Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 18 Mei 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (88)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (34)
(Matt. 21:1–22:46)
Die vraag oor betaal van belasting (5)
(Mark. 12:13-17; Luk. 20:20-26)
Jesus se somme werk anders!
Matt. 22:21-22 – “Jesus sê vir hulle: ‘Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.’ Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.”
Vergelyk ook Rom. 6:23 – “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
In my grootword dae was daar nog nie iets soos graad R nie. Selfs kleuterskole was nie so algemeen nie. Ek onthou daar was op ‘n stadium slegs een in die dorp en net die rykes kon dit bekostig. Ons het geëet, gespeel met maatjies wat nie in die kleuterskool was nie, geëet, weer gespeel – kennetjie, wegkruipertjie giffie, tol, alies, ‘cowboys en crooks’ – en geslaap. Al wat ek van belasting geweet het, was my ma se aanmerking wanneer my pa sy salarisstrokie maandeliks aan haar oorhandig het. Sy het gedink dat ons beter af sou wees indien my pa die belasting wat afgetrek was, as salaris ontvang het in plaas van die ‘tip’ wat sy werkgewers gegee het. En dan haar bekommerde sug dat sy nie weet hoe ons daardie maand dit gaan oorleef nie – ek kan egter nie onthou van een aand wat ons honger gaan slaap het nie. Belasting was grootmens dinge en húlle bekommernisse.
Ons kinders was gesien maar nie gehoor nie. Dit was dus verskriklik traumaties toe ek as vyf-jarige moes skool toe. Die meeste van ons was erg tranerig toe ons in graad 1 die klaskamers, wat soos ’n hok vir ons gevoel het, ingedruk word. Alles was vreemd. Die banke was hard en ons boude vir seker nie gewoond om so lank stil te sit nie. Ons het nie geweet hoe om ’n vetkryt vas te hou nie, wat nog te sê om iets daarmee te teken. En die reuk wat jou neusgate gevul het van die klei, was erg benoud, en dan moes jy nog iets “skep” daarmee. Die lekkerste tyd was speeltyd. Ons kon egter nie verstaan waarom seuns en meisies nie mag meng op die speelterrein nie. Ons het dan saam gespeel by die huis. As ek nou daaraan dink, was ons woelig en die juffrou het een doel voor oë gehad, en dit is om ons mak te maak.
Gelukkig het ek van somme gehou. Seker omdat juffrou Koekemoer sulke rooi appels gebruik het om die konsep te verduidelik. Met een rooi appel in die hand, het sy nog een uit die bak gehaal, en gevra: “As ek een appel het en ek vat nog een uit die bak, hoeveel appels het ek dan?” Ek het eerste kliphard uitgeskree: “Twee!” Juffrou het my berispe dat ek eers my hand moet opsteek voor ek antwoord, maar dit het nie my trotse gevoel afgewater nie, omdat ek die antwoord reg gehad het. Later het sy die minus ook verduidelik: “As ek twee appels het en ek vat een weg, hoeveel het ek oor?” Ek het die ander kinders laat antwoord, anders was ek dalk weer in die moeilikheid ...!
Ek het later besef dat die appels met baie dinge vervang kan word. Een sonde plus nog ’n sonde, is gelyk aan twee sondes. En as jy nog een doen, dan is dit drie en so gaan dit aan, totdat jy ’n hoop ontelbare sondes het. Maar die minus werk nie lekker dieselfde nie, want as jy twee sondes het, kan jy nie een aftrek en dan sit jy net met een oor nie. Die plus werk baie goed en die hopie raak net groter en groter. En daar is niks wat ons daaromtrent kan doen nie. Daar is ook nooit melding gemaak van hoeveel daarvan vir belasting aan die regering afgestaan moet word nie. Ek het maar aanvaar dit is alles vir my eie rekening.
Selfs nie eens ’n klein sonde minus ’n groot goeie daad, kan die sonde laat verdwyn nie. En ons weet mos dat die gevolg van sonde die dood is – “Die loon wat die sonde gee, is die dood …”. Die resultaat van sonde is dat mense die ewige lewe mis en in die ewige vuur beland. Gelukkig, God het dit geweet. Hy het besef dat ons mense in ’n verlore en benarde situasie sit en dat ons somme eenvoudig nie kan werk nie. Toe maak die Meester-sommaker nuwe somme, wat nie eintlik vir die mens sin maak nie, want sien, ons somme van een goeie daad wat sonde uitvee, werk nie. Daar is ook geen sprake van die regering wat belasting terugbetaal indien die werkgewer te veel afgetrek het nie. Maar, hierdie som is makliker as al die ander somme – “gee aan God wat aan God behoort.”
Prakties beteken dit dat die “keiser”, of in my en jou geval, die regering, op ‘n gedeelte van ons aardse geld geregtig is, al is dit ‘n bodemlose put waarin ons swaar verdiende rand na rand, een na die ander in verdwyn. Wat egter swaarder weeg, is dat God op my en jou héle lewe geregtig is, daarom het Hy die Meester-sommaker gestuur en die “loon wat die sonde gee”, ekstra bygevoeg het met “die genadegawe wat God gee, die ewige lewe is in Christus Jesus ons Here.”
Jesus se kruisdood was ons skoon van sondes, “reinig ons van alle ongeregtighede” (1 Joh 1:9b). Die som: ’n Hoop sonde minus Jesus se dood aan die kruis, is gelyk aan sondeloos. Die resultaat: Ons kan die hemelpoorte op ’n draffie inhardloop. Dis so eenvoudig, maar tog op ’n manier te groot om te verstaan. Daarom glo ons net ... maar los ons met iets om oor na te dink: Hoe lyk my en jou sonde-somme? Na alles wat ons gesê het staan die grootste somme-formule vas: ‘3 nails + 1 cross = 4 given!’ Wat maak Jesus se somme aan ons? Wat maak ons met Jesus se somme?
“Waar dit gaan om die regverdigmaking van ons sondaars, moet ons heeltemal vergeet van die wet, óf van ons goeie werke, en enkel en alleen op God se genade vertrou. Ons moet ons oë heeltemal wegdraai van onsself af, dit ook nie wiskundig probeer bereken om te verstaan nie, en slegs vir Jesus Christus, ons Here raaksien” (Johannes Calvyn).
Gebed: Vader, ek weet nie altyd lekker hoe U somme werk nie. Dit maak nie sin nie. Tog kan ek nie anders as om dit net so te aanvaar nie. Sonder U somme maak my somme vir seker nie sin nie. Dankie vir U somme! Amen.
Bình luận