top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 22 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (112)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (13)

(Matt. 23:1-36)


Jesus veroordeel huigelary (7)

(Mark. 12:40; Luk. 11:39-42; 20:47)


Wat skuil onder die vernis!


Matt. 23:27-28 – “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.”


Jesus gaan voort om die kontras tussen “buite blink maar binne stink” in die sesde ellende-uitspraak te ontwikkel. Ons moet onthou dat die mense teen wie Jesus hierdie venynige ellende-uitsprake rig, skrifgeleerdes en Fariseërs is. Mense wat by uitnemendheid kundig was oor wat die Bybel van hulle tyd sê, dit kan uitlê en toe te pas; mense wat daarvan hulle professie gemaak het. Dit is hoekom hulle in die voorste gestoeltes opgemerk is, ordentlike mense; godsdienstige mense. En so het hulle godsdiens toe nie Godsdiens geword nie, maar selfdiens.


Almal was gekose leiers van God se volk wat oor hulle skynheiligheid nou beskaam moet word. Hulle lyk soos “witgeverfde grafte wat van buite mooi lyk, maar binne is hulle vol doodsbene en ongeregtigheid” – ‘n vroom lewe van buite, maar vol hebsug, eersugtigheid en skeefgetrek van binne, dor en droog, leweloos en van geen waarde nie. Hulle laat geen lig van buite na hul bedorwe donker hart deur nie, en daarom ontvang hulle net die grootste veragting van God. (Omdat daar destyds nie straatligte was nie, was dit die gebruik om veral in Paastyd, grafte te wit sodat verbygangers in die nag nie per ongeluk, deur kontak met ’n graf, onrein sou word en nie deel kon hê aan die Paasfees nie.)


Omdat Jesus ook God is, kon Hy reg deur mense se godsdienstige grimering kyk terwyl Hy op aarde was. Hy kon hulle harte agter al die vroom maskers raaksien en daarom was Hy baie ontsteld oor die huigelary van die godsdienstige leiers van Sy volk. Dit klink uit Jesus se ellende-uitsprake asof Hy hulle met oordeel dreig, maar Hy wens hulle nie die ellende van God se veroordeling toe nie, inteendeel, Hy wil hulle uit hulle sondeslaap, wakker skud. Jesus gee om wat van hulle word, en daarom wil Hy hulle harte wat soos rowersneste van afguns, hoogmoed en haat, verander om dit die ereplek van God te maak. Hulle godsdiens was een groot stuk oëverblindery en Jesus kon hulle harte onder die lae vernis raaksien.


Wat sien Jesus in my en jou lewe raak as Hy na ons kyk? Moet Hy ook deur ‘n klompie lae vernis kyk om by ons verskillende harte uit te kom – die Sondaghart en die werkshart – een vir die kerk en een vir die werk. Is ons só vroom dat almal, van die kerk tot by die werk, na ons verwys as die groot Christene van die dorp, terwyl ons harte maar eintlik soos ‘n slagveld lyk “vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede?” Huigelary is die doelbewuste verleiding van ander mense om hulle te laat glo dat die front wat ons voorhou, die ware ons is. Maar eintlik gee ons ‘n vals beeld, ‘n front wat soos winkelpoppe in ‘n vertoonvenster lyk. Intussen verheerlik satan homself in ons blinkgepoetste namaaksels van onsself. Nou sou ons kon vra: “Hoe moet ons vroomheid dan vandag lyk? Hoe moet ons leef om nie skynheilig te wees nie?”

Wat dink ander mense van my en jou? En dadelik hoor ek hoe mense sê dat hulle nie ’n saak het met wat ander mense van hulle dink nie. Hulle leef nie vir ander mense nie. Dit is seker reg so. Ons moenie toelaat dat wat ander mense van ons dink, ons manier van lewe bepaal nie. Dis God en God se Woord wat ons fondasie is en dit is Hy wat ons rigsnoer moet wees. Dis hoe dit behoort te wees. Tog moet ons weet dat die manier waarop ons lewe, ’n impak het op die mense rondom ons. Mense kyk dikwels na mekaar se manier van doen en aap dit na. Nie net ons kinders nie, maar ook mense in wie se lewens ons ’n impak maak, hou ons met groot oë dop. Hulle sal dikwels doen soos ons doen, want volgens hulle verstaan, is dit dalk die regte manier.


Dit laat my maag nogal draai as ek besef hoe groot die verantwoordelikheid is wat ons het om die lewe reg te leef. Mense sal na ons kyk en respek hê as ons die eenvoudige opdrag van God uitvoer. Reeds daar in Genesis het God die opdrag vir ons gegee: “Bewoon, bewerk en bewaar die aarde” (Gen. 1:28). Ons het elkeen ’n opdrag om binne die riglyne op te tree, diensbaar te wees. Ek vermoed ons gaan anders werk toe as ons weet dat dit juis die plek is waar, behalwe om net ons werk te doen, dit ook die plek is waar God ons wil gebruik. Hy wil met mense wat nie eens aan ’n kerk behoort nie, mense wat nie eens vir Hom ken nie, praat en dit deur mý en jóú manier van werk en leef. Dis ’n groot verantwoordelikheid.


Die netto effek as ons daardie opdrag wat God vir my en jou het, uitleef daar in die markplein, daar waar die sweet van ons voorkop drup, is dat respek uitdop. Mense sál vir ons respek hê. Hulle sal na ons opkyk en ’n begeerte hê om soos ons te wees. Hulle sal wil weet hoekom ons anders is, hoekom ons te midde van die soms vreeslike moeilike omstandighede steeds voortbeur. Dan sal ek en jy kan vertel dat ons maar net ons roeping uitleef. Dat ons net doen wat God van ons verwag. Op ’n manier sal God juis dit gebruik om met die mense te praat wat niks van Hom wil hoor nie.


Mense sal nie net vir ons respek hê nie, maar ook vir God. Dit is maklik om mense te mislei, maar ons kan nie God bedrieg nie. Daarom is dit belangrik dat ons eerlik met God moet wees en nog belangriker, om ons harte en gedagtes deur die Heilige Gees te laat “versier” sodat dit in pas kom met God se wil. Kom ek en jy bewoon, bewerk en bewaar die aarde en geniet dit. Kom ons leef die lewe met alle oorgawe sonder om skynheilig te wees en weet dat ons respek sal afdwing en dat God se Koninkryk sal blom.


“Kinders hoor hulle ouers sê dat hulle sekere dinge glo, en omdat hulle hul ouers se opinie respekteer, glo hulle dat hulle diesefde dinge moet glo en dan in die openbaar sê dat hulle self ook daardie dinge glo” (DM Lloyd-Jones).


Gebed: Here, ek het dit nog nie eintlik so gesien nie. Dis nogal groot om te dink dat U deur my manier van doen met ander kan praat. Ek voel so klein en die verantwoordelikheid te groot. Maar met U aan my sy kan ek die lewe stormloop en gerespekteer word want slegs U kan die binnekant van my lewe in pas met die buitekant bring. Help my om daar waar ek my bevind, dit te bewoon, bewerk, bewaar en dit geniet. Amen.

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page