Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 22 hours ago
- 4 min read
Woensdag, 21 Januarie 2026
Koos Espach
Die verlossing van die heidennasies (4)
Volg die regte dieet
Rom. 11:16 – “As die eerste stuk deeg aan God gewy is, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy.”
Paulus verwag ‘n groter deel van Israel se terugkeer tot God as wat die “oorblyfsel” wil toegee, daarom gebruik hy ‘n beeld van die eerste meel van die nuwe oes wat aangewend moes word om ‘n ringbrood te bak, dit na die heiligdom te bring en sodoende, die hele oes te heilig (Num. 15:17-21). Deur hierdie handeling wil Paulus demonstreer dat die klein groepie gelowige Christene vanuit die heidennasies, ‘n heilige invloed oor die ganse ongelowige volk sal uitstraal, sodat meer van hulle tot bekering sal kom.
Wat het dit met ons te doen? ‘n Klein bietjie suurdeeg kan ‘n hele baksel meel deursuur om genoeg brood te voorsien aan jou gesin en familie. Maar wat van die res van jou geestelike familie? Jesus vertel ‘n gelykenis in Matteus 13:33 – “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was." Die koninkryk is reeds teenwoordig in die hede, maar in 'n vorm wat dit betekenisloos kan laat lyk. Dit sal egter groei soos die suurdeeg gegroei het tot ‘n hele baksel brood.
Dit wat ek en jy kan doen, lyk miskien onbeduidend! Maar dit is nie die punt nie - die punt is dat ons God se koninkryk verteenwoordig met dit wat ons doen, daarom moet ons doen wat ons hand vind om te doen. Die groei lê nie in ons hande nie maar die potensiaal tot groei is opgesluit in 'n bietjie “suurdeeg”, in jou en my se geringe daad van liefde en omgee om sodoende God se koninkryk te laat uitbrei.
Van geboorte af soek die mens na iets wat hom versadig moet maak en in werklikheid hou daardie behoefte vir kos aan tot jy sterf. Mense volg dan ook verskillende diëte om die maag vol te maak en baie mense sien hulself as eksperte wanneer die “beste” dieet vir die mens voorgestel word. Twee van die beste verkopers in enige boekwinkel, is kookboeke én dieet boeke! Kookboeke vertel hoe om kos te maak en dieet boeke, hoe om dit nie te eet nie!
Watter dieet is die beste om die honger van die lewe te stil? Maak nie saak wat jy eet of drink of doen nie, tevredenheid ontwyk ons – behalwe as jy Jesus ernstig opneem wat sê: “Ek is die Brood van die Lewe.” Ongelukkig word eers al die ander “dieetkundiges” se raad gevolg. Die beste dieet wat hulle voorskryf is eerstens godsdiens. Die bestanddele wat benodig word om die beste godsdiens-honger te stil is gereelde Kerk besoek; Sondagskool bywoon; Bybel lees; finansiële bydraes maak; barmhartigheidsdiens en mooi luister na die prediker. Die probleem met die godsdiens-dieet is, dit is nie vir almal vullend nie. Terwyl jy daarmee besig is, voel jy goed, maar sodra dit klaar is, is die honger terug en jy soek iets anders om jou te voed.
Die tweede dieet volgens die kundiges, is die kerk. Die regte gemeente kan met smaak ‘n wonderlike dis voorsit om enige honger te stil. Terwyl jy daar besig is om jou te vul, laat die atmosfeer by die kerk jou kompleet voel of jy in die spreekwoordelike hemel is. Die fynskrif van hierdie dieet word egter nie gelees nie – die “voedsel” is so lekker dat jy jou kan ooreet. Die nadeel daarvan is dat ‘n versadigde eter kies wat hy wil eet – dit wat vir hom belangrik is eet hy en die res los hy uit. Daar is baie kerke vol honger mense wat maak asof hulle versadig is.
Dan is daar ander in die gemeente wat niks kan eet nie want die kos op die spyskaart is nie na hul smaak nie – dis te lank, te kort, te formeel, te informeel, te hard, te sag, te duur, alweer oor geld, die musiek by die voorgereg is nie smaakvol nie! Selfs die dagstukkies is ‘te lank’, ons sal lees wanneer ons tyd kry. Meer tyd om die braaivleisvuur is beter as ‘n hele week se verhouding met God. Die Bybel en kerk word "geëet" asof dit niks is nie en asof niks gebeur nie! Mense moet gesmeek word om tog in hul besige programme 'n tydjie af te knyp om die Here ‘n plekkie te gee in hul harte – ons kan nie, ons is te besig om ons knuppeldik te eet aan ons eie dieet!
Die beste en beslis die regte “dieet” om versadig te raak, is om weg te doen met spyskaarte wat ons self opstel, “wy die eerste stuk deeg aan God, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy.” Die lewe se moedelose hongerpyne word weggeneem deur, geestelik gesproke, aan en van Jesus te eet. Hy het self gesê: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie” (Joh. 6:35). Om honger te bly vir Jesus Christus ondervind ons hoe ons vreugde in die Here toeneem, en “die res van die deeg word aan Hom gewy.” Ons kan gerus Jesus se uitnodiging aanvaar. Ons sal dom wees as ons dit weier. Ons moenie self probeer betaal deur ons eie slim plannetjies te maak en later agter te kom dat dit wat ons gekoop het, nie die “brood” is wat ons verwag het nie, dat dit nie versadig nie!
“Wanneer jy by Jesus se feesmaal aansit, vereer Hy jou met sy permanente teenwoordigheid. Hy gee dan aan jou die grootste gawe denkbaar: die ewige lewe” (Prof. Stephan Joubert).
Gebed: Here, ek vertrou U as die brood van my lewe - kom voed my! Help my om U as Lewende Brood, ook met ander hongeriges te deel, hulle te vertel dat U die regte “dieet” is wat hulle hongerte kan stil. Amen.



Comments