groot lyk en baie geraas maak, maar wat niks in hulle het nie. Dit bevat niks anders as leë onbenullighede. Dit is niks meer as ’n nul op ’n kontrak nie. Dié woorde van die vals leermeesters hou geen wins vir enige iemand in nie.”


Is dit nodig dat ek en jy na die woorde van vals predikers luister? Sekerlik nie! Die probleem is dat daar vandag so baie verskillende leermeesters is dat ons nie meer weet wie is nou reg en wie is besig om die waarheid te verdraai nie. Dis asof die waarheid en die onwaarhede so verweef is dat ons nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie. Vir die leek klink dit só opreg en satan juig want sy dissipelgetalle groei dag vir dag.


Ek deel graag met julle wat ek onlangs gelees het. Ongelukkig weet ek nie wie die skrywer daarvan is nie: “Die Here is bekommerd oor Sy volk. Hulle slaap en die herders lei hulle nie na Sy wil nie. Die herders sus hulle aan die slaap en sê: “Vrede en rustigheid” terwyl daar min tyd is. Die vyand loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na die volgelinge van Jesus om hulle te verlei. Die vyand kom met mooi woorde en sagte geaardhede, hulle is nie nors en ongeskik nie. Hulle verdraai die Woord van God op klein subtiele maniere, bring leringe in wat nie 100% Bybels is nie en die mense loop soos blinde skape agter hulle aan.”

“Ons moet terugkeer na God se Woord en vashou aan die waarheid. Ons moenie vir ons predikers en profete aanstel om ons ore te streel nie. Jesus self het baie gepraat oor die eindtyd en die vals profete en predikers.” Sover ek kan sien, het elke apostel in hulle briewe gewaarsku oor die afvalligheid wat kom en die gevare en beproewinge wat vir ons voorlê.


Vals leringe, nuwe kultusse en wat nog alles is feitlik daagliks besig om op te spring rondom ons. Daarom kan ons nie anders as om Jesus se woorde ernstig ter harte te neem nie. Die kerk word gedurig en oral bedreig deur vals leringe. In hierdie tyd van menseregte en ‘n ingesteldheid van “almal het ‘n stukkie van die waarheid iewers beet,” kan vals leringe maklik ons kerke instroom.


Ja, dit is miskien waar dat baie mense ‘n stukkie van die waarheid beet het, maar nie almal wat klink asof hy of sy in die Naam van die Here praat, het die volle waarheid nie. Dit bly ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie ons ore uitleen vir die verkeerde woorde nie. Dit is nie so moeilik om seker te maak dat die waarhede wat by ons ore inkom, waar is nie. Gaan toets dit aan die Woord van God. As dit steeds nie duidelik is nie, vra die Gees van God om te help. Ons kan ook medegelowiges vra om saam te bid en saam duidelikheid te kry wanneer ons onseker is.


As ons ons ore aan verkeerde ouens uitleen, is die kans goed dat ons verder van God gaan dwaal. Daarom, moet ons seker maak en vrede kry dat ons ore ingestel is op die golflengte van God se waarhede. Ons moet luister na die Heilige Gees se stem wat ons dieper wil onderrig in die ondeurgrondelike waarhede van God. Ek en jy moet net bereid wees om ons ore en ons lewe onophoudelik oop te stel vir die volle waarheid en vernuwing wat die Gees aan ons wil skenk. Dit is een van die werke van die Gees om ons te lei tot kennis en toenemende begrip van God se Woord en gehoorsaamheid daaraan. Hy openbaar aan ons die bevrydende waarheid van Jesus Christus se lewe, sterwe en opstanding. So bring Hy ons tot die ware kennis dat ons Verlosser ‘n lewende werklikheid is, deur wie se verdienste ons met God versoen word en deur wie ons die pad van heiligmaking leer bewandel.


“Die eerste stap op die pad van oorwinning is om die vyand te identifiseer” (Corrie ten Boom).


Gebed: Here, U Heilige Gees wat in my woon, is my Helper. Dankie dat ek weet as ek tyd maak om stil te sit en te luister, dat U my op die regte pad sal lei. Dankie dat U my verstand verhelder, my hart vernuwe en my lei op die pad van geestelike groei. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page