Gedagte vir Vandag
Vrydag, 28 Augustus 2026
Koos Espach
Liefde is die volle uitvoering van die wet (2)
Niemand het enige wapens teen liefde nie
Rom. 13:8a – “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.”
Vergelyk en lees ook 1 Kor. 13:1-13.
Ons is só geneig om die Bybel te lees sonder om soms regtig in te neem wat die skrywer vir ons wil sê. So lees ek weer vers 8 en besef daar is iets hier in Paulus se eerste deel van die opdrag wat ons nie moet miskyk nie. Hy sê “ons moet niemand iets verskuldig wees nie ...” Dit beteken dat ons Christene bedag daarop moet wees om ons verpligtinge teenoor ander na te kom. Ons kan nie nalaat om die saak van Christus, die evangelie, uit te dra in ons voorbeeldige lewenswandel nie. Jesus het gesê dat ek en jy naasteliefde skuld aan elkeen wat ons pad kruis, selfs al is ons “Jode” en ander is ons “Samaritaanse” aartsvyande. Ons móét “mekaar lief hê!”
Ons Christelike godsdiens leer ons om ons medemens lief te hê omdat God hulle liefhet. Elke mens, hoe arm of ryk, het deel aan God se barmhartigheid en liefde, want ons almal is na God se beeld geskape. Ek moet dus my naaste liefhê nie net omdat dit my medemens is nie, maar omdat ek God se beeld in hom of haar sien. Ons moet liefhê met dieselfde liefde wat God liefhet – agapé liefde. As ons nie só kan liefhê nie, is dit ‘n bewys van ’n skreiende gebrek aan geestelike waardes en norme en inderdaad as die teendeel van wat die liefdesgebod vereis.
Wat is agapé liefde? Agapé liefde is die essensie van God se liefde vir die mensdom: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). En dit is die voorbeeld waarna Christene strewe. Dit is aktief, onvoorwaardelik, selfopofferend en geestelik gegrond. Een belangrike aspek van agapé liefde is dat dit strek bo emosies. Dit is veel meer as 'n gevoel of sentiment. Agapé liefde is aktief. Dit demonstreer liefde deur dade. Agapé liefde laat geen ruimte vir voorwaardes toe nie.
In Jesus se donkerste uur het Hy hierdie agapé-liefde bewys terwyl Hy aan die kruis gehang het en in sy sterwensuur geuiter het: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34). Stefanus het agapé-liefde bewys terwyl hy op sy knieë gestaan het en die Jode besig was om hom dood te gooi met klippe. Hy bid vir sy moordenaars: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie” (Hand. 7:60).
Paulus het die belangrikheid van God se liefde so hoog geag, dat hy ‘n hele hoofstuk in sy brief aan die Korintiërs, daaraan gewy het. Hy wou hê hulle “moet niemand iets verskuldig wees nie”, behalwe om liefde te wys in alles wat hulle gedoen het. Die hele hoofstuk besing die lof van die liefde. Die eerste drie verse verwys na die liefde as die vernaamste eienskappe van ons godsdiens. Dan volg die lied van die liefde in verse 4 tot 8. Vyftien dinge word van die liefde gesing – wat dit is en nie is nie. Die liefde bly tot in ewigheid en is die grootste ding in die wêreld, so lank as wat God bestaan – en dis vir ewig!
Ons behoort 1 Korintiërs 13 meer dikwels te lees. Nee, nog meer. Ons moet die lied uit ons kop leer sodat die wonderlike woorde op ons harte afgedruk kan word! Dink na en bid oor “die liefde wat nie sy eie belang soek nie” (v 5). Dink na oor alles wat dit beteken dat “die liefde nooit vergaan nie” (v 8). Laat die “grootste hiervan, die liefde” (v 13b), in my en jou lewe heers. Liefde is ‘n geskenk wat God uit genade vir ons gegee het, dit is nie ‘n mensgemaakte namaaksel nie. God se liefde is nie selfsugtig nie, ons kán dit lééf. Dit laat my dink aan Maria van Heerden se motto: “Niemand het enige wapens teen liefde nie!”
Ek en jy bly ongelukkig in ‘n wêreld wat liefdeloos, selfsugtig, vol bitterheid en haat is. Maar ons kan gaan skuiling soek onder God se beskerming en sy ewige liefde. Kom ons kyk na Jesus en toon liefde aan mekaar soos Hy ons eerste liefgehad het. As ons God liefhet met ons hele hart, siel, krag en verstand en ons naaste liefhet soos onsself (Luk. 10:27), sal dit ons harte vervul sodat ons deur God se almag getuies kan wees van die lewensveranderende mag van die liefde. Dit is moontlik om “niemand iets verskuldig te wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.” Kom ons versprei die soet geur van Christelike naasteliefde in al sy heerlikheid en tot eer van God se Naam, oral waar ons gaan en teenoor elkeen wat ons pad kruis! Niemand het enige wapens teen liefde nie!
“Die liefde van 1 Korintiërs 13 is nie emosie nie, dit is ‘n Bybelse agapé-liefde, ‘n lewenshouding en ‘n leefstyl wat jy bewustelik moet kies” (Ferdinand Deist).
Gebed: Almagtige Vader, U liefde vir my slaan my asem weg, ek wil dit met albei hande aangryp! Liewe Jesus, dankie dat U die hemel prysgegee het om mens hier op aarde te kom word, dat U selfs U lewe gegee het sodat ek vir altyd mag lewe! My liefde is só ontoereikend! Help my om dag na dag deur geloof in U liefde gewortel te wees sodat ek altyd ‘n lewende voorbeeld kan wees van die waarheid en krag daarvan. Maak my asseblief ‘n kanaal van U liefde na ander mense. Amen.
Comments