top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 7 hours ago
  • 4 min read

Maandag, 19 Januarie 2026

Koos Espach


Die verlossing van die heidennasies (3)


Aanneming deur God beteken niks minder as lewe uit die dood

 

Rom. 11:13-16 – “En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. Aangesien ek die apostel vir die heidennasies is, strewe ek in my bediening daarna 14om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige van hulle te red. 15As hulle verwerping vir die wêreld versoening beteken het, wat sal hulle aanneming dan nie beteken nie? Niks minder nie as lewe uit die dood.”

 

Vergelyk ook Hand. 11:19-21 – “Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net Jode verkondig nie. 20Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het. 21Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.”

 

Paulus, wie deur God se genade geroep is om apostel te wees onder die heidennasies (Rom. 1:5), wend hom nou broederlik na die klompie “gelowiges uit die heidennasies” van die  Romeins-Christen gemeente, oor hulle gesindheid teenoor die Jode. As God vir die Israeliete ‘n toekoms het, mag hulle Israel nie afskryf of verag nie. Selfs hy koester die vurige hoop dat God ook deur sy “bediening op een of ander manier sy eie mense jaloers sal maak en sommige van hulle sal red.” Trouens, Paulus verklaar hom hier één met God se heilsplan teenoor alle volke. Daarom mag ons ook nie Israel afskryf of verag nie – nog beter, ons mag niemand verag of afskryf nie.

 

Hierdie vurige hoop wat Paulus gekoester het om sy mense jaloers te maak met sy bediening aan nie-Jode, was maar net een van sy merkwaardige insigte wat hy ontwikkel het, om ons deel van ons geloof in Jesus Christus te maak. ‘n Mens kan jou nie voorstel hoe die Christelike geloof sou gelyk het sonder Paulus se bydrae nie. Daarom was dit sy diepste hartsbegeerte tot die einde van sy lewe dat sy volk, Israel, gered sal word – “Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees” (Rom. 9:3) asook “My hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered sal word” (Rom. 10:1). 

 

Merkwaardig hoe sy lewe verander het. Saulus wat later Paulus word, is die ou by wie ons so baie leer, by wie se voete ons jare lank sit om te leer van Jesus en hoe ons vandag moet lewe. In skrille kontras met sy optrede hier, was dié man ook Saulus wat die moord op Stefanus goedgekeur het (Hand. 8:1), Christene tot in hulle huise vervolg het, mans en vroue, laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit het. Die groeiende gemeente vlug uit Jerusalem en word verstrooi deur die gebiede van Judea en Samaria. Maar, die Jode se verwerping deur God het tot gevolg gehad dat die verhouding tussen God en die gelowiges uit die hele nie-Joodse wêreld, werklikheid geword het. 

 

Dit is vir die kerk van die Here belangrik om byvoorbaat te besef dat ons die skyf van die haat van die wêreld is. Deur al die eeue heen gebruik ongelowiges verskeie metodes om te probeer om die kerk van Jesus Christus te vernietig. Gelowiges is gemartel, doodgemaak, en die mense wat dit doen het dit met ‘n, volgens hulle, skoon gewete gedoen want hulle het “gedink dat hulle ‘n diens aan God bewys” (Joh. 16:2). 

 

Die stryd is nog steeds nie verby nie. Satan is oorwin maar hy het nog nie die stryd gewonne gegee nie. “Wanneer vervolging aanbreek, moet ons daaraan dink dat Jesus dit vir ons gesê het.” (Joh. 16:4). God se plan het egter nie ontspoor of iets het verkeerd gegaan nie, dit het immers met Jesus gebeur, daarom sal ons gelowiges nie vryspring nie. As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kán ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As ons doel is om te getuig vir Christus, moet ons gewillig wees om soos Hy, verwerping te waag. Mense kan ons teleurstel, beledig, valslik beskuldig, ons motiewe verkeerd verstaan en verag, “vervolg” en selfs doodmaak. Ons Verlosser het immers nie toegelaat dat lyding Hom verhoed om deur God gebruik te word sodat elkeen wat Hy liefhet, te red nie.

 

Wanneer ons swaarkry terwyl ons dissipels van Jesus wil wees en soms wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie, is dit nodig om stil te raak en na te dink oor die prys wat God gewillig was om te betaal om ons te red! Ons vervolgers kan maar alles in die stryd werp om te steel en te verower, hulle sal nooit slaag om die hemel van die gelowiges-in-Christus, weg te neem nie. “Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (Rom. 8:17b). Ons aanneming deur God met die kruisdood van Jesus, het ‘n geweldige betekenis, naamlik “niks minder as lewe uit die dood!” Prys die Here!

 

“Jesus het vir ons gelowiges drie uiteenlopende beloftes nagelaat: Ons sal heeltemal vreesloos wees, onbegryplik gelukkig, en altyd in die moeilikheid by mense wat anders dink” (TR Glover).

 

Gebed: Ons dierbare Vader, wanneer ek swaarkry hoor ek U stem duideliker. Dit is dan wanneer ek dink aan my opregtheid van my persoonlike toewyding aan U. Help my om myself te verloën en my kruis op te neem, positief op my swaarkry te reageer en nie moedeloos te raak nie. Dankie Here vir die versekering: my aanneming deur U het ‘n geweldige betekenis, naamlik “niks minder as lewe uit die dood!” Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page