Gedagte vir Vandag
Woensdag, 29 Julie 2026
Koos Espach
Riglyne vir die Christelike lewe (19)
‘n Onmoontlike opdrag
Rom. 12:17 – “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.”
Vergelyk ook 1 Pet. 3:9 – “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.”
Paulus verskuif die aandag nou weg van die Christen se optrede teenoor sy mede-Christene, en fokus verder op ons verhouding tot buitestaanders. Die eerste opdrag om nie “kwaad met kwaad te vergeld nie”, is in ons hedendaagse misdaadgeteisterde land feitlik onmoontlik. “Vleesbeheersde mense” se eerste reaksie is ‘n oog vir 'n oog en ‘n tand vir ‘n tand – “Pik jy my dan pik ek jou.” Die “tit for tat” konsep lei baie mense na ‘n obsessie om oor enige klein oortreding, gelyk te wil breek.
Die Ou-Testamentiese vergeldingsreël, “’n oog vir ‘n oog en ’n tand vir ‘n tand,” (Eks. 21:24), was bedoel vir die destydse hof om grense te stel aan onbeperkte persoonlike vergeldingsaksies. Omdat ons Christen-gelowiges nie meer “vleesbeheersde mense” is nie, “want God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom. 5:5), geld die toepassing van die vergeldingsreël nie meer vir ons nie. Ons is “Geesbeheersd”, nuutgemaakte mense wat in ons persoonlike verhoudinge, nie wraakgierig moet wees nie.
Maar Paulus ... het ons Christene dan nie regte nie? Daar gebeur so baie ontstellende en vernietigende dinge in ons land. Moorde, plaasmoorde, gesinsmoorde, politieke moorde, roofmoorde, korrupsie, misdaad, rassisme, kwaad in soveel vorme. Ons kan aanhou opnoem ... en wil uitroep: Here help! Ons luister na mense wat ons woedend maak, en ons wil hulle laat vergeld – kwaad met kwaad! “Here, is dit moontlik?”, vra ons. Moet ons maar net doodluiters toelaat dat ‘n kwaadwillige ons besittings neem? Moet ons elke keer maar net stilbly terwyl ons onredelik gekonfronteer of benadeel word deur iemand?
Hoe lank kan 'n mens goedgesind optree teenoor ander? Waar trek ʼn mens die streep as ander jou met onreg en vyandskap behandel? Maar juis vir ons as Christene in hierdie verskeurde samelewing sê Christus: “Ek vra van julle oorvloediger gehoorsaamheid. Ek vra iets wat niemand maklik verteer nie: Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Beantwoord die kwaad met liefde!” (Matt. 5:38-39).
Ons Christene behoort nie te dink aan ons regte nie maar aan ons liefdesplig. As kinders van God is ons lewens nuut gemaak, en die vernuwing het by ons manier van dink begin (Rom. 12:2). Jesus het gesê: “Waarvan ons harte vol is, sal ons monde oorloop” (Luk. 6:45). Daarom is ons barmhartig en tree ons op as sagmoediges want ons is vredemakers. Tydens Sy bekende preek daar op die berg langs die See van Galilea (Matt. 5-7), het Jesus ons versoek om die inisiatief te neem om allerlei kreatiewe maniere te bedink en in werking te stel om geweld met liefde teen te staan. Geweld kweek geweld terwyl liefde en respek, wedersydse liefde en respek kweek. “Act immediately to remove the barriers which anger has raised” (William Barclay).
Wanneer Jesus bogenoemde illustrasies in Sy Bergrede voorhou, klink dit aanvanklik na ‘n bankrotresep vir die mens. Dit is feitlik onmoontlik en onwaarskynlik om dit toe te pas in vandag se korrupte en misdaadgeteisterde wêreld. Jesus het juis na hierdie deurmekaar wêreld toe gekom om in liefde, die voorbeeld aan ons te stel. Hy het nie “kwaad met kwaad vergeld nie”, inteendeel, toe Judas Jesus soen tydens Sy arrestasie, het Hy nie Judas uitgemaak as ‘n skelm nie, maar gesê: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen” (Matt. 26:50). Toe die mense Hom aan die kruis vasspyker, vra Hy: “Vader vergeef hulle ... ” (Luk. 23:34).
Mense van God se koninkryk ís anders. Om Jesus na te volg verg opoffering, dienslewering en volharding. Dit is presies wat Jesus gedoen het. Hy het as Onskuldige die hoogste prys betaal vir al die skuldige “iemande” van die wêreld. Jesus het aarde toe gekom om die stukkende pad tussen hemel en aarde wat deur sonde verwoes is, te kom herbou, “om nie kwaad met kwaad te vergeld nie en goedgesind te wees teenoor alle mense.” Hy verwag dieselfde van ons. Om Jesus se voorbeeld te volg raak makliker as dit in versoenende liefde gedoen word. Dan kan ons selfs “antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is ons geroep, sodat ons die seën van God kan verkry.”
“Die kerk is soos ‘n huis met oop vensters waardeur buitestaanders inkyk. Hulle word aangetrek of afgestoot deur wat hulle daarbinne sien” (Prof. Andrie du Toit).
Gebed: Here, ek besef dat die wedersydse liefde wat U van my verwag, veeleisend kan wees. Skenk my die wysheid om te strewe na selfbeheersing sodat ek geweld met liefde kan beantwoord, dat ek nie vergelding sal soek of ‘n drif in my laat ontstaan om wraak te neem nie. Laat my as koninkrykskind U voorbeeld volg en ‘n liefdesgesindheid openbaar. Amen.
Comments