top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 21 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (91)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (37)

(Matt. 21:1–22:46)


Die vraag oor die opstanding uit die dood (3)

(Mark. 12:18-27; Luk. 20:27-40)


Aartjie na sy vaartjie!


Matt. 22:29-33 – “Maar Jesus antwoord hulle: ‘Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes. Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.”


Vergelyk ook Rom. 5:12-14 – “Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ‘n wet is nie. Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.”


By die lees van Matteus val dit my op hoedat die verharding en verwerping van Jesus toeneem ten spyte van die wysheid van Sy woorde en ten spyte van Sy wonderdade van sorg en liefde vir mense in nood. Hoe is dit moontlik dat die kerk van Sy tyd Hom uiteindelik totaal verwerp? Selfs die Sadduseërs wat in hulleself geroem het dat hulle die Bybel (eerste vyf boeke van Moses) geken het, wys Jesus dat hulle steeds twee dinge benodig: ’n beter insig in die Skrif en ’n hegter geloof in die krag van God. In albei skiet hulle te kort. En dan kom die vraag by my op: Is ons regtig anders as hulle? Ons mag Hom aangegryp het as ons Verlosser, maar leef ons dit konsekwent uit? Hoe gewillig is ons om Jesus se woorde ernstig op te neem en saam met Hom bevestig dat “God nie die God van dooies is nie maar van lewendes?”

Paulus rig ons in ons vergelykende teks, na die onderwerp van die sonde, en trek vir Adam nader om daarmee die universele reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer. Eerstens verwys hy na Adam as alle mense se stamhoof, alle mense is ingesluit by die Adamfamilie. Vóór ons verlossing behoort ons almal aan hierdie familie want ons familiehoof, Adam, is die “een mens deur wie die sonde in die wêreld gekom het, en so het die dood tot alle mense deurgedring.” Adam se ongehoorsaamheid het die sonde en sy verskriklike “agterryer”, die dood, in God se wonderlike skepping ingebring!


Hoe verstaan ons die feit dat ons van nature deel is van die Adamfamilie? Is dit omdat die mensdom biologies ‘n eenheid is, dat sonde en dood van geslag tot geslag oorgedra word, of is my sondigheid en sterflikheid maar die produk van my genetiese of sosiale erfenis? Paulus stel dit duidelik dat die dag toe Adam misluk het, het ons almal misluk. Sy val was ons almal se val, sy skuld ons almal se skuld. Na Adam staan elkeen van ons skuldig voor God. Daarom het ons ook nie 'n kans nie: Soos Adam die doodstraf gekry het, staan elke mens onder 'n doodsvonnis. Hierdie harde oordeel spring geen mens vry nie.


Ironies, die las van die mens se sonde het in ‘n tuin begin, die Tuin van Eden. Daar het Adam tot ‘n val gekom en gaan wegkruip vir God; in die Tuin van Getsemane tree Jesus op die voorgrond en neem standpunt in, gaan kruip nie weg nie maar gaan die geregsdienaars tegemoet; in Eden het God na Adam gesoek, in Getsemane worstel Jesus met God en soek na Sy Vader; in Eden het satan vir Adam na ‘n boom geneem wat tot sy dood gelei het, in Getsemane kon Jesus se bloed nie dáár, die volle prys vir ons sondes betaal nie en moes Jesus gaan na die kruis wat uit ‘n boom gemaak is, wat tot ons lewe gelei het!


Bestaan daar ‘n plek, ‘n “tuin” waar satan nog nie ingemeng het nie? Satan en sy makkers maak hulle oral tuis en teer op sondige begeertes – in die skole, kerke, gemeenskap, ons beloftes, ons reinheid, ons morele waardes, ons menswees. Sy vernaamste teenstanders is ons harte, die harte van Christengelowiges, die tuin van God! Wat satan in Eden gedoen het, doen hy vandag nog; hy werskaf veral in die tuin van God. Die goeie nuus, daarenteen, is dat mense die keuse het om te sorg dat satan nie oral aanwesig is nie, maar dat God is!!! Wat Jesus in Getsemane gedoen het, doen Hy vandag nog – Hy staan in vir ons Christengelowiges, Hy beskerm ons teen satan, “ons sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal ons uit Jesus se hand ruk nie” (Joh. 10:28).


Die vraag waarmee Paulus ons eintlik konfronteer: “Is ons nog deel van Adam se familie, of is ons ten volle deel van Christus se familie?” Daar hang ’n doodsreuk oor die Adamfamilie. As ek en jy nog aan hierdie familie behoort, is ons terdoodveroordeeldes. Ons is lyke wat ’n doodsreuk saam met ons sleep in alles wat ons doen en sê. Dit is dalk die rede dat baie van ons se huwelike, familie verhoudings en baie ander verhoudinge halfdood is. Ons kan nie waarlik leef nie, want die sonde maak ons dood vir alles en almal!


Die alternatief is natuurlik om deel te wees van die Christusfamilie. Oor hierdie familie hang daar nie ’n doodsreuk nie, oor hulle sweef die vars, veranderende reuk van God se goedheid en genade. Hierdie genade is veel groter en méér as die sonde – dit verander in die weelde van “genade op genade, oorvloedige genade” – genade wat al ons sondes volkome toemaak en ons skatryk laat, ‘n ware genade biljoenêr. “Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang” (Joh. 1:16).


Om oor die opstanding te dink en praat, is vir ons gelowiges dieselfde as om oor lewe te dink en praat. Dit is nie wat ek sê nie, maar die Bybel wat ons in glo, bevestig. Al vier die Evangelieskrywers beaam dat Jesus se graf na drie dae leeg was, en elkeen wat dit glo, bely dat Jesus opgestaan het en Hy lééf! Is ons nie te behep met al ons vrae oor die hiernamaals nie? Dit kan dan gebeur dat ons die kennis wat ons oor vandag moet hê, nie gebruik nie, en wat ons nóú moet doen, nooit begin nie.


“Ek het al baie dinge in my eie hande geneem en dit uiteindelik alles verloor. Maar wat ek ook al in God se hande geplaas het, besit ek vir ewig” (Martin Luther).


Gebed: Hemel Vader, ek is só bevoorreg om aan die ontvangkant van U oorvloedige genade te kan staan. Die weelde en rykdom daarvan is deur Christus se naam, myne! Maak my elke dag genoeg bewus daarvan dat hierdie oorvloed van genade en seën vir my beskikbaar is en laat my leef daaruit. Dankie Vader dat U genade en waarheid vir my die Evangelie kom oopsluit het. Op U kan ek vertrou want U skenk my insig in die kern van die Evangelie – om te kan glo in Jesus Christus en “uit U oorvloed, genade op genade ontvang.” Genade onbeskryflik groot het U aan my bewys: Verlore mens – ‘n wegloopkind – weer in die vaderhuis” (Liedboek 510). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page