Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 3 days ago
- 4 min read
Vrydag, 23 Januarie 2026
Koos Espach
Die verlossing van die heidennasies (5)
Sterf aan die self
Rom. 11:16b-18 – “En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy. 17Party van die takke is uitgekap en jy, ‘n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel. 18Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou.”
Paulus worstel steeds met die krisis dat die heidene nou die “kerkbanke” volsit, terwyl Christus eintlik Israel se Messias is (Rom. 9:1-5). Sy konklusie is dat die Jode, Christus sélf verwerp het en glad nie meer Israel in die ware sin van die woord is nie. Hulle is die “takke wat van die mak olyfboom” (die ware Israel, die Ou Volk van die Ou Testament) afgebreek is, terwyl die heidene wat tot geloof in Christus gekom het, takke is wat van ‘n “wilde olyfboom afgebreek is en op die mak olyf geënt is.”
Dis merkwaardig dat Paulus dadelik hierdie prioriteit van Israel beklemtoon. Dat die gelowige heidene nou deel van die “mak olyfboom” God se volk vorm, is egter geen rede tot selfverheffing nie. “Dit is nie die gelowige heidene wat die wortel (Israel) dra nie, die wortel dra hulle.” Hulle moet dus dankbaar en nederig teenoor Israel wees en het niks om hulle oor te verbeel nie. Hulle moenie dink hulle is nou God se nuwe witbroodjies nie.
Paulus se bedoeling is duidelik: sowel die eerste stuk deeg (v. 16), as die “wortel van die boom”, het betrekking op die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob wat aan Hom gewy is. In beginsel, sluit dit die hele nageslag van Abraham (die takke) in. God is regverdig, Hy skort nie sy beloftes op nie – die nageslag van Abraham sal beslis ontvang wat God aan Abraham belowe het! Wat aan God behoort, skryf Hy nie maklik af nie!
Paulus waarsku inderwaarheid die heidene wat tot geloof gekom het, teen selfverheffing. Die moontlike rede is dat hy dalk gerugte kon hoor van wrywing in dié verband en daarom die nie-Joodse deel van sy lesers daarop wys dat dit eintlik deur die goedheid van God is dat hulle “op die mak olyf geënt” is. Nou ja, oor selfverheffing kan ons huidige geslag gelowiges baie praat – dit is so eie aan die mens as wat pronk aan ‘n pou is. Andrew Murray het gesê die rede dat dit moeilik is om die self te oorwin, is omdat die mens geneig is om vas te klou aan ongeduld en weier om nederig te wees.
En die basiese oorsaak: Ons mense soek nie die eenvoud van geloof waardeur dié wat Christus aangeneem het, onmiddelik ontvang het waarvoor hulle gevra het nie. Ons probeer eerder om hierdie deugde van nederigheid en sagmoedigheid te bekom deur menigte menslike reëls en metodes te vind. Iemand het gevra: “Wat dink jy van jouself voor God?” En sy antwoord: “Jesus is die antwoord! Hy nooi almal uit: ‘Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee’ (Matt. 11:28). Dié wat Christus aangeneem het, het ‘n weg tot vrede en rus. Hy is die vervolmaking van geduld, nederigheid en oorgawe tot God. Om deur hierdie deugde beheer te word, sterf jy aan die self!”
Jesus nooi elkeen uit om rus by Hom te kom vind. Jesus wat die volmaakte rus aanbied, gebruik die uitnodigingswoorde wat die enigste keer in die Nuwe Testament gebruik word: “Kom na My toe …” Kom weg van die frustrasie en chaos van die wêreld; kom weg van die moets en moenies van die slim en geleerde mense, en kom vind rus in Hom – “Sy juk is sag en sy las is lig.” Kom ons plaas ons vertroue in Iemand buite onsself, Iemand wie ons kan vertrou, Iemand wat die boodskap van Waarheid is. Sy Naam is Jesus Christus!
Hy nooi ons uit om onvoorwaardelik te kom en rus midde-in ons daaglikse lewe, te aanvaar en te beleef. Hierdie soort rus is nie sommer om net ‘n naweek weg te breek of om met vakansie te gaan nie. Nee, die rus wat Jesus bied is nie van gunstige omstandighede afhanklik nie, dis ‘n permanente rus, ‘n rus van kalmte en innerlike vrede. Hoe kom ek en jy daar, of liewer, wíl ons régtig daar kom? Ek dink van al die vrae in die gang van ons lewe, is hierdie vraag die héél belangrikste!
En dit is miskien die rede waarom mense nie wil besluit om Hom te volg nie. Hulle sien nie kans om aan die self te sterf nie, om die ou natuur af te lê nie. Die prys is net te hoog. Dit ontneem hulle van die reg op plesier, die lekker en goeie dinge wat die wêreld bied, die reg op hulle eie wil, hulle eie tyd. Jesus staan met uitgestrekte arms voor my en jou, en met onoorwinlike en onuitputlike geduld, nooi Hy ons liefdevol uit. Al wat ek en jy moet doen, is om Jesus te vertrou en sy uitnodiging ernstig op te neem, alles van ons ou natuurlike lewe oorboord te gooi en in ons sondige self te sterf. Hy wag vir ons om Here te word van ons wil, ons verstand, al ons bedoelinge en besluite. Ons moenie uitstel nie, dis dalk net te laat!
“Totdat ‘n mens niks is nie, kan God niks met hom doen nie” (Martin Luther).
Gebed: Almagtige Vader, ek vra in diepe afhanklikheid dat U die trots uit my hart sal weer; dat U die illusie dat ek iets is sonder U, sal wegneem. Herinner my gedurig dat U my gemaak het wat ek is. Leer my die grense van my vermoëns, sodat ek in Ú my krag sal soek, en in die self sal sterf. Amen.



Comments