Gedagte vir Vandag
Vrydag, 4 Junie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (101)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (2)
(Matt. 23:1-36)
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs (2)
(Mark. 12:38-39; Luk. 11:43-46; 20:45-46)
Jesus se alternatiewe uitnodiging!
Matt. 23:4 – “Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ‘n vinger verroer om dit te dra nie.”
Ter inligting moet ons onthou dat Jesus hier in die tempel besig is om “die menigte en sy dissipels toe te spreek” en dat die kerkleiers (skrifgeleerdes en die Fariseërs) waarskynlik nie teenwoordig is nie. Hier, in die setel van die Joodse geestelike leiding, word die volk en natuurlik ons ook, betrek by die oordeel van die destydse kerkleiers. Elke gelowige wat hulle lewenstyl handhaaf, staan veroordeeld teenoor God. Jesus erken die gesag van die volksleiers om die wet van God, wat Hy aan Moses gegee het, uit te lê maar veroordeel hulle gebrek aan hulle eie toepassing daarvan. Al die reëls wat hulle op die volk gelaai het om na te kom “maar self nie ‘n vinger verroer het om dit te dra nie”, het eintlik ‘n las geword vir die volk.
In plaas daarvan dat die volksleiers mense bevry om voor God te leef, maak hulle die lewe vir hulle moeilik en laat hulle die mense minderwaardig voel. Jesus daarenteen, het al voorheen ‘n alternatiewe uitnodiging gerig aan almal wat die koninkryk van God wil ervaar en aanvaar: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Matt. 11:28-30).
Jesus nooi ons uit om rus te kom ervaar wat net Hy kan bied. Hy nooi ons uit om onvoorwaardelik te kom en rus midde-in ons daaglikse lewe, te aanvaar. Hierdie soort rus is nie sommer om net ‘n naweek weg te breek of om met vakansie te gaan nie. Nee, die rus wat Jesus bied is nie van gunstige omstandighede afhanklik nie, dis ‘n permanente rus, ‘n rus van kalmte en innerlike vrede.
Hoe kom ek en jy daar, of liewer, wíl ons régtig daar kom? Ek dink van al die vrae in die gang van ons lewe, is hierdie vraag die héél belangrikste! Jesus het al só baie mense uitgenooi om na Hom te kom waar hulle “rus kan kry vir hulle gemoed”, en tog het baie dit verwerp. Want, Jesus se uitnodiging om dissipel van Hom te wees vra ontberinge, om vervolg te word ter wille van Hom (Matt. 5:11), “deel te hê aan Sy lyding deur aan Hom gelyk te word in Sy dood” (Fil. 3:10). En dit is miskien die rede waarom mense nie wil besluit om Hom te volg nie. Hulle sien nie kans om aan hulself te sterf nie, om die ou natuur af te lê nie. Die prys is net te hoog. Die “heining van die wet van God” ontneem hulle van die reg op plesier, die lekker en goeie dinge wat die wêreld bied, die reg op hulle eie wil, hulle eie tyd.
Maar, ongelukkig is die teendeel veel erger – die prys van nie-dissipelskap is veel hoër! Die slegste van alles is, die berekenbare koste geld nie net vir hierdie lewe waarin ek en jy ons nou bevind nie, maar vir áltyd en éwig. Nie-dissipelskap ontbeer die rus wat ek en jy by Jesus in oorvloed kan ontvang, want ons verbeur die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat ons krag gee om God se groter plan vir ons toekoms op die ewigheid, te verstaan. Om nie Jesus se uitnodiging te aanvaar nie, beteken ons ontbeer Jesus se “sagte juk en ligte las”, kortom, ek en jy bly slawe van ons eie ego en die sonde wat die bose in oorvloed aanbied. Die bose verag die kruis want dit het totale oorwinning oor hom beteken en daarom sal satan alles in sy mag doen om sý dissipels te help om “hulle lewe te behou, en nie hul lewe ter wille van Jesus te verloor, en tog dit sal vind nie” (Matt. 10:39).
Die prys van nie-dissipelskap is té hoog vir enige mens om te betaal. God het ook geweier om Sy skepsels aan satan oor te gee, daarom het Hy Jesus aarde toe gestuur om ons uit te nooi om weer met God versoen te raak, om deel van Sy gesin te word, om Sy koninkryk aan te neem. Met ‘n eenvoudige en nederige uitnodiging vra Jesus elkeen wat “ore het om te luister”, om na “Hom te kom en Hy sal ons rus gee.” Met respek, dit beteken nie Jesus gaan ons in die bed sit, ons handjie vashou en ‘n liedjie sing of ‘n storie vertel tot ons rustig slaap nie. Nee, Hy haal ons juis uit die bed uit waar ons in ‘n halfdood toestand lewe, die bed van sonde, vrees, uitputting en sonder hoop, en kom “gee rus vir ons gemoed.”
Jesus staan met uitgestrekte arms voor my en jou, en met onoorwinlike en onuitputlike geduld, nooi Hy ons liefdevol uit: “Kom na My toe. Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.” Al wat ek en jy moet doen, is om Jesus te vertrou en Sy uitnodiging ernstig op te neem, alles van ons ou natuurlike lewe oorboord te gooi en in ons sondige self te sterf. Sy Gees sal aan ons die bevestiging gee dat die mag van die bose wat ons gees uitgeput en lamgelê het, vervang is met Sy “juk wat sag is en Sy ligte las”, en ons laat inskakel by Sy verlossende krag.
“Daar is te baie Christene wat ongelowiges hulle wêreldse plesier en die heiliges hulle vrome blydskap beny – omdat hulle nie een van die twee het nie” (Martin Luther).
Gebed: Here, U het gesê ek moet na U toe kom wanneer ek uitgeput en oorlaai is en U sal my rus gee. Wel Here, hier is ek, ek is inderdaad uitgeput en fisiek doodmoeg. My stresvlakke is hemelhoog, my bekommernis oor my familie, my land, die ekonomie, ag, sommer alles is in ‘n warboel as gevolg van hierdie virus-pandemie wat pandemonium veroorsaak. Maar dankie Here, vir die rus en vrede wat by U te kry is soos nêrens anders nie. Dit is só verstommend dat U wat Almagtig is en aan wie alle eer en majesteit behoort, ook sagmoedig en nederig van hart is. Dankie Here dat wanneer ek my daaglikse moegheid en bekommernisse by U kom aflaai, U dinge vir my draagliker en my laste ligter maak, wanneer U sagmoedig in my oor fluister: “Kom na My toe, en Ek sal jou rus gee …” Amen.
Comments