Gedagte vir Vandag
Donderdag, 3 Junie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (100)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (1)
(Matt. 23:1-36)
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs (1)
(Mark. 12:38-39; Luk. 11:43-46; 20:45-46)
Leiers wat verleiers word!
Matt. 23:1-4 – “Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek en gesê: ‘Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ‘n vinger verroer om dit te dra nie.”
Vergelyk ook Matt. 5:17 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry ...”
Jesus se omwandelinge op aarde het nou die punt in God se raadsplan bereik, waar die lydensweg van die kruis elke dag duideliker hier in die laaste week voor Sy kruisiging, as eindpunt op die horison verskyn. Na Jesus se konfrontasies met die Fariseërs, Sadduseërs en skrifgeleerdes, wend Hy Hom van die volksleiers af weg, deur nou sy dissipels en die volk aan te spreek. Jesus het Sy gesag oor en oor bewys aan dié wat bestem is om in Hom te glo. Dié wat Hom verag, het hulle minagting en ongeloof in onmiskenbare taal uitgespreek.
Jesus begin sy vyfde en laaste toespraak, of preek, op aarde, met ‘n striemende oordeel en ontmaskering van die Fariseërs en die skrifgeleerdes van die volk. In skerp taal waarsku Hy sy luisteraars teen die skynheiligheid van die Fariseërs en skrifgeleerdes. Hulle sit op Moses se stoel “om die wet van Moses te vertolk”, maar in der waarheid sit hulle so met hul rug na die hart van die volk. (In die middel van die sinagoges was ‘n verhoog {stoel} waarop die leiers gesit het en dié aan hulle voete geleer het.) Hy wys weer eens nie die wet, of die skrifgeleerdes se onderrig wat in ooreenstemming met die wet is, af nie – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry ...” (Matt. 5:17–20). Wat Jesus wel afwys is dat “hulle doen self nie wat hulle sê nie.”
Hierdie gesprek van Jesus was seker ‘n oomblik van waarheid vir die skrifgeleerdes en Fariseërs. Die skrifgeleerdes was verantwoordelik vir die opstel van al die reëls en regulasies, terwyl die Fariseërs hulle afgesonder het van gewone daaglikse aktiwiteite om hierdie reëls en regulasies toe te pas en te verseker dat dit deur die volk toegepas word. Dit was vir hulle die wese, die kern van godsdiens. ‘n Godsdiens wat bestaan het uit ‘n magdom moets en moenies en behoorts. Jesus het by tye radikaal verskil van die skrifgeleerdes en Fariseërs omdat Hy nie saamgestem het met hulle mensgemaakte wette nie. Waaroor dit vir hulle gegaan het, was om geregtigheid by God, te verdien. Wetsonderhouding vir Jesus omvat meer as die nakoming van ‘n lang lys uiterlike reëls, dit vereis ‘n radikale hartsverandering jeens God en ander mense.
Inderwaarheid het die volk se leiers, verleiers geword. Hulle weet altyd beter hoe die volk moet leef, en met watter strengheid toesig oor die foute en sondes van ander boek gehou moet word. Maar self dink hulle egter nooit daaraan om daardie standaarde en hoë verwagtinge op hulleself toe te pas nie. “Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers,” maar met die ekstra bepalings wat hulle in ‘n “pakkie saamgebind” het, was dit eintlik moeilik om uit te vind wat die Wet nou eintlik wil!
God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. God se wet is nie ‘n heining wat ons opgerig het en daarteen moet vaskyk sodat ons nie die bedoeling daarvan raak kan sien nie. Dit is ook nie ‘n deur wat God se koninkryk wil toemaak, eerder as om dit aan die wêreld ten toon te stel nie. Die wet is die padkaart wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as Sy verbondskinders is. Daarom sal ons lewenswandel op aarde (dink, praat en doen) volgens die wet beoordeel word. Die oordeel gaan oor die wet wat ons lewensruimte wil gee en of ons optree volgens God se wil – “Nie elkeen wat vir My sê ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is” (Matt. 7:21).
Die “getrouheid aan die wet” beteken om op ‘n ander manier getrouer te wees – ‘n getrouheid wat uit baie meer as die nakoming van bepalings en gebruike (soos voorgestel deur die skrifgeleerdes en Fariseërs) bestaan, maar eerder in dade van dankbaarheid gedoen kan word. Dit beteken om nie net met mooi godsdienstige woorde ons wetsgehoorsaamheid aan te prys nie maar om in ‘n persoonlike en innige gemeenskapsverhouding met God te leef – om getrou te bly aan die God ván die wet en om Hom te verheerlik daarmee. Daarom het Jesus na hierdie sondige wêreld toe “gekom om die wet en die profete hulle volle betekenis te laat kry” – dít is die verskil. Christus het die wet volbring en die geregtigheid vir ons sodoende verwerf. Hy het die brug na God toe gebou met die kruis sodat ons die wet kan doen uit dankbaarheid vir Jesus. Nou kom dit by ons daadwerklike optrede: Hoe leef ‘n Christen? Kan ander mense Jesus Christus in my en jou daaglikse optrede waarneem?
“Jesus Christus gee nie, soos ander godsdienstige leermeesters, vir ons voorskrifte oor die pad na God toe nie. Hy is sélf die Weg” (Karl Barth).
Gebed: O Here, my God – U is so vol liefde en genade. U onderhou U verbond met my. U skenk my vergifnis van sondes en maak elke dag vir my ‘n nuwe begin moontlik. U bewerk my verlossing. Lei my deur U Gees om te onthou dat U sterker is as al die bose magte en dat ek maar met die grootste eenvoud met U kan praat. Gee my ‘n fyn aanvoeling sodat ek in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te dink, sê en doen. Amen.
Comments