top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 days ago
  • 4 min read

Vrydag, 31 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (20)


Die sagte voetstappe van vrede

 

Rom. 12:18 – “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”

 

Vergelyk ook Matt. 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

 

Paulus kwalifiseer nog ‘n riglyn en opdrag om in “vrede te leef met alle mense”, deur by te voeg dat ons gelowiges ons kant moet skoon hou. “Sover dit van ons afhang en as dit moontlik is”, moet ons nie die oorsaak wees van konflik nie. Hierdie opdrag is nie altyd so maklik nie. Oral in ons land en die wêreld trek daagliks rook van huise wat brand, busse, trokke, treine, binnebande, en noem maar op. Alles die oorsaak van ontstoke mense. Moet ons dit maar net gelate aanvaar? Daarom die rede dat Paulus beklemtoon: “sover dit van julle afhang.” Elkeen wat voor Jesus die knie buig, pak die wapens weg en plant die vlag van Sy vrede, dit is ‘n oorwinningsvlag wat reeds 2000 jaar gelede by Golgota begin wapper het.

 

In ‘n wêreld wat wankel op die rand van ‘n afgrond, lyk dit naïef om te praat van vrede. Het dit nie dalk ‘n ydele droom geword nie? Nee, al blyk die situasie hóé sleg te wees, is die vrede wat Christus skenk ‘n onbetwisbare werklikheid vir elke Christen. Hierdie soort vrede het ‘n rimpeleffek. Dié wat God aangeneem het, probeer nie om beproewings, gevare en probleme te ontvlug nie. Ons verhouding met God rimpel uit na ons gesin, familie, vriende, gemeente en almal met wie ons daagliks in aanraking kom. Ons hanteer ‘n ontwrigte wêreld omdat ons weet ons het ‘n kosbare skat wat belangriker is as die gees van die tyd waarin ons leef.

 

Daardie kosbare skat is vrede in ons gemoed as gevolg van die sekere wete dat ons in God se sorg geborge is en dat die geleenthede van die lewe juis daarom groter is as die sorge. En omdat ons gees in harmonie met God is, sal ons die vrede in ons harte oordra na die mense rondom ons. God se vrede spoel dan oor ons lewe en rus ons toe om dit  “moontlik te maak om in vrede met alle mense te leef.”

 

Vredemakers sal “kinders van God genoem word.” Is dit nie ‘n ontsaglike benaming en voorreg nie? Dit beteken ons is deur God se genade toegelaat om deel te word van sy kring van vrede op aarde. Om “kinders van God genoem” te word is om soos die Vredevors wat hierdie wêreld ingekom het, te wees. As vredemakers sal ons geseën word omdat ons vrede verkondig. Ons is anders, eintlik wêreldvreemd. Ons gaan soek vrede, draai die ander wang, loop die tweede kilometer. Ons is “kinders van God” want ons soek nie vrede ter wille van eie gewin en persoonlike voordeel nie, maar soek vrede om met dankbaarheid in God se koninkryk te kan dien.

 

Enigeen wat wedergebore is deur die Gees het ‘n brandende begeerte om Jesus se vrede te omhels en ander daarvan te oortuig. Ons is as “kinders van God,” Sy ambassadeurs op aarde. As Christen-gelowiges is ons God se “vredeskorps” wat ander moet oortuig van Christus se vrede wat die engele aangekondig het 2000 jaar gelede, Christus wat aan die kruis met Sy laaste sterwensasem kon uiter: “Vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie(Luk. 23:34). Die opgestane Christus wat aan Sy bang en verbysterde dissipels verskyn en drie maal vir hulle gesê het: “Vrede vir julle” (Joh. 20:19-26). Deur die Gees van Christus, verander ons en word ons deel van God se gesin. Níks en niemand is dan ooit weer dieselfde nie!

 

Iemand het gesê dat “vrede liefde is wat rus vind in die drie-Eenheid”: God die Vader gee vrede (1 Tess. 5:23); Jesus Christus is die Prins van vrede (Jes. 9:6) en die Heilige Gees skep vrede in ons hart en lewe (Gal. 5:22-23). Daarom is “dit moontlik, sover dit van ons afhang, om in vrede te leef met alle mense” in hierdie veeleisende en gejaagde lewe waaraan ons blootgestel is. “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding” (Ps. 62:2). Om stil te word voor God in gebed, bring vir ons ware vrede want Hy is ons anker in die storms en onvrede wat in hierdie lewe om ons woed.

 

Ek en jy moet ons bes doen vir vrede. Van ons kant af moet ons alles in ons vermoë doen om in vrede met ander te leef, al hou hulle nie van ons nie. “Sover dit van ons afhang,” moet ons die strydbyle wegpak en die vrede bewaar. Ons moet keer dat verhoudings versuur, die eerste tree gee om te versoen as daar spanning tussen ons en ander mense opduik of bestaan. Dit is immers wat God van ons verwag. En ons het buitendien die toerusting daarvoor: God se vrede!

 

“Die vrede wat Christus gee, is vrede met mekaar. Bybelse vrede is nie ‘n rug-aan-rug-lewe nie, maar ‘n omhelsing” (Johan Smit).

 

Gebed: Here, ons smag na vrede, daardie vrede wat van Uself kom. Dankie vir die innerlike sielevrede wat U aan my gee, ‘n vrede wat niemand van my kan wegneem nie want ek ken die Vredevors. Here, maak van my ‘n vredemaker ten tye van woelinge en onrus, opstand en aggressie. Gee vir ons vrede in ons mooi land sodat ons opnuut U liefde, kalmte en vreedsaamheid sal ervaar. Verwyder die aggressie, onrus en liefdeloosheid van ons mense, hulle wat glo dat opstande en verwoesting van eiendom, ‘n oplossing sal bring. Skenk U vrede ook aan hulle. Amen.

 
 
 

header.all-comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page