Gedagte vir Vandag
Woensdag, 26 Mei 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (94)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (40)
(Matt. 21:1–22:46)
Die vraag oor die grootste gebod (3)
(Mark. 12:28-34; Luk. 10:25-28)
Wie is ons naaste?
Matt. 22:34-40 – “Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. ‘Meneer,’ vra hy, ‘wat is die grootste gebod in die wet?’ Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”
Vergelyk ook Luk. 10:25 en 29 – “Daar was ‘n wetgeleerde wat aan Jesus ‘n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?’ Jesus sê vir hom: ‘Wat staan in die wet van Moses geskrywe?’ Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: ‘En wie is my naaste?”
Ons het gister net so effens geraak aan die vraag: Wie is ons naaste? Lukas se weergawe van hierdie belangrike vraag oor die grootste gebod, sluit die bekende verhaal van die “Barmhartige Samaritaan” in (Luk. 10:30-37). Die kern van hierdie verhaal wat ons almal ken, is die vraag van die wetgeleerde: “En wie is my naaste?” Die interessante van sy vraag, is miskien Lukas wat skryf dat “die wetgeleerde homself wou handhaaf deur te vra wie sy naaste is.” Dit was met ander woorde ‘n tweede strikvraag aan Jesus, altans, so het hy gedink. In antwoord op sy eerste vraag vertel Jesus dan die verhaal van die barmhartige Samaritaan. Die slegte nuus vir die wetgeleerde was toe Jesus vir hom gesê het om ook medelye te gaan bewys aan ander mense, (v. 37) al is hulle deel van die gehate Samaritane en nie iemand van sy “heilige” kollegas nie.
Die eerste wat ons miskien geneig is om te doen, is om te reken dat die vrae van die Bybelse mense verouderd is en nie altyd toegepas kan word by ons huidige post-moderne eeu nie. Inteendeel, naasteliefde is deur al die eeue die fondament van die Christelike gemeenskap en Jesus was vir ons die aanvanklike volmaakte voorbeeld hierin. Ons kan nie spekuleer soos die wetgeleerde in ons verhaal, oor wie ons naaste is nie. Ons moet saam met hom leer dat almal wat ons pad kruis en aan ons goeddoen, ons ook aan goeie dade moet kan bewys.
Die voorbeeld van Jesus aan ons en aan die wetgeleerde, gebeur wanneer Jesus die situasie omdraai, en hom eintlik met ‘n strikvraag konfronteer deur vir hom te vra wie die naaste was van die man wat onder die rowers deurgeloop het (v. 36). Die wetgeleerde was nou self in ‘n hoek gedryf en kon nie anders as om te bevestig dat dit die veragte Samaritaan is “wat aan hom medelye bewys het.” En dan Jesus se opdrag: “Gaan maak jy ook so” (v. 37). Met ander woorde, gaan word jy ook iemand wat “medelye bewys” aan ander, gaan wees ‘n naaste van ander, nie net van dié wat jy van hou nie – “Alles wat jy wil hê dat mense aan jou moet doen, moet jy ook aan hulle doen” (Matt 7:12).
Die beslissende vraag is nou nie meer: “Wie is my naaste?” nie, maar: “Van wie is ék die naaste?” Waar het iemand my nodig; waar kan ek tot hulp wees; waar vestig iemand sy hoop op my, dat ek tyd aan hom sal bestee? Luther het dit nogal mooi gestel: “Vir wie moet ek die Christus wees?”
Jesus het ons die grootste daad van liefde kom wys en dit is om as onskuldige, vir die skuld van ander te kom sterf. Is dit nie dalk waar ek en jy ook moet begin nie? Om liefde vrylik uit te deel moet ons eers van die eie ek in ons lewe ontslae raak. Die eie ek moet eers sterf, want dan eers kan ons gee, sonder om te vra wat is daarin vir my? Dan kan ons uitdeel, sonder om te kla oor die pyn om jou eie goed net so weg te gee. Dan kan ons onwillekeurig onsself opoffer sonder om iets terug te verwag. Liefde wat opoffer. Liefde wat gee. Liefde wat ’n stukkie van jouself gee.
Ongelukkig sien ons dit nie meer vandag nie. Nee, ons sien eerder liefde wat se draad te dun is en sodra dit iets van die self vra, breek dit en val die liefde aan skerwe. Die wêreld, ons vriende, ons familie, ons kollegas, almal soek na mense om na op te kyk. Mense wie se voorbeeld hulle in die erg gebroke wêreld kan volg. Ons weet Jesus is die beste en grootste voorbeeld, ons moet dit ook net gaan doen!
Jesus leer ons om ons naaste lief te hê en dit behels nie maar net 'n vriendelike glimlag, positiewe lyftaal, 'n aangename persoonlikheid of geaardheid nie. Nee, dit is om mense te respekteer op dieselfde manier wat selfrespek toegepas word; hulle geduldig te vergewe; te weier om met hulle te handel op grond van dit wat hulle ons of ander aangedoen het; hulle 'n kans te gee ten spyte van die feit dat hulle verdien om eintlik geoordeel te word. Dit is om dieper te sien as iemand se foute en verkeerdhede, om so iemand se moontlikhede raak te sien. Ja, dit is moeilik, maar Jesus kon dit doen as mens op aarde en soos God sy Seun vir die wêreld, vir alle mense gestuur het, moet ons selfrespek oorgedra word in respek aan álle mense – dan bepaal die Gees ons gedrag.
Wat beteken dit prakties? Mense, is in 'n baie groot mate wat ons deur die genade van God, van hulle maak. As mense met respek behandel word soos wat ons onsself respekteer, kortom, hulle liefhet soos wat ons onsself liefhet, probeer hulle dikwels om te bewys dat hulle daardie respek en liefde waardig is. As mense weet dat ander van hulle goeie verwagtings koester, probeer hulle dit dikwels vervul. Met ander woorde: Christelike respek en liefde vir jouself, beteken om só met mense om te gaan dat ons die beste in hulle te voorskyn help haal, en hulle nie afbreek en verwoes nie. Dan poog hulle om daardie respek met veranderde harte en met liefde, terug te beantwoord.
Dis my en jou verantwoordelikheid om Sy liefde in die wêreld ten toon te gaan stel. Is ons bereid om onsself te gee? Is ons bereid om Jesus se opofferende liefde in die krom strate van die wêreld te gaan leef? Dalk moet ons nie te vinnig antwoord nie, want dit is nie so maklik nie. Miskien is dit beter om eers rustig te gaan sit en die Heilige Gees te vra om my en jou te help met die antwoorde, om Hom in ons midde te roep en opnuut besef dat Hy altyd oorweldigend teenwoordig is. En waar dit gebeur, sal ek en jy ons naaste ontdek, want die wonder van Jesus se liefde en Sy voorbeeld, sal die wonder van die liefde in ons verander.
“In ‘n wêreld waarin so baie gepraat word oor ongelykhede, individuele regte en selfrespek, sê Christus nie ‘vervul jouself’ nie, maar ‘verloën jouself’ (Trobisch).
Gebed: Vader, dankie dat U vir my hierdie liefdesriglyne gegee het in U wet. Here, U weet self hoeveel keer ek al misluk het om hierdie riglyne toe te pas want ek is nog steeds selfgerig. My gewete kla my aan want ek klou nog vas aan my selfrespek, ek sukkel om myself te verloën. Maak my bereid om my lewe oop te stel vir U genadige invloed en die Gees toe te laat om my selfrespek oor te dra en ander daarmee te vul. Amen.
Comments