top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 2 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (99)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (45)

(Matt. 21:1–22:46)


Die vraag oor die seun van Dawid (1)

(Mark. 12:35-37; Luk. 20:41-44)


Jesus is nie die seun van Dawid nie, Hy is baie groter as Dawid!


Matt. 22:41-46 – “Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: ‘Wat dink julle van die Christus? Wie se Seun is Hy?’ ‘Dawid s’n,’ antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: ‘Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?’ Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie.”


Vergelyk ook Ps. 110:1 – “Die Here het vir my koning gesê: ‘Kom sit aan my regterhand en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”


Vrae veral oor ons geloof, is ‘n belangrike bestanddeel van ons geestelike groei. Mense wat vrae vra om die regte antwoorde te soek, veral oor die Woord van God, is mense wat nie doelloos die lewe alleen wil aanpak nie. Dit is gelowiges in Christus wat gou agtergekom het dat die lewe nie sonder God en sy Woord, aangepak kan word nie. Só ‘n lewe is roekeloos en eindig tragies in ‘n doolhof van sonde, ‘n lewe met baie en steil afdraandes, reguit hel toe. Dan is daar ook mense wat vrae vra om verkeerde redes, mense wat God in diskrediet wil bring. Dit is egter nie ‘n nuwigheid nie – die sogenaamde kerkleiers van destyds, naamlik die Fariseërs, skrifgeleerdes Sadduseërs en selfs Herodiane het twee duisend jaar gelede, dit al met Jesus probeer.


Die reeks konfrontasies en debatte waar hierdie kerk- en volksleiers Jesus voor die volk wou verneder, sluit nou af in ‘n klimaks wanneer Jesus die inisiatief neem en op Sý beurt, ‘n direkte vraag aan die Fariseërs vra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se Seun is Hy?” Hulle moet vir Hom sê wat hulle van die menslike kant van die seun van Dawid, die Messias (Grieks vir Christus) verstaan. ’n Vraag waarop hulle kennelik, maklik antwoord as die “Seun van Dawid.” Dit handel oor die identiteit van die Christus waarin die verskil tussen die Fariseërs se lering en Jesus s’n, duidelik na vore kom. Hulle het nie rekening gehou met die goddelike dimensie in die beskrywing van die Christus (Messias), die Seun van Dawid nie, wat ook Here is.


Maar dan haal Jesus uit Psalm 110:1 aan waar dit volgens Hom, blyk dat Dawid die Messias as “Here” aanspreek. Met hierdie aanhaling wil Jesus die Fariseërs daarop wys dat die Messias volmag op aarde besit, selfs koning Dawid het dit erken. As Dawid self Hom “Here” noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees? Jesus probeer hulle steeds oortuig dat Hy groter as Dawid is en as Messias, volmag op aarde besit. Hy kon daarom, as die ware Messias, God se wil nou met groot gesag bekend maak. Hy kon nou die lofliedere van ‘n paar dae tevore met Sy intog in Jerusalem, toe Sy volgelinge uitgeroep het: “Prys die Seun van Dawid!” (Matt. 21:9), bevestig. Sy gesprek met die Fariseërs het geëindig – Hoe kon Dawid sy seun (die Messias) “Here” noem? Jesus se vraag bly onbeantwoord en “van dié dag af het niemand meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie.”


Kan ek en jy antwoord? Wat is ons opinie van Jesus? Wie is Hy vir ons? By die antwoord hierop moet ek en jy versigtig wees om Jesus minder te maak as wat Hy werklik is! Dit gaan bepaal of ons staan of val in ons verlossing en ons deelname aan die koninkryk van die hemele met ál sy beloftes. Jesus is die Christus, die Seun van God en God self. Dit is ‘n belydenis wat ons maklik nasê, maar begryp ons die diepste implikasies daarvan? Ek kry die indruk dat vir baie gelowiges is Jesus die “liewe Jesus” van ons kindertyd – die vriendelike en saggeaarde Jesus wat dikwels meer in ons diens staan as wat ons in Sy diens staan (en ek voeg myself hierby in.)


Daar is by baie ‘n verwagting dat Jesus aan al ons versoeke moet voldoen en wanneer Hy nie die uitkomste gee wat ons verwag in ons lewenskrisisse nie, dan begin ons twyfel aan Sy bestaan. Glo ons werklik dat Hy ook volledig God is? Is daar by ons ‘n heilige ontsag wanneer ons sy Naam op ons lippe neem? Buig ons werklik in aanbidding en lofprysing voor Hom in ons gebede? Dink ons werklik dis moontlik dat “Hy die arme sal red wat om hulp roep, die verdrukte en dié wat geen helper het nie; hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm. Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry; hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë” (Ps. 72:12-14). Kry hierdie aanbidding en lofprysing asook danksegging die grootste aandeel in ons gebedslewe of is ons gebedslewe gevul met versoeklysies? Waar is die eer wat Hom toekom? Elkeen kan self antwoord.


“Jesus is ‘n juweel wat meer werd is as duisend wêrelde, soos almal weet wat Hom gevind het. Vind Hom en jy het alles; loop Hom mis, en jy verloor alles” (Thomas Brooks).


Gebed: Here, as ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het – wat is die mens dan, wat is ek dan dat U aan my dink? (Ps. 8) Help my Here, om U weer in die alledaagse raak te sien, om U te eer met die nodige eer wat U toekom. Dankie dat U my steeds, ten spyte van al my foute, wegvoer na die sekerheid van U liefde. Dankie dat U my omsluit van alle kante, U my in besit neem (Ps 139). U is wonderbaar verby woorde! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page