Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 3 hours ago
- 4 min read
Maandag, 26 Januarie 2026
Koos Espach
Die verlossing van die heidennasies (6)
Bly in Christus
Rom. 11:16b-17 – “En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy. 17Party van die takke is uitgekap en jy, ‘n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel.”
Vergelyk ook Joh. 15:1-6a – “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog.”
Paulus praat steeds met die gelowiges uit die heidennasies. Sy simboliese beeld van ‘n boom, om ‘n geestelike waarheid te verduidelik, laat die vraag ontstaan of dit normale gebruik is dat “takke van ‘n wilde olyf, tussen die ander takke op die mak olyf geënt” word? In hierdie geval, moet ons besef, God “boer” anders! Hy het uit genade, ons bygevoeg by sy verbond met Abraham, ons word “gedra deur die wortel”. Jesus het hierdie waarheid ook bekend gemaak tydens sy afskeidsgesprek met sy dissipels die aand van sy inhegtenisname. Daar, tussen druiwewingerde, het Hy ‘n beeld van druiweboerdery gebruik om die verhouding tussen die wingerdboer (God), wingerdstok (Jesus) en lote (hulle/ons), te verduidelik (Joh. 15:1-8).
Aan die “lote” word besondere aandag bestee sodat hulle aan hulle doel om vrug te dra, voldoen. Ons moet die vrugte van die ware wingerdstok dra, en daardie vrugte bestaan in die godvrugtige lewe wat in deug en goeie werke tot uiting kom (Gal. 5:22). God sal alles wat hiermee wil probeer inmeng, wegsny en uitsnoei! Hy spandeer baie tyd om deur sy “wingerd” te stap, onkruid uit te trek en elke loot te inspekteer om seker te maak hy gaan vrugte dra. Al die “lote” wat die vermoë het om vrug te dra maar wat dalk afgeval het en in die grond of modder lê, tel Hy liefdevol op, snoei dit reg, verander sy posisie en plaas hom in ‘n plekkie in waar hy genoeg son kan kry, weer kan rank en vrugdra. Die skewe lote sal Hy ook reg snoei en dophou om te sien of hulle gaan vrug dra.
God se snoeiskêr is sy Woord en “ons is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Jesus vir ons gesê het.” Soms maak God se “snoeiskêr” seer maar dit bring groeikrag! Dit versterk ons geloof en karakter en gee aan ons die ruimte om geestelik te groei. En wanneer die lote begin vrug dra, snoei God hulle nog beter om nog meer en beter vrugte te dra. Die waterlote wat groeikrag uit die wingerd tap, word summier afgesny en word sommer daar op die grond gelos om later opgetel te word en aan die brand te steek. Hulle is buitendien waardeloos en kan vir niks gebruik word nie. Ons Groot Tuinier, sny al die oortollige en onvrugbare lote af – al die slegte gewoontes en gedagtes verwyder Hy sodat die oorblywende lote vrugbaar kan wees en ‘n ryke oes in sy koninkryk sal verseker.
Die noodsaaklikheid van hierdie innige verbondenheid met Christus word verder toegelig deur ’n loot wat nie los van die wingerdstok vrugte kan dra nie, dit moet aan die wingerdstok verbind bly. Dieselfde is waar op geestelike gebied: ons gelowiges se lewe is vrugteloos as die band met Christus nie gehandhaaf word nie. Die lewe in die lote is die sap uit die wingerdstok, en die vrug van die lote is ook die vrug van die wingerdstok. Waar die wederkerige verbondenheid van “in My bly en Ek in hom” gehandhaaf word, is die moontlikheid geskep om baie vrugte te dra. Maar as hierdie band verbreek word, kan die mens (die loot) nie voortbestaan nie en “word hy weggegooi en hy verdroog.”
Soos Christus in God is: dit is die getuienis van die hemel. Soos die loot in die wingerdstok is: dit is die getuienis van die natuur. Dus roep die wet van die hemel en die wet van die aarde met een stem na ons uit: “Julle moet in Christus bly. Wie in Hom bly, dra baie vrugte.” Hierdie boodskap word elke dag aan elke kind van God verkondig. Ek en jy moet toelaat dat die Heilige Gees ons daaraan herinner. En wanneer ons verkeerd optree, onthou dat God sy snoeiskêr kan gebruik om die “dooie” lote af te knip en reg te snoei. Eina, dit maak seer maar die eindresultaat sal beter wees, want God wil seker maak dat “ook die takke aan Hom gewy” bly en nie verander nie.
“Mense verstaan net soveel van God se liefde en genade as wat hulle in óns, “reg gesnoeide lote”, se lewe sien. Dít is die eerste Bybel wat baie mense dalk lees!” (Rebecca Pippert).
Gebed: Dankie Here dat U my vreugde skenk. Saai my lewe in U hemelse landerye sodat ek ‘n ryke oes in U koninkryk en tot U eer, hier op aarde kan wees. Snoei my reg sodat ek die vrugte van die ware wingerdstok kan dra. Laat my vrugte dra wat U plesier gee en U daarin verheerlik word. Amen.



Comments